God sal met jou praat – mits jy luister

2024-04-03
Johannes 5:30 NLV

Jesus het slegs die dinge wat sy Vader in sy gedagtes geplaas het, gedoen. Hy wil hê dat jy op dieselfde manier moet lewe. Jy vra: ‘Is dit moontlik om so te lewe?’ Ja, dis nie net moontlik nie, maar dis noodsaaklik om sodoende God se wil vir jou lewe te vervul.

Die Bybel sê dat Maria die tyd geneem het om na Jesus te luister, maar haar suster Marta nie, omdat sy te besig was om te bedien (sien Lukas 10:40). Jy kan so besig raak om die Here te dien dat jy jou sensitiwiteit vir sy stem verloor en met minder belangrike dinge besig raak. Jy leer om van God te hoor, deur tyd te maak om van Hom te hoor! Jesus het vyftien keer in die Nuwe Testament gesê: ‘Elkeen wat kan hoor, moet luister.’

Wanneer jy ‘n nuwe skepping in Christus word, kry jy nuwe geestelike ore, maar jy moet leer hoe om hulle te gebruik. Dit moet inderdaad een van die hoogste prioriteite in jou lewe word. ‘n Nuutgebore baba het die vermoë om te kan hoor, maar verstaan nie wat sy of hy hoor nie; om te verstaan neem tyd, onderrig, aandag en intimiteit met sy of haar ouers. Toe Jesus die twee dissipels na sy opstanding op die pad na Emmaus ontmoet het, het hulle Hom nie herken nie. Hy het hulle egter liefgehad, dus: ‘…het Hy hulle verstand geopen om… te verstaan’ (Lukas 24:45 NLV).

Soos jy oor jou lewe terugkyk, herken jy die tye wat God saam met jou gestap en met jou gepraat het, maar jy het Hom nie verstaan nie. Dis egter nie ‘n probleem nie. God is geduldig en sal saam met jou werk en jou ontwikkel.

Sielskos: Jer 18-21; Matt 28:16-20; Ps 69:19-36; Spr 8:30-31