Maak oulike kinders in ‘n moeilike wêreld groot (4)
2024-05-14Kolossense 3:21 NLV
Nog ‘n kwessie van ouerlike verwarring is die volgende: 4) Bitter teenoor beter. Wat is bitterheid? Dit is sterk gegriefdheid of sinisme. Hoe veroorsaak ouers bitterheid in hulle kinders? Oorweeg die volgende snellers:
a) Teenstrydigheid. Dit gebeur wanneer jy een dag outokraties en outoritêr en die volgende dag permissief is. Wat vandag ‘n sterk teregwysing teweegbring, bring môre ‘n glimlag van toegeeflikheid mee. Jou kind weet dus nooit wat om te verwag nie.
b) Buierigheid. Vandag is jy pret en dis lekker om by jou te wees; môre is jy geïrriteerd en afwesig.
c) Onredelikheid. Daar is nie spasie vir bespreking nie, geen geleentheid vir jou kinders om hulle gevoelens te verken nie. ‘Doen soos ek sê omdat ek so gesê het!’ Die kind word dus nooit die kans gegun om deur die redeneringsproses te dink nie.
d) Skeldende gedrag. Dit mag dalk fisies of emosioneel (deur jou liefde te weerhou, stilstuipe te kry of jou kind te verwerp), wees. Of dit mag dalk verbaal (deur te skree en woorde wat seermaak te gebruik), wees.
e) Om een ding te sê maar ‘n ander te doen. Jy bely sekere oortuigings, maar oefen dit nie uit nie. Jy verwag van jou kