Om God te ken, moet jy dit wat Hy gemaak het ondersoek

2024-04-02
Romeine 1:20 NLV

Die Griekse woord wat in die Nuwe Testament as ‘dissipel’ vertaal word, beteken ‘leerder.’ Per definisie is ‘n dissipel iemand wat nooit ophou leer nie. Hy of sy maak die meeste van die honderd biljoen breinselle wat God vir hulle geleen het. Hulle hou aan vra, soek en klop (sien Matteus 7:7).

Leonardo da Vinci het ‘n notaboek oral saamgedra. Sommige mense skat dat hy veertien duisend bladsye aantekeninge aan die skilder Francesco Melzi in sy testament bemaak het. Amper sewe duisend bladsye van sy notas bestaan nog. Bill Gates het in 1994 agtien bladsye daarvan vir 30.8 miljoen dollars gekoop. Die krabbels op Da Vinci se servet het van anatomie tot plantkunde tot skilderkuns tot filosofie gewissel. Een ding wat hom buitengewoon gemaak het, is dat hy die meeste daarvan met ‘n tegniek, wat spieëlskryf genoem word, geskryf het. Hy het omgekeerd geskryf sodat die woorde slegs wanneer dit in ‘n spieël weerspieël word, gelees kon word.

In die finale dae voor sy dood op 2 Mei, 1519, het Leonardo verskoning vir God en die mensdom gevra omdat hy soveel ongedaan gelaat het. Hy het onderneem om tot sy sterfdag aan te hou leer. Selfs op sy sterfbed het Leonardo die aard en simptome van sy siekte waargeneem en dit in wetenskaplike besonderhede beskryf.

Moet dus nooit ophou leer nie, want dit verheerlik God wanneer jy dit vir die regte redes doen. Die regte rede is om Hom te leer ken, sodat jy Hom nog meer kan liefhê. Leef asof jy môre gaan sterf – maar hou aan leer asof jy vir ewig gaan lewe. Jy gaan dit immers as verloste kind van God, doen.

Sielskos: Jer 14-17; Matt 28:11-15; Ps 69:1-18; Spr 8:27-29