2024-03-29
1 Korintiërs 15:4 NLV
Vertrou die feit dat Jesus uit die dood opgestaan het! Hier is twee bewyse daarvan:
1) Die dag van die Here. Vir duisende jare lank het die Hebreeuse mense die Sabbat op die sewende dag van die week gevier. Later, het ‘n groep vroeë Christene die Sabbatsdag na die eerste dag verander! Hoekom sou hulle ‘n tradisie waaraan hulle so lank standvastig vasgehou het, verander? As gevolg van die opstanding van Christus wat op die eerste dag van die week plaasgevind het, sy verskyning aan die dissipels op die eerste dag van die week en die uitstorting van sy Gees op die kerk, ook op die eerste dag van die week.
2) Die viering van Paasfees. Paasfees het die plek van die Joodse Pasga ingeneem. Hoekom het die Jode, wat die Pasga as die belangrikste gebeurtenis in hul nasie se geskiedenis gesien het, dit prysgegee om eerder Paasfees, wat die belangrikste fees onder Christene is, te vier? Tydens Paasfees groet mense mekaar met: ‘Christus het opgestaan!’ en antwoord mekaar: ‘Christus het waarlik opgestaan!’ Hierdie Paasfeesvieringe kan tot by die vroeë Christene, wat dit na Jesus se opstanding begin vier het, teruggespoor word.
Paulus skryf: ‘Die kern van die boodskap wat ek destyds aan julle deurgegee het… was dat Christus, soos in die Skrif staan, vir ons sondes gesterf het. Ook dat Hy begrawe is en God Hom op die derde dag opgewek het, soos in die Skrif staan… Daarna het Hy aan meer as 500 van sy volgelinge tegelyk verskyn…’ (1 Korintiërs 15:3-4, 6 NLV).
Sielskos: Gen 22:1-18; Matt 27:32-56; Ps 22; Jes 53
2024-03-28
Spreuke 5:17 DB
Hoe langer julle verbintenis as ‘n paartjie is, hoe meer vreugde en pyn het julle al ervaar. Soms is julle nader aan mekaar as ander tye, soos die omstandighede van die lewe verander. As jy egter die begin van die verhouding met die nodige omsigtigheid benader het, duidelik was oor wat jy in ‘n maat wil hê en eerlik geëvalueer het wie daardie persoon is, sal die herinnering oor wat julle twee in die eerste plek bymekaar gebring het, julle verhouding laat hou. Wat jy aanvanklik van hierdie persoon geniet en waardeer het, het heel waarskynlik nie verander nie.
Soos julle verhouding egter ontwikkel, moet julle daaraan werk om nader aan mekaar te groei. Alle verhoudings het areas van groei wat snoei en bemesting vereis. As jy voel dat julle verhouding nie meer is soos dit was nie, mag dit wees dat dit besig is om in iets anders te ontwikkel. Dit kan ook wees dat jy jou toewyding aan die verhouding moet vernuwe om dit vars te hou en vorentoe te beweeg. Dit mag dalk wees dat jy daaraan moet werk om die intimiteit te skep wat ontbreek of die liefde wat julle eens gehad het, moet geniet.
Die grondbeginsels van jou maat sal nie sommer verander nie. Die basis van jou verhouding is wat belangrik is. Om daarop te fokus maak dit makliker om met die onvermydelike op en af van die daaglikse lewe saam te gaan. Dus, het julle meer tyd saam met mekaar nodig? Wanneer jy te besig is om te luister, om regtig te luister, dink jou maat dat jy nie vir hom of haar omgee of julle verhouding genoeg waardeer nie. Dink daaroor: Wat sou jy doen as jou kar gaan staan het? Jy sou die tyd neem en die prys betaal om dit te laat herstel!
