Bid sonder om ‘n woord te sê

2024-04-05
Matteus 6:32 NLV

Jesus het gesê: ‘Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle heel eerste prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge as ‘n bonus byvoeg’ (vers 33 NLV). Jy vra: ‘Wanneer ek aan God dink, is dit dieselfde as om te bid?’ Dit kan wees. Ons is almal bekend met die krag van ongesproke kommunikasie. Baie van ons het met ouers grootgeword wat niks hoef te gesê het om hul wil bekend te maak nie. Dit kon dalk ‘n sekere kyk in hulle oë of ‘n ander ongesproke gebaar gewees het. Ons het egter presies geweet wat gekommunikeer word en hoe daar van ons verwag was om te reageer.

Gebed werk dieselfde. Wanneer jy aan God dink, is dit ‘n gebed; en wanneer God sy gedagtes aan jou terug kommunikeer, is dit ‘n vorm van beantwoorde gebede. ‘n Seuntjie wou graag ‘n fiets vir Kersfees gehad het. Een aand het hy luidkeels gebid en presies vir God vertel watter kleur en maak sy fiets moes wees. Sy ma het gesê: ‘Seun, jy hoef nie te skree vir God om jou te hoor nie.’ Hy het geantwoord: ‘Ek weet Mamma, maar ek moet skree sodat Oupa kan hoor en vir my daardie fiets kan koop!’

Die waarheid is dat jy nie vir God hoef te skree om jou te hoor nie en jy hoef nie antwoorde op jou gebede te probeer optower nie. Jesus het gesê: ‘…Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het.’ Hoekom dan die tyd neem om te bid? Want God wil hê dat jy Hom met vertroue moet nader, Hom met al jou behoeftes moet vertrou en ‘n verhouding met Hom moet bou. Dis waaroor dit gaan!

Sielskos: Jer 25-27; Mark 1:9-15; Ps 31; Spr 8:34-36