2024-03-23
Matteus 16:16 NLV
Een van die oortuigendste bewyse dat die Bybel waarlik die Woord van God is, lê in die aantal profesieë wat gedurende Christus se lewe vervul is. Daniël het die koms van die enigste Joodse Messias voor die tempel se ondergang geprofeteer. Die Ou-Testamentiese profete het verklaar dat Hy in Betlehem (sien Miga 5:1-2) uit ‘n maagd gebore sou word (sien Jesaja 7:14), verraai sou word vir dertig stukke silwer (sien Sagaria 11:12-13), aan die kruis sou sterf (sien Psalm 22), en in ‘n ryk man se graf begrawe sou word (sien Jesaja 53:9).
Jesus het self voorspel dat Hy gekruisig sou word en drie dae later uit die dood sou opstaan. ‘Die Jode het daarop gereageer: ‘Oor watter wonderteken beskik jy om te bewys dat jy hierdie dinge mag doen?’ Jesus het hulle geantwoord: ‘Sloop hierdie tempel en in drie dae sal Ek dit weer oprig.’ Die Jode kap toe heftig terug: ‘Daar is vir 46 jaar lank aan hierdie tempel gebou, en jy sal dit binne drie dae weer oprig?’ Hy het egter oor die tempel van sy liggaam gepraat. Toe Hy eers uit die dood opgewek is, het sy dissipels onthou dat Hy dit gesê het en hulle het die Skrif en die woorde geglo wat Jesus gesê het’ (Johannes 2:18-22 NLV).
Napoleon Bonaparte het gesê: ‘Ek ken mense en ek sê vir julle dat Jesus Christus nie bloot ‘n mens was nie. Tussen Hom en elke ander persoon in die wêreld is daar geen moontlike vergelyking nie. Alexander, Caesar, Karel die Grote en ek het ryke gevestig. Waarop het ons skeppings egter berus? Geweld. Jesus Christus het sy ryk op liefde gegrond; en miljoene mense sal vir Hom sterf.’
Sielskos: Hos 6-10; Matt 26:47-56; Ps 116:12-19; Spr 8:10-13
2024-03-22
Galasiërs 5:22 NLV
Jy kan enige verhouding verryk en versterk deur die vrugte van die Gees te ontwikkel en uit te leef. Die Bybel sê dat ons deur die Gees gevul moet wees (sien Efesiërs 5:18), en deur die Gees gelei moet word (sien Galasiërs 5:16). Om met die Gees gevul te wees, beteken dat jy ‘n houer is, terwyl jy ‘n uitdeler is wanneer jy deur die Gees gelei word – ‘n houer wat God kan vul en in ander se lewens kan uitstort. ‘Wat is hierdie vrugte waarvan jy praat?’ vra jy. Die Bybel beskryf dit as volg: ‘Maar as die Gees ons lewe beheer, is die gevolg: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing…’ (Galasiërs 5:22-23 NLV).
Kom ons kyk noukeurig na hierdie nege verskillende karaktereienskappe. Die eerste drie – liefde, vreugde, vrede – is vrugte wat die atmosfeer verander. Soos jy jou aan die Heilige Gees oorgee, sal Hy ‘n nat kombers oor die onvriendelike woorde wat jy dalk wil sê, gooi. Hy sal ‘n vuur in jou hart bou wat warmte na ‘n koue atmosfeer en liefde na ‘n bitter, wraaksugtige atmosfeer, sal bring.
Die volgende drie vrugte – geduld, vriendelikheid, goedheid – is vrugte wat jou houding verander. Elkeen van ons het die potensiaal om ‘n slegte houding te hê. God laat ons soms deur moeilike situasies gaan om dit wat regtig binne ons is, te openbaar. Wanneer ons ons eie hulpeloosheid, swakheid en wanhoop sien, laat dit ons uitroep: ‘God, ek het U nodig!’
Die laaste drie vrugte – getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing – is eienskap-veranderende vrugte. Deur die Heilige Gees het jy krag en vermoëns wat jy aan niemand behalwe God kan toeskryf nie. Jy het ook vrede wat menslike begrip te bowe gaan (sien Filippense 4:7).
