Leer om na God te luister (2)

2024-03-17
Jesaja 1:19 NLV

Mense dink dat hulle nie vir God kan hoor nie, wanneer die realiteit egter is dat daar dinge is wat hulle reeds weet waarop God wil hê hulle moet reageer en tot sover het hulle dit nie gedoen nie. Hoe vinniger jy doen wat ook al die Here vir jou gesê het om te doen, hoe gouer sal Hy die volgende stap aan jou openbaar. Sy belofte is: ‘As julle My maar net gehoorsaam… sal julle baie hê om te eet.’

Om God te kan hoor is iets wat jy net met oefening kan ontwikkel – veral as jy meer daarvan hou om te praat! Dis hoekom Hy sê: ‘Wees stil en weet Ek is God!..’ (Psalm 46:11 NLV). Ons vlees is vol energie; ons wil altyd besig wees om iets te doen en dit kan moeilik vir ons wees om stil te wees. Moenie net met God praat as jy iets nodig het nie, bestee tyd om ook te luister. Hy sal baie kwessies vir jou oplos as jy net sal stil word voor Hom.

Jy sê: ‘Ek dink nie ek het God al ooit met my hoor praat nie.’ Miskien omdat jy nog nie geleer het om te luister nie! Selfs al reageer Hy nie op daardie presiese oomblik nie, kan jy seker wees dat Hy wel sal. Jy mag dalk besig wees om ‘n gewone taak te verrig wanneer Hy met jou praat. Miskien doen jy dinge al vir jare op jou eie manier. As dit die geval is, moenie mismoedig voel nie; dis nooit te laat om van rigting te verander nie. As jy gewillig is om God te gehoorsaam, sal Hy jou op die opwindende reis om elke dag van jou lewe van Hom te hoor, lei.

Sielskos: Gal 5:22; 1 Kor 13; Ef 3:14-21; Joh 15:1-17

Leer om na God te luister (1)

2024-03-16
Johannes 16:13 NLV

Jesus het vir sy dissipels gesê: ‘Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle kan dit nie nou hanteer nie. Wanneer Hy ook al kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle begelei in die volle waarheid…’ (verse 12-13 NLV). Jesus het hierdie woorde vir die dissipels saam met wie Hy die vorige drie jaar deurgebring het, gesê. Sou jy nie dink dat as Jesus in persoon by ons was, dag en nag vir drie jaar lank, sou ons alles geleer het wat daar is om te weet nie? Nee. Jesus sal inderwaarheid iets vir ons sê oor elke nuwe situasie waarvoor ons te staan kom. Daar is sekere dinge wat Hy egter net aan jou sal openbaar wanneer Hy weet dat jy gereed is om dit te hanteer.

God wil met jou op ‘n een-tot-een basis praat, om jou tree vir tree tot by die goeie dinge wat Hy vir jou in gedagte het, te lei. Hy gee vir die kleinste detail van jou lewe om. Moet dus nooit huiwer om die klein dinge na Hom toe te neem nie – alles is immers klein vir God! Hy gee vir die begeertes van jou hart om. Hy wil vir jou die waarheid wat jou vry van vrees en bekommernis sal maak, openbaar.

Sy plan om ‘n intieme verhouding met jou te deel was lank voor jy gebore is, reeds in plek. ‘…Hy het die tye van hulle bestaan bepaal, en die grense van hulle blyplek. God se doel met die nasies was om Hom te soek…’ (Handelinge 17:26-27 NLV). Dink nou daaroor: As God jou lewe voor jy gebore was al in sulke klein detail beplan het, is dit nie belangrik vir jou om te leer om na Hom te luister nie?

Sielskos: 2 Kon 13-15; Matt 24:3-28; Ps 24; Spr 7:24-25

Moenie tou opgooi nie!

