2024-04-04
Jakobus 1:22 NLV
‘n Pastoor skryf: ‘Die Latynse woord vir ‘luister’ is waarvandaan ons die woord oudit kry. Wanneer jy ‘n klas oudit, neem jy baie informasie in, maar jy doen niks daarmee nie. Jy doen nie die huiswerk nie. Jy skryf nie die toetse nie. Jy kry ook nie enige krediet daarvoor nie. Dieselfde is van ons geestelike lewens waar. Jy kry nie krediet wanneer jy die Skrif oudit nie. Jy moet dit in die praktyk toepas. Ons tref in die Westerse wêreld ‘n onderskeid tussen weet en doen. Daar was egter nie so ‘n onderskeiding in die antieke Joodse denkwyse nie. Om te weet was om te doen en om te doen was om te weet. As jy dit nie doen nie, ken jy dit nie werklik nie. Kennis is nie genoeg nie. Die waarheid moet met jou optrede vertaal word.’
Jakobus skryf: ‘Julle moet mense word wat dóén wat die woord sê. Moet dit nie net aanhoor nie, dan bedrieg julle julleself… As jy altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is dit so goed of jy kyk na jou gesig in die spieël sonder om iets aan jou voorkoms te doen. Jy bekyk jouself, gee pad, en vergeet wat jy gesien het. As jy jou egter verdiep in God se volmaakte wet – dié wet wat ‘n mens vrymaak – en jy dóén wat die wet sê en jy vergeet nie wat jy gehoor het nie, dan kan jy God se seën verwag op wat jy doen’ (verse 22-25 NLV).
God seën jou nie as gevolg van wat jy weet nie, maar oor dit wat jy doen met dit wat jy weet. Elke keer as jy dus ‘n vers teëkom wat vir jou sê om iets te doen, oefen dit daardie dag uit.
Sielskos: Jer 22-24; Mark 1:1-8; Ps 6; Spr 8:32-33
2024-04-03
Johannes 5:30 NLV
Jesus het slegs die dinge wat sy Vader in sy gedagtes geplaas het, gedoen. Hy wil hê dat jy op dieselfde manier moet lewe. Jy vra: ‘Is dit moontlik om so te lewe?’ Ja, dis nie net moontlik nie, maar dis noodsaaklik om sodoende God se wil vir jou lewe te vervul.
Die Bybel sê dat Maria die tyd geneem het om na Jesus te luister, maar haar suster Marta nie, omdat sy te besig was om te bedien (sien Lukas 10:40). Jy kan so besig raak om die Here te dien dat jy jou sensitiwiteit vir sy stem verloor en met minder belangrike dinge besig raak. Jy leer om van God te hoor, deur tyd te maak om van Hom te hoor! Jesus het vyftien keer in die Nuwe Testament gesê: ‘Elkeen wat kan hoor, moet luister.’
Wanneer jy ‘n nuwe skepping in Christus word, kry jy nuwe geestelike ore, maar jy moet leer hoe om hulle te gebruik. Dit moet inderdaad een van die hoogste prioriteite in jou lewe word. ‘n Nuutgebore baba het die vermoë om te kan hoor, maar verstaan nie wat sy of hy hoor nie; om te verstaan neem tyd, onderrig, aandag en intimiteit met sy of haar ouers. Toe Jesus die twee dissipels na sy opstanding op die pad na Emmaus ontmoet het, het hulle Hom nie herken nie. Hy het hulle egter liefgehad, dus: ‘…het Hy hulle verstand geopen om… te verstaan’ (Lukas 24:45 NLV).
Soos jy oor jou lewe terugkyk, herken jy die tye wat God saam met jou gestap en met jou gepraat het, maar jy het Hom nie verstaan nie. Dis egter nie ‘n probleem nie. God is geduldig en sal saam met jou werk en jou ontwikkel.
Sielskos: Jer 18-21; Matt 28:16-20; Ps 69:19-36; Spr 8:30-31
2024-04-02
Romeine 1:20 NLV
Die Griekse woord wat in die Nuwe Testament as ‘dissipel’ vertaal word, beteken ‘leerder.’ Per definisie is ‘n dissipel iemand wat nooit ophou leer nie. Hy of sy maak die meeste van die honderd biljoen breinselle wat God vir hulle geleen het. Hulle hou aan vra, soek en klop (sien Matteus 7:7).
Leonardo da Vinci het ‘n notaboek oral saamgedra. Sommige mense skat dat hy veertien duisend bladsye aantekeninge aan die skilder Francesco Melzi in sy testament bemaak het. Amper sewe duisend bladsye van sy notas bestaan nog. Bill Gates het in 1994 agtien bladsye daarvan vir 30.8 miljoen dollars gekoop. Die krabbels op Da Vinci se servet het van anatomie tot plantkunde tot skilderkuns tot filosofie gewissel. Een ding wat hom buitengewoon gemaak het, is dat hy die meeste daarvan met ‘n tegniek, wat spieëlskryf genoem word, geskryf het. Hy het omgekeerd geskryf sodat die woorde slegs wanneer dit in ‘n spieël weerspieël word, gelees kon word.
In die finale dae voor sy dood op 2 Mei, 1519, het Leonardo verskoning vir God en die mensdom gevra omdat hy soveel ongedaan gelaat het. Hy het onderneem om tot sy sterfdag aan te hou leer. Selfs op sy sterfbed het Leonardo die aard en simptome van sy siekte waargeneem en dit in wetenskaplike besonderhede beskryf.
Moet dus nooit ophou leer nie, want dit verheerlik God wanneer jy dit vir die regte redes doen. Die regte rede is om Hom te leer ken, sodat jy Hom nog meer kan liefhê. Leef asof jy môre gaan sterf – maar hou aan leer asof jy vir ewig gaan lewe. Jy gaan dit immers as verloste kind van God, doen.
