Neem tyd om jou te verwonder en God te aanbid

2024-04-26
Genesis 1:31 NLV

Die eerste reaksie wat in die Skrif opgeteken is, is God se reaksie op sy eie skepping. Hy het aan die einde van elke dag teruggetree, gekyk na wat Hy gemaak het, en gesê: ‘Dit is goed.’ Op die sesde dag toe die skepping voltooi was, het Hy gesê dat dit goed in elke opsig is. Dis hoekom ons so geestelik voel wanneer ons na die sonsondergang oor die oseaan of die piek van ‘n majestueuse berg kyk.

Thomas Carlyle het gesê: ‘Aanbidding is die oortreffing van verwondering. Verwondering met geen beperking of maat nie; dis aanbidding.’ Dis om in verwondering voor die Skepper en sy skepping te staan. Dis om die skoonheid van die skepping in aanbidding van die Skepper te vertaal. Dis om God vir sy beeldskone sonsopkoms en skitterende sterre en unieke sneeuvlokkies te dank. Dis om krediet te gee waar krediet verskuldig is – aan die Skepper. Die Psalmdigter het dit in hierdie woorde vasgevang: ‘Die hemele verkondig die heerlikheid van God…’ (Psalm 19:1 NLV). Sulke verwondering is ook ‘n daad van aanbidding.

Een pastoor skryf: ‘Die sonsopkoms is so konsekwent dat ons dit as vanselfsprekend aanvaar, maar min dinge is so wonderbaarlik soos die hemelse dans wat daagliks plaasvind. Die aarde draai om sy as teen ‘n spoed van 1 000 myl per uur. Behalwe dat die aarde elke vier-en-twintig uur 360 grade om sy as draai, jaag dit ook deur die ruimte teen die ondenkbare spoed van 67 000 myl per uur. Jy het dalk geen groot planne vir vandag nie, maar jy sal 1,6 miljoen myl om die son aflê. Dis nogal ‘n prestasie!’ Neem dus die tyd om jouself te verwonder en God te aanbid.

Sielskos: Hand 18-19; Mark 4:35-41; Ps 7:10-17; Spr 11:7-9