Sielskos: Hos 1-5; Matt 26:26-46; Ps 116:1-11; Spr 8:8-9
2024-03-21
Psalm 84:8 NLV
Die frase ‘ontdek jou sterkpunte’ is deur die navorser Marcus Buckingham in wat na verwys word as die ‘Strengths Movement,’ beroemd gemaak. Dit verg van ons om op te hou om op ons swakpunte te fokus en ons sterkpunte te ontwikkel – wat God se ontwerp reflekteer. God het nie gesê: ‘Moses, jou vakmanskapvaardighede is swak. Jy moet vir ‘n ruk ophou om die mense te lei en probeer om meer soos Besaleël te word’ nie (sien Eksodus 31:1-5). ‘n Sterkpunt is ‘n aktiwiteit wat jou sterk laat voel wanneer jy dit doen.
Sekere aktiwiteite sal jou opgewonde maak en jou uitdaag; ander sal jou verveel en jou dreineer. Sodra jy hierdie aktiwiteite ontdek, is jy nie bloot besig met ‘loopbaanbeplanning’ nie, jy erken God se handewerk en jou eie kernsterkpunte. Dis belangrik dat jy dit doen, want jou lewe is die klein deel van die skepping waaroor God jou aangestel het.
Dorothy Sayers het gesê: “‘n Mens werk nie om te lewe nie, maar lewe om te werk. Dit is, of dit behoort te wees, die volle uitdrukking van die werker se vermoëns, die aktiwiteit waarin hy geestelike en liggaamlike bevrediging vind en die medium waarin hy homself aan God bied.”
Wat as jou werk nie jou behoeftes vervul of jou Godgegewe gawes gebruik nie? Soms vereis noodsaaklikheid dit. Dis hoekom die Bybel sê: ‘Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen…’ (Prediker 9:10 NLV). Bid intussen vir nuwe geleenthede, berei jouself voor en doen vrywillige werk in ‘n gebied wat jou sterkpunte benut. Soms is mense wat nie hul werk geniet nie, ellendig en maak hulle almal rondom hulle ook ellendig. God verwag egter beter van jou!
Sielskos: 2 Kon 24-25; Matt 26:1-25; Ps 19; Spr 8:6-7
2024-03-20
Johannes 13:3-4 NLV
Wanneer dit daarby gekom het om ander te dien, het Jesus eerste gegaan. “Hy het toe van die tafel af opgestaan, sy boklere uitgetrek, ‘n doek gevat en dit om Hom vasgebind. Daarna het Hy water in ‘n wasskottel gegooi en begin om die dissipels se voete te was en af te droog… Hy kom toe by Simon Petrus, wat vir Hom sê: ‘Here, gaan U mý voete was?'” (verse 4-6 NLV). As jy ander mense wil dien, moet jy jou beeld, jou gemak en jou agenda eenkant toe skuif. Deur sy boklere uit te trek en eenkant te sit, het Jesus gedemonstreer dat God nie tyd vir mode of giere het nie.
Ware bediening is nie beeldbewus nie; dit word met die volledige verontagsaming om onderskeid tussen mense te tref, gepaard. Petrus het dit egter nie besef nie! Hy was verleë om te dink dat Jesus Homself in so ‘n vernederende lig sou stel. Dus het Jesus gesê: ‘Julle noem My Leermeester en Here… As Ek dan, wat julle Here en Leermeester is, julle voete gewas het, moet julle ook mekaar se voete was. Ek het vir julle ‘n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen… As julle hierdie dinge insien en julle eie maak, sal julle gelukkig wees as julle dit ook doen’ (verse 13-15, 17 NLV).
Daar is sekere dinge in jou lewe wat jy eenkant moet sit om sodoende ander mense te dien en God se wil te doen. As jy geseënd wil wees, moenie aansluit by diegene wat in hul eie toesprake verheug is en wat hul eie prestasies uitbasuin nie. Sit alles waarin jy privaat roem opsy en tel die handdoek van diensbaarheid op. Moenie vir iemand anders wag om dit te doen nie. Gaan jy eerste!