Sielskos: Jer 7-9; Matt 27:20-31; Ps 38:1-12; Spr 8:22-23
2024-03-27
Matteus 6:6 NLV
Jesus het gesê: Wanneer jy bid, gaan na die stilste vertrek in die huis en maak die deur agter jou toe sodat jy daar in jou alleenheid tot jou Vader kan bid. En jou Vader wat alles weet, sal jou beloon’ (vers 6 NLV). Die Christelike lewe kan met die tabernakel in die Ou Testament, wat in drie kompartemente verdeel was, vergelyk word. Daar was die voorhof waartoe almal toegang gehad het. Jy het ook ‘n voorhof; die plek waar jy werk, inkopies doen en speel. Dit verteenwoordig jou uitwaardse voorkoms of publieke persona; die deel van jou wat almal sien.
Die tabernakel het ook ‘n innerlike kamer genaamd die Heiligdom gehad, waar meeste mense nie toegelaat is nie. Jy het ook ‘n Heiligdom wat aangewese persone soos nabye familie en vriende mag binnegaan. Jy besluit wie mag ingaan en wie nie en niemand kan hulle weg inforseer nie. Sekere mense mag beroepsgewys of finansieel gesag oor jou hê, maar dit laat hulle nie outomaties toegang toe nie. Wanneer dit by daardie binnekamer kom, besluit jy wie kom en gaan.
Die derde kompartement in die Ou Testamentiese tabernakel was die Allerheiligste, ‘n klein, versigtig bewaakte plek diep aan die binnekant. Dit kon net deur die Hoëpriester binnegegaan word en daar was net plek vir een persoon en vir God. Jy het ook so ‘n plek binne-in jou. Ons verwys soms daarna as die ‘geheime plek,’ omdat net God daar toegelaat word. Hier is ‘n waarheid wat jy moet weet: Jou vlak van vrede, vreugde, tevredenheid, leiding en oorwinning word deur die hoeveelheid tyd wat jy met God in jou geheime plek bestee, gereguleer. Prioritiseer dit, beskerm dit en bring elke dag tyd daar deur.
Sielskos: Jer 4-6; Matt 27:11-19; Ps 55:12-23; Spr 8:19-21
2024-03-26
Genesis 5:24 NLV
Het die mense in die Skrif wat naby aan God geleef het, ooit gestruikel? Hulle het. Het hulle ooit die pad byster geraak? Ja. Wanneer hulle voete egter elke oggend die grond getref het, was hulle toegewyd daaraan om dwarsdeur die dag saam met God te stap. Hulle het krag uit sy krag geput, daarna gestrewe om sy wil te doen en die doelwit probeer bereik wat Hy vir hulle gestel het.
Paulus skryf: ‘…Laat julle roeping julle leefstyl bepaal’ (Efesiërs 4:1 NLV). Dit beteken dat jy moet weet in watter rigting God jou lei en in pas met Hom moet bly. Wanneer Hy optree, moet jy optree. Wanneer Hy stilstaan, moet jy stilstaan. As gelowige moet jou lewe nie in dit wat heilig en dit wat sekulêr is, gedeel wees nie. Die Bybel sê: ‘Dis tog juis deur Hóm dat ons leef, beweeg en bestaan…’ (Handelinge 17:28 NLV). Jy kan nie sê: ‘In hierdie situasie beweeg ek op my eie stoom, maar in daardie situasie beweeg ek volgens die Heilige Gees binne-in my,’ nie. Die Heilige Gees kom en gaan nie in jou lewe nie; Hy is altyd by jou!
Hier is ‘n Skrifgedeelte waaroor jy moet dink: ‘U is waardig, Here ons God, om die hemelse heerlikheid en die eer en die mag te ontvang omdat U alle dinge geskape het; deur u wil is alles wat bestaan, geskape’ (Openbaring 4:11 NLV). Wat ‘n wonderlike gedagte: Jy is geskape om God te behaag! Een van die belangrikste vrae wat jy dus – gereeld – vir jouself kan afvra is: ‘Here, behaag my doen en late U?’ (sien Spreuke 13:5-6). Wanneer jy dit doen, sal jy ontdek dat die rigting waarin Hy jou neem altyd die regte rigting is; sy tydsberekening is altyd die regte tydsberekening en die resultate wat jy kry, is altyd die regte resultate.
