2024-05-15
Kolossense 3:21 NLV
Verbitterde kinders raak uiteindelik moedeloos. ‘n Moedelose kind het minder hoop, is minder entoesiasties, het ‘n gebrek aan vasberadenheid en word maklik om die bos gelei. Deur jou kind se hoop te vernietig, ondermyn jy hulle Godgegewe geaardheid. Kinders word met optimisme, inspirasie, afwagting en moontlikhede gebore. Sonder hoop, is daar niks wat hulle inspireer nie. Hopeloosheid bring depressie en donkerte van hart en siel mee.
Wanneer jy jou kinders ontmoedig, vernietig jy hulle selfvertroue en maak hulle onseker en nie in staat om die lewe te trotseer nie. Selfvertroue is noodsaaklik vir ‘n gesonde selfbeeld, om met ander mense om te gaan en sukses in hulle opvoeding en beroep te behaal. ‘n Moedelose kind verloor hulle sekerheid en word ‘n gebroke gees. Die gees is die kern van die wese. ‘n Gebroke gees produseer ‘n gebroke mens. ‘…’n Neerslagtige mens tap jou krag’ (Spreuke 17:22 NLV).
Ons strate is vol gebroke kinders. Hierdie kinders het nie die vasberadenheid om sukses te behaal nie, om doelwitte te stel en dit te bereik nie. ‘Wanneer ‘n volk nie duidelikheid het oor die wil van God nie, word hulle koersloos…’ (Spreuke 29:18 NLV). Dis jou visie wat jou die innerlike krag gee om iets tot die einde, ten spyte van die struikelblokke wat voorkom, deur te sien. Dit verg ‘n heel, veerkragtige kind om die lewe se struikelblokke te oorkom.
Hoe kan jy hulle help? ‘…voed hulle op met dissipline en teregwysing wat die Here se goedkeuring wegdra’ (Efesiërs 6:4 NLV). Jy moet hulle koester, God se Woord vir hulle leer selfs wanneer hulle onverskillig daaroor lyk, doen wat jy sê, konsekwent met jou reëls wees, hulle laat sien hoe jy God se Woord lees en aanhoudend bid. Moedig hulle altyd aan en moet nooit, ooit oor hulle tou opgooi nie!
Sielskos: Deut 30:1-32:28; Mark 8:27-38; Ps 57; Spr 12:15-17
2024-05-14
Kolossense 3:21 NLV
Nog ‘n kwessie van ouerlike verwarring is die volgende: 4) Bitter teenoor beter. Wat is bitterheid? Dit is sterk gegriefdheid of sinisme. Hoe veroorsaak ouers bitterheid in hulle kinders? Oorweeg die volgende snellers:
a) Teenstrydigheid. Dit gebeur wanneer jy een dag outokraties en outoritêr en die volgende dag permissief is. Wat vandag ‘n sterk teregwysing teweegbring, bring môre ‘n glimlag van toegeeflikheid mee. Jou kind weet dus nooit wat om te verwag nie.
b) Buierigheid. Vandag is jy pret en dis lekker om by jou te wees; môre is jy geïrriteerd en afwesig.
c) Onredelikheid. Daar is nie spasie vir bespreking nie, geen geleentheid vir jou kinders om hulle gevoelens te verken nie. ‘Doen soos ek sê omdat ek so gesê het!’ Die kind word dus nooit die kans gegun om deur die redeneringsproses te dink nie.
d) Skeldende gedrag. Dit mag dalk fisies of emosioneel (deur jou liefde te weerhou, stilstuipe te kry of jou kind te verwerp), wees. Of dit mag dalk verbaal (deur te skree en woorde wat seermaak te gebruik), wees.
e) Om een ding te sê maar ‘n ander te doen. Jy bely sekere oortuigings, maar oefen dit nie uit nie. Jy verwag van jou kinders om respek te betoon, terwyl jy disrespekvol teenoor ander is. Jy verwag eerlikheid van jou kinders, maar hulle sien hoe jy jou pad deur die lewe lieg en bedrieg. Kinders is skerp waarnemers – hulle mag dalk nie iets sê nie, maar daar is nie veel wat jy doen wat hulle aandag ontglip nie. Hulle sien jou teenstrydighede – wanneer wat jy sê nie ooreenstem met wat jy doen nie.
Al hierdie gedrag kan hulle wrokkig maak. ‘Ouers, moenie aanhou foutvind met julle kinders nie sodat hulle nie moedeloos word nie.’ Moenie jou kinders moedeloos maak nie.