Sielskos: 2 Kon 21-23; Matt 25:24-46; Ps 11; Spr 8:4-5
2024-03-19
Galasiërs 1:18 NLV
God se leiding sal dikwels deur ‘n seisoen van voorbereiding gevolg word. Die lengte van daardie seisoen word deur die grootte van jou opdrag bepaal. Wanneer God dus met jou praat, is dit nie altyd wys om dit dadelik vir almal te gaan vertel nie. Wie sal nie oor die wonderbaarlike ervaring wat Paulus met Christus op die Damaskuspad gehad het, wil praat nie? Daar sou ‘n regte tyd kom vir Paulus om daaroor te praat, maar nie direk daarna nie. Moet dus nie beweeg tot God vir jou die groen lig gee nie. Hoekom nie?
Om twee redes: 1) Jy het tyd nodig om volwasse en toegerus te word sodat jy die woord wat jy ontvang het, in jou kan laat wortel skiet, groei en op die manier wat God wil hê, kan vervul. 2) Soms neem God tyd om die mense na wie Hy jou toe stuur, se harte voor te berei. Paulus skryf: ‘…Ek het nie dadelik met mense gepraat nie. Ek het ook nie na Jerusalem toe, na hulle wat voor my apostels was, gegaan nie. Nee, ek het Arabië toe gegaan en van daar af teruggekom Damaskus toe. Eers drie jaar later is ek Jerusalem toe om Petrus te ontmoet…’ (verse 16-18 NLV).
Paulus het geweet dat mense nie sy bediening sou glo nie, dus het hy die wysheid gehad om te wag. Hy het God toegelaat om voor hom uit te gaan en die situasie voor te berei. Terwyl hy gewag het, het hy die Woord wat hy ontvang het toegelaat om te groei en veranderinge in sy lewe te maak. Toe eers het hy begin doen wat hy geroep is om te doen. Paulus het nie enigiemand probeer oortuig nie; hy het dit aan God oorgelaat. Wat was die eindresultaat? ‘En hulle het God oor my geprys’ (vers 24 NLV).
Sielskos: 2 Kon 18:17-20:21; Matt 25:1-23; Ps 115; Spr 8:1-3
2024-03-18
1 Johannes 2:27 DB
Wanneer jy ywerig bid en glo dat jy van God gehoor het, maar dan vir ander mense begin vra wat hulle daaroor dink, eer jy hulle opinies bo God s’n. Hierdie tipe ingesteldheid sal jou daarvan weerhou om ‘n verhouding waar jy konstant van Hom hoor, te ontwikkel. Jy moet Hom vertrou. As jy slegte besluite in die verlede gemaak het, kan dit moeilik wees. Jy moet egter leer om na God te luister, sonder om aanhoudend by ander mense gerusstelling te kry. Die Bybel sê: ‘…sy Gees het by julle kom bly… Niemand moet julle dus allerhande dinge kom wysmaak of probeer leer nie. Die Heilige Gees is julle onderwyser en gids in alles wat waar is… Steur julle daarom aan niks en niemand anders nie, behalwe aan die Gees en wat Hy julle geleer het (vers 27 DB).
Dit beteken nie dat jy nie onderrig in God se Woord nodig het nie; dit beteken dat jy God se Gees het wat in jou woon en wat jou persoonlik sal rig en lei. Dit mag dalk nodig wees dat jy van tyd tot tyd iemand vir raad vra, maar jy hoef nie aanhoudend na ander mense te gaan en hulle opinies oor die besluite wat jy in jou lewe maak, te vra nie.
As jy ooit die vermoë om na God te luister en deur sy Gees gelei te word wil ontwikkel, moet jy jou eie besluite begin maak – en die wysheid wat God in jou hart geplaas het, begin vertrou. Die duiwel wil jou laat dink dat jy nie in staat is om God se stem te hoor nie. Moenie hom glo nie. Die Gees wat in jou woon sal vir jou vertroue, vertroosting en raad vir jou lewe gee. Leer dus om na Hom te luister.
Sielskos: 2 Kon 16:1-18:16; Matt 24:29-51; Ps 26; Spr 7:26-27