Doen die Woord
2024-04-04Jakobus 1:22 NLV
‘n Pastoor skryf: ‘Die Latynse woord vir ‘luister’ is waarvandaan ons die woord oudit kry. Wanneer jy ‘n klas oudit, neem jy baie informasie in, maar jy doen niks daarmee nie. Jy doen nie die huiswerk nie. Jy skryf nie die toetse nie. Jy kry ook nie enige krediet daarvoor nie. Dieselfde is van ons geestelike lewens waar. Jy kry nie krediet wanneer jy die Skrif oudit nie. Jy moet dit in die praktyk toepas. Ons tref in die Westerse wêreld ‘n onderskeid tussen weet en doen. Daar was egter nie so ‘n onderskeiding in die antieke Joodse denkwyse nie. Om te weet was om te doen en om te doen was om te weet. As jy dit nie doen nie, ken jy dit nie werklik nie. Kennis is nie genoeg nie. Die waarheid moet met jou optrede vertaal word.’
Jakobus skryf: ‘Julle moet mense word wat dóén wat die woord sê. Moet dit nie net aanhoor nie, dan bedrieg julle julleself… As jy altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is dit so goed of jy kyk na jou gesig in die spieël sonder om iets aan jou voorkoms te doen. Jy bekyk jouself, gee pad, en vergeet wat jy gesien het. As jy jou egter verdiep in God se volmaakte wet – dié wet wat ‘n mens vrymaak – en jy dóén wat die wet sê en jy vergeet nie wat jy gehoor het nie, dan kan jy God se seën verwag op wat jy doen’ (verse 22-25 NLV).
God seën jou nie as gevolg van wat jy weet nie, maar oor dit wat jy doen met dit wat jy weet. Elke keer as jy dus ‘n vers teëkom wat vir jou sê om iets te doen, oefen dit daardie dag uit.
Sielskos: Jer 22-24; Mark 1:1-8; Ps 6; Spr 8:32-33