Sielskos: Deut 28-29; Mark 8:14-26; Ps 44:17-26; Spr 12:12-14
2024-05-13
Spreuke 23:13 NLV
Hier is nog ‘n paar areas waar ouers dikwels verward is. 2) Dissipline teenoor straf. ‘Tug is nodig! As ‘n kind toegelaat word om te doen net wat hy wil, loop dinge verkeerd. Dissipline verdryf stoutighede’ (Spreuke 22:15 DB). Dissipline en korreksie gaan oor onderrig en leer; straf gaan daaroor om ‘n kind vir sy gedrag te laat ly. Kinders het dissipline nodig – nie straf, wat dikwels deur ‘n gefrustreerde en woedende ouer toegedien word – nie. Wanneer jy dissipline weerhou, berei jy hulle vir ‘n leeftyd van mislukking en lyding voor. Dissipline fokus daarop om hulle gedrag te verbeter. Dit leer hulle reg en verkeerd deur gevolge wat direk aan die kind se keuses gekoppel is, te gee. Dit mag dalk wees om hulle te hok of hulle van sekere voorregte te ontneem, maar dit moet altyd tot die kind se voordeel wees en nie om pyn toe te dien nie.
3) Liefde teenoor toegeeflikheid. Ons materialistiese wêreld verwar liefde met toegeeflikheid. Liefdevolle ouers gee sonder om te bederf, weerhou vir die kind se beswil en motiveer hulle deur goeie gedrag te beloon. Toegeeflike ouers gee kinders wat hulle ook al wil hê, ongeag hul gedrag, gevolglik leer hulle nie verantwoordelikheid nie. Bedorwe kinders ontwikkel ‘n gevoel van geregtigheid en ‘n verwagting dat ander bestaan om aan hulle eise te voldoen. Toegeeflike ouers is dikwels skuldgedrewe en bang hul kinders hou nie van hulle of is nie lief vir hulle nie. Hulle verwar toegeeflikheid met liefde en kweek kinders wat eis, manipuleer en nooit tevrede is nie. Liefde vereis dat jy praat, luister, verstaan, lag, moeilike tye deel, mekaar respekteer en jou kinders met onvoorwaardelike aanvaarding bemoedig. Sulke liefde kos niks, maar is van onskatbare waarde.
Sielskos: Deut 25-27; Mark 8:1-13; Ps 44:9-16; Spr 12:10-11
2024-05-12
Psalm 127:3 NLV
Kom ons kyk vir die volgende paar dae na ‘n paar praktiese areas waar ons as ouers dikwels verward is. 1) Leiding teenoor kritiek. As jy ‘n kalm, aangename en inskiklike kind het wat skool, huiswerk en huishoudelike take geniet, sal dit ‘n vreugde wees om hulle: ‘…met dissipline en teregwysing wat die Here se goedkeuring wegdra’ (Efesiërs 6:4 NLV), op te voed.
Baie van ons het egter selfgeldende kinders met ‘n sterk wil en hul eie agenda ontvang. Hierdie kinders weet wat hulle wil hê en hoe om dit te kry. Hulle weet ook wat hulle nie wil eet, dra, hoor, sê en doen nie! Die ouers van hierdie kinders het hulp nodig om die tipe verhouding wat vertroue skep en wedersydse gesprekke en respek toelaat, te bou. In hierdie gevalle kan leiding maklik in kritiek ontaard wat aanhoudend die kind se foute beklemtoon: ‘Jy lyk soos ‘n hanswors in daardie klere… Jy is nooit betyds nie… Hoekom kan jy nie daarvan hou nie…’
‘n Baie beter benadering is om vir die kind die oplossing uit te wys. Geldige leiding wat negatief aangebied word, sal die kind se eiewaarde skaad, wrokke kweek en die moontlikheid om wedersydse respek op te bou, vernietig. Hulle het nodig om jou te hoor sê: ‘Ek karring nie net aan jou nie – ek is aan jou kant!’
Wanneer normale konflik te voorskyn kom – en dit sal – is die versoeking om aanmatigend en gefrustreerd te word, daar. Dit veroorsaak dat hulle kwaad, ontmagtig en onseker van hulself en van jou voel – ‘n uitnodiging tot rebellie. As jy egter jou kind as iemand wat aan hulle kant is, met geduldige, praktiese hulp lei, sal skakels gevorm word wat samewerking, vertroue en wedersydse respek aanmoedig.
