Bewys genade tydens konflik

2024-04-06
Jakobus 4:6 AFR83

Hier is drie belangrike beginsels wat jy in gedagte moet hou wanneer konflik plaasvind:

1) Hanteer die kwessie sonder om die persoon aan te val. Sommige van ons sal eerder die verhouding verloor as om die argument te verloor.

2) Soms is dit die beste wanneer paaie skei. Toe Paulus en Barnabas gestry het oor of Johannes Markus saam het hulle op hulle volgende sendingsreis moet gaan, het daar toe: ‘kwade gevoelens tussen hulle ontstaan, en hulle het elkeen sy eie koers gegaan…’ (Handelinge 15:39 NLV). Dis egter nie die einde van die verhaal nie. Dit het die geboorte van twee bedienings tot gevolg gehad. Wees dus genadig. Wat tans aan die gebeur is, is dalk God se manier om jou na ‘n nuwe area van diens en seën te beweeg.

3) Onthou, yster slyp yster (sien Spreuke 27:17). Wanneer yster mekaar slyp, spat die vonke. Veral tieners is meesters op die gebied om met onkonvensionele opinies vorendag te kom wat jou uitdaag en jou eerlik hou. ‘n Ou Kwaker het een keer ‘n iesegrimmige koei gekoop. Elke melksessie het in ‘n wilstryd ontaard. Vasbeslote om genade tydens konflik te bewys, het die ou man geweier om te reageer as Bessie haar voet op die grond gestamp het, haar stert deur sy gesig geswaai het of die melkemmer omgegooi het. Eindelik het sy hom geskop dat hy met ‘n boog deur die lug trek, wat die laaste strooi was. Hy het vir haar gegrom: ‘Bessie, jy weet ek is ‘n Kwaker en mag jou nie terugskop nie, maar as jy so aanhou, verkoop ek jou sekerlik aan ‘n Presbiteriaan!’

Wanneer jy die gewonde party is, moet jy op hierdie belofte staatmaak: ‘Maar die genade wat Hy gee, is nog groter…’

Sielskos: Jer 28-30; Mark 1:16-28; Ps 72:1-11; Spr 9:1-6