Sielskos: Jer 14-17; Matt 28:11-15; Ps 69:1-18; Spr 8:27-29
2024-04-01
Spreuke 25:2 NLV
Enigiets wat iets van ons Skepper openbaar, is iets waarin ons geïnteresseerd behoort te wees. Die Skrif, as die geskrewe openbaring van God, is in ‘n klas van sy eie. Wiskunde, kuns en wetenskap openbaar egter ook ‘n kenmerkende dimensie van God se persoonlikheid.
Die Bybel sê: ‘God het vir Salomo baie wysheid en onderskeiding gegee… Hy het 3,000 spreuke geskryf en 1,005 liedere gedig. Hy kon met gesag praat oor bome en plante, van die grootste seders van die Libanon tot die kleinste hisop wat uit die mure groei. Hy kon ook praat oor diere, voëls, reptiele en visse. Mense het van oral af gekom om na die wysheid van Salomo te luister. Al die konings van die wêreld wat van sy wysheid gehoor het, het gesante gestuur’ (1 Konings 4:29, 32-34 NLV). Salomo was in alles geïnteresseerd. Die breedte van sy kennis het hom so ‘n diepte van wysheid gegee dat: ‘…Al die konings van die wêreld wat van sy wysheid gehoor het… gesante gestuur [het].’
As Geesvervulde inwoners van God se koninkryk is ons nie geroep om die samelewing te vermy nie, maar om dit in te lig, te onderrig en dit te verlig. ‘Dit is God se reg om iets geheim te hou. Dit is konings se voorreg om uit te vind wat iets beteken.’ God hou daarvan as ons iets besef of iets nuuts teëkom, selfs al is ons ontdekkings algemene kennis. Is dit nie die normale reaksie van ‘n ouer wanneer hulle kind nuwe dinge ontdek nie? Wanneer jy aanhou om die regte vrae te vra, sal God aanhou om vir jou die regte antwoorde te gee.
Sielskos: Jer 10-13; Matt 28:9-10; Ps 38:13-22; Spr 8:24-26
2024-03-31
Matteus 28:15 NLV
Hier is nog twee bewyse van Christus se opstanding: 1) Niemand is gewillig om vir dit wat hulle weet ‘n leuen is, hul lewe prys te gee nie. Mense lê hul lewens neer vir dit waaraan hulle opreg glo. Die skrywer Paul E. Little het gesê: ‘Mense sal sterf vir dit wat hulle glo waar is, alhoewel dit eintlik vals mag wees. Hulle sterf egter nie vir wat hulle weet ‘n leuen is nie.’ Die feit dat daardie vroeë dissipels gewillig was om soveel lyding te verduur en hulle lewens prys te gee om die evangelie te verkondig, bewys dat hulle in Christus se opstanding geglo het. Dit maak die fondasies van die Christendom onwrikbaar. 2) Christus se vyande het ongelooflik baie moeite gedoen om die opstanding te weerlê. ‘Hulle [die leierpriesters] het toe saam met die familiehoofde beraadslaag. Hulle het vir die soldate ‘n groot som geld aangebied en vir hulle gesê: ‘Julle moet vir die mense vertel: ‘Sy dissipels het mooi in die nag gekom terwyl ons aan die slaap was, en sy liggaam gesteel.’ As die goewerneur hiervan hoor, sal ons hom gerusstel. Ons sal sorg dat julle julle nie hoef te kwel nie.’ Die wagte het toe die geld gevat en gedoen soos aan hulle voorgesê is…’ (verse 12-15 NLV). Die Joodse leiers het alles in hul vermoë gedoen om die waarheid van die opstanding te verdoesel, om sodoende te keer dat nog meer mense hulle tot Hom bekeer. Hulle sou dit egter nie gedoen het indien die opstanding nie werklik plaasgevind het nie. Hulle plan het egter misluk en dit misluk steeds, omdat Jesus lewe!
Sielskos: 1 Kor 15; Matt 28:1-8; Luk 24:1-12
2024-03-30
1 Korintiërs 15:12 NLV
Hier is nog drie bewyse wat enige oopkop soeker na die waarheid in verband met Christus se fisiese opstanding uit die dood, sal oortuig:
1) Die Christelike sakramente. Die Christelike sakramente, die doop en die nagmaal, is tekens wat God se beloftes van goedheid en genade teenoor ons in Christus beseël. Dit dui op die dood en lyding van Christus asook op sy opstanding en krag.
2) Christelike kuns. Daar is eeue oue geëtste tekeninge van die opstanding van Christus op die mure van die katakombes in Rome ontdek, wat die oortuigings van die vroegste Christene weerspieël.
3) Die Christelike kerk. Oorweeg die onmiskenbare feit van die Christelike kerk. Die Christelike kerk is die grootste instelling wat nog ooit in die wêreld se geskiedenis bestaan het. Dis vyf keer groter as die Romeinse Ryk toe dit op sy grootste was. Meer as twee biljoen mense erken vandag Jesus Christus as die lewende en opgestane Seun van God. Hoe het so ‘n instelling tot stand gekom en staande gebly? ‘n Instelling die grootte van die Christelike kerk sou nie as gevolg van ‘n gebeurtenis wat nie waar was nie, ontstaan het nie. Geskiedkundiges bevestig dat die Christelike kerk al die pad na Jerusalem in die tyd van die dood en opstanding van Christus, teruggespoor kan word. Ons kan dus in waarheid sê: ‘Christus het waarlik opgestaan!’
Sielskos: Eks 12:1-14; Matt 27:57-66; Ps 49:1-15; Deut 21:22-23