Sielskos: Gal 5:22; Luk 19:11-26; Ps 36:5-9; Heb 10:19-23
2024-05-11
Spreuke 22:6 DB
Het jy al ooit gewens jy kan ouerskap oordoen – ‘n tweede kans kry om jou kinders groot te maak? Met terugskouing en insig dink jy dat jy dit hierdie keer reg sou doen! Ouerskap is beide lonend en veroorsaak ook skuldgevoelens. Dis lonend omdat ons lief vir ons kinders is en hulle ons vreugde gee. Dit veroorsaak egter ook skuldgevoelens omdat ons onsself vir hulle tekortkominge en ongelukke blameer. ‘Waar het ek as ouer verkeerd gegaan?’ Daar is nie iets soos ‘n perfekte ouer nie en daar is geen universele bloudruk nie, want elke kind word uniek gebore.
Sielkundiges vertel ons dat ons kinders as ‘n ‘skoon bladsy’ gebore word, wat vir ons wag om die lewe se instruksies daarop te skryf. Dis egter nie so nie! Hulle is aan ons gegee om uit te pluis, soos ons probeer om hulle geestelik, moreel, sosiaal en intellektueel te vorm. Teen die ouderdom van sewe het hulle ongeveer 75 persent van alles wat hulle ooit sal weet, geleer.
Alhoewel daar nie een formule vir sukses is wat vir almal gaan werk nie, is daar Godgegewe beginsels wat werk, of jy nou ‘n nuwe ouer of ‘n grootouer is. ‘Leer ‘n kind vroeg hoe om te leef en hy sal tot sy oudag toe reg leef.’ Jy moet hulle leer, wat beteken dat jy informasie op ‘n aanhoudende, verstaanbare manier met jou kinders moet deel.
Kleuters leer beter met prentjies. Met ouer kinders moet ons kontemporêre taal gebruik. Jy moet hulle persoonlikhede en vaardighede in ag neem en jou onderrig aanpas om by hulle te pas. Wanneer God se beginsels by die kind se unieke karaktereienskappe pas, is hulle meer geneig om dit aan te neem en te volg.
Sielskos: Deut 22-24; Mark 7:24-37; Ps 44:1-8; Spr 12:7-9
2024-05-10
1 Petrus 5:10 NLV
As jy wil hê dat God jou moet herstel en jou ‘moedig, sterk en standvastig’ moet maak, moet jy deur gebed op hierdie vier Skrifgedeeltes mediteer en uitkyk vir maniere om dit elke dag te beoefen:
1) ‘Word daarom klein onder die kragtige hand van God; op sý tyd sal Hy julle groot maak’ (vers 6 NLV).
2) ‘Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om’ (vers 7 NLV).
3) ‘Wees versigtig! Pas op vir die duiwel se aanvalle. Hy is julle groot vyand. Hy loop rond soos ‘n brullende leeu op soek na iemand om te verslind’ (vers 8 NLV).
4) ‘Hóm moet julle teenstaan deur standvastig in julle geloof te bly. Julle weet mos: Dwarsdeur die wêreld verduur lede van God se gesin dieselfde soort lyding’ (vers 9 NLV).
Hier is dan die resultaat van God se beloftes wanneer jy in die waarheid van hierdie vier Skrifgedeeltes stap: ‘In sy onverdiende goedheid het God julle geroep om in Christus deel te hê aan sy ewige heerlikheid. Nadat julle ‘n kort tydjie swaargekry het, sal Hy julle self weer herstel; Hy sal julle moedig, sterk en standvastig maak’ (vers 10 NLV). Let twee belangrike frases op: ‘In sy onverdiende goedheid.’ Wat jy ook al vrees en wat jy ook al voor te staan kom, God sal vir jou die genade gee om dit te hanteer. ‘Nadat julle ‘n kort tydjie swaargekry het, sal Hy julle self weer herstel.’ Wanneer jy deur ‘n stresvolle seisoen gaan, het God beloof dat dit tot ‘n seisoen van versterking sal lei. Wanneer jy dus bid: ‘Here, neem my uit hierdie situasie uit,’ sal Hy dalk antwoord: ‘Nee, Ek sal jou deur dit neem en jou moedig, sterk en standvastig maak.’
Sielskos: Deut 18-21; Mark 7:14-23; Ps 37:32-40; Spr 12:4-6