2024-03-15
Galasiërs 6:9 NLV

Paulus skryf: ‘Moet dus nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie tou opgooi nie, sal ons op die regte tyd oes’ (vers 9 NLV). Kyk na die patriarg Job: hy het die begrafnisse van sy tien kinders bygewoon, sy gesondheid en rykdom op een dag verloor en moes luister na ‘n vrou met ‘n tong wat skerp genoeg was om deur die sterkste staal te sny. Tog het hy nie tou opgegooi nie. ‘…Job is ‘n voorbeeld van iemand wat geduldig volhard het. Uit wat uiteindelik met hom gebeur het, sien ons dat God se einddoel goed is…’ (Jakobus 5:11 NLV). Job het op die einddoel gefokus gebly en die onmiddellike omstandighede verduur.

Ja, daar is tye wat dit aanloklik lyk om tou op te gooi, wanneer ‘n nederlaag onvermydelik lyk en om die aftog te blaas na jou enigste opsie lyk. Die vraag is: hoe hanteer jy daardie tye? Op die drumpel van die Beloofde Land het God vir Josua gesê: ‘My opdrag aan jou is dat jy sterk en dapper moet wees. Moenie bang of huiwerig wees nie. Die Here jou God is saam met jou in alles wat jy doen’ (Josua 1:9 NLV).

Die Israeliese staatsman David Ben-Gurion het opgemerk: ‘Dapperheid is ‘n spesiale tipe kennis, die kennis van hoe om te vrees wat gevrees moet word en hoe om nie te vrees wat nie gevrees behoort te word nie. Uit hierdie kennis kom ‘n innerlike krag wat ons inspireer om in die aangesig van groot moeilikheid voort te gaan. Wat onmoontlik kan lyk, is dikwels met dapperheid moontlik.’ Waar kom hierdie dapperheid vandaan? Deur die wete dat: ‘…Die Here jou God is saam met jou in alles wat jy doen.’ Wanneer jy misluk – kan jy weer begin!

Sielskos: 2 Kon 11-12; Matt 23:29-24:2; Ps 135; Spr 7:21-23

Neem beheer oor die klein dinge

2024-03-14
Daniël 1:8 AFR83

Kan jy jou indink om uit jou huis gevange geneem en na ‘n vyandige land weggevoer te word? Dit het met Daniël gebeur. Koning Nebukadnesar het sy land ingeneem en hom as slaaf na Babel toe geneem. Hy het sy huis, sy werk, sy vryheid, sy kultuur, sy vriende en sy status as lid van Israel se adel verloor. Hy moes ‘n vreemde taal leer praat en op ‘n plek bly waar hy nie wou wees nie.

As jy Daniël was, sou jy nie in die versoeking gekom het om op die dinge wat jy nie kon beheer nie te fokus, soos om ballingskap vir jou ongelukkigheid te blameer en jammer vir jouself te voel? Nie Daniël nie! Hy het beheer van sy lewe in klein areas geneem. Die Bybel sê: ‘Daniël het hom voorgeneem om hom nie met die koning se kos en wyn te verontreinig nie…’ (vers 8 AFR83). Hy het besluit om – selfs in klein dingetjies – volgens sy oortuigings te lewe. Dis belangrik, aangesien klein gevegte jou vir groot gevegte oplei! As Daniël nie beheer oor die klein dingetjies geneem het nie, sou hy nie die krag gehad het om nee vir die groot dinge, soos die aanbidding van afgode, te sê nie.

Miskien kan jy nie tans iets aan jou huis of jou werk of jou verhouding doen nie, maar jy kan jou lewe verander deur beheer oor die klein dingetjies te neem. Miskien sal dit, soos Daniël, behels wat jy eet, wat jy op die televisie of internet kyk, of wat by jou mond uitkom. Wanneer jy jouself voorneem om God in die klein dinge te eer, sal Hy jou seën en op maniere wat jy nooit gedink het moontlik is nie, by jou lewe betrokke raak.