Sielskos: Jer 1-3; Matt 27:1-10; Ps 55:1-11; Spr 8:17-18
2024-03-25
2 Petrus 3:18 NLV
Toe Petrus genoeg geloof uitgeoefen het om uit die skuit te klim en op die water te loop, het hy gesink en slegter as enige van die ander dissipels gelyk. Toe hy Jesus probeer verdedig het, het hy ‘n man se oor afgekap. Toe hy beloof het om lojaal te bly, het hy gefaal. Toe hy vir Jesus probeer raad gee het, was hy die duiwel se advokaat (sien Matteus 16:22-23). Uiteindelik het hy ‘n leier in die kerk geword. Sy gedrag het egter nie vir Jesus enigsins verras of ontmoedig nie. Hy sal nooit ophou om een van sy volgelinge wat opreg probeer groei, te help nie. Hy gee nooit op op ‘n student net omdat hy of sy misluk nie.
As jy byvoorbeeld nie mense gekonfronteer het wanneer jy moes nie, is die kans goed dat jy dit swak sal doen wanneer jy dit begin doen. As jy selde mense aangemoedig het, kan jou aanvanklike pogings lomp wees. As jy nog nooit jou geloof gedeel het nie, kan jy die eerste keer oor jou woorde struikel. Gaan voort en struikel! Mislukking gaan nie daaroor om te val nie; dit gaan daaroor om te weier om te probeer.
Een man het vir sy pastoor gesê: ‘As ek God was, sou ek my nie opgehou het met iemand soos ek nie.’ Die pastoor het geantwoord: ‘Wees dan bly dat jy nie God is nie en ek sal twee keer so bly wees – want ons altwee sou dan in die moeilikheid gewees het!’ Solank as wat jy na God soek, sal Hy met jou en in jou werk. Om in genade te groei beteken dat jy geestelik deur die fases van kind en tiener tot volwassenheid groei. Moet dus nie opgee nie – God sal nie!
Sielskos: Hos 11-14; Matt 26:57-75; Ps 13; Spr 8:14-16
2024-03-24
Matteus 6:2 DB
Jesus het gesê: ‘Wanneer julle besluit om goeie dinge vir ander mense te doen… Moenie ‘n openbare skouspel daarvan maak sodat ander julle kan raaksien nie. As julle op soek is na die applous van ander mense, skuld God julle niks meer nie. Dan het julle klaar julle beloning gekry… Net skynheilige mense doen dit. Hulle maak ‘n groot bohaai wanneer hulle die armes help sodat almal dit kan raaksien en mooi dinge oor hulle kan sê. Onthou: God skuld hulle nou niks meer nie… jou hemelse Vader sien wat jy vir ander doen. Hy sal wel sorg dat jy jou hemelse beloning kry’ (verse 1-4 DB).
Gee vrygewig en graag, maar hou dit vir jouself. Dis niemand se besigheid behalwe jou en God s’n nie. As jy dit iemand anders se besigheid maak, kry jy onmiddellik jou beloning en gee jy die geleentheid om iets groters te kry wanneer jy in die hemel aankom, prys. Jy sal jou beloning daar ontvang, want: ‘God… sal nie vergeet… hoe julle julle liefde vir Hom betuig het deurdat julle julle mede-Christene gedien het… nie’ (Hebreërs 6:10 NLV). Ander mense mag dalk nie jou vrygewigheid raaksien nie, of dit vinnig vergeet, maar God sal nie en Hy sal jou daarvoor beloon.
Die volgende keer as jy in die kerk sit, moet jy besef dat daar getroue mense oral om jou is wat gegee en weer gegee het, sonder om dit ooit bekend te maak. Jy mag dalk selfs een van hulle wees! Elke Sondag kom jy met van die grootste gewers in aanraking wat dit doen ‘…soos vir die Here…’ (Kolossense 3:23 NLKV), deur dit vir hulself te hou en op die Here se beloofde beloning te wag. Ander mense mag dalk nooit weet nie – maar God sal nooit vergeet nie.
Sielskos: Matt 21:1-16; Ps 118:19-29