Sielskos: 2 Kon 9-10; Matt 23:15-28; Ps 28; Spr 7:14-20

Vier beginsels om in oorwinning te lewe

2024-03-13
1 Korintiërs 16:13 NLV

Jesus het gesê: ‘Julle is gelukkige mense wanneer ander mense julle beledig en slegte dinge doen aan julle omdat julle My dien. Julle is gelukkige mense wanneer hulle slegte stories oor julle vertel wat alles leuens is. Wanneer mense slegte dinge doen aan julle, dan moet julle baie bly wees, want in die hemel sal God vir julle baie goed wees…’ (Matteus 5:11-12 ABA).

As jou vel dun is sal die lewe vir jou moeilik wees, omdat jy ‘n maklike teiken vir die duiwel sal wees. Paulus is deur sy vriende verlaat, hy het lelike briewe van die Korintiërs gekry, hy is in Filippi mishandel, in Athene gespot en het uiteindelik gevangenskap in Rome beleef en is daar onthoof. Die Bybel gee ons vier beginsels om in oorwinning te lewe:

1) Wees op en wakker. Hoekom? Omdat jy ‘n teenstander het wat daarop uit is om jou uit te vang (sien 1 Petrus 5:8). Hy is agter die Godgegewe potensiaal wat hy weet binne-in jou lê, aan. Jy is ‘n saad wat in staat is om ‘n oes van seën te produseer.

2) Staan vas in wat julle glo. Jy kan nie op jou gevoelens, jou omstandighede of die opinies van ander mense staatmaak nie. Dit verander aanhoudend, dus moet jy vas op die Woord van God staan.

3) Wees moedig. Jy moet moedig en dapper te midde van die stryd wees. Dit is tyd om groot te word; as jy vyf-en-twintig jaar later steeds dieselfde foute maak, leer jy nie genoeg nie.

4) Wees sterk. Swakheid is ‘n uitnodiging aan die Vyand. Maar om op te hou is nie vir jou ‘n opsie nie. God het vir sy mense gesê dat die Beloofde Land hulle s’n was – maar hulle sou daarvoor moet veg. Jy sal ook moet!

Sielskos: 2 Kon 7-8; Matt 23:1-14; Ps 27; Spr 7:10-13

Stort jou hart daarin

2024-03-12
Efesiërs 4:16 NLV

Jy het waarskynlik al gehoor dat die uitsig selde verander, tensy jy die voorste hond in die trop is. Die probleem is egter dat almal nie die leier kan wees nie. Dit is beter om ‘n werkende akteur te wees as ‘n ster wat werkloos is; ten minste kan jy in die toneelstuk wees! Boonop sal die meeste groot presteerders, as hulle eerlik is, vir jou sê dat hulle dit nie alleen kon doen nie; hulle het die bydraes van elke lid van die span nodig gehad.

As God jou dus vandag in ‘n ondersteunende rol geplaas het, aanvaar dit sonder om te kla. Doen jou deel om die hele produksie sterker te maak. Nie net sal jy alles oor spangees leer nie, jy sal ook die Christelike deug van nederigheid leer. Die Bybel sê ons sal: ‘…so in alle opsigte groei om soos Christus te wees… Christus is die Hoof. Onder leiding van die Hoof is die liggaam goed aanmekaargesit… Elke liggaamsdeel vervul sy bestemde funksie…’ (verse 15-16 NLV).

Stort dus jou hart in jou deel in. Stop en dink oor hoe jy jou lewe leef. Gee jy dit jou alles, of hou jy terug in die hoop dat iemand anders jou talent sal raaksien? Dit gaan nie oor die grootheid van die deel waarvoor jy verantwoordelik is nie, dit gaan oor hoeveel inspanning jy daaraan bestee het. As God jou in ‘n ondersteunende rol in plaas van ‘n leiersrol geplaas het, is dit omdat Hy weet dat die span jou spesifieke sterkpunte en talente nodig het. Vra Hom om jou te help om die rol wat Hy vir jou gegee het te aanvaar – wat dit ook al mag wees – en leer om dit met dankbaarheid en waardigheid te vervul. Maak ‘n bydrae van waar jy ook al vandag is.

Sielskos: 2 Kon 4:18-6:33; Matt 22:34-46; Ps 112; Spr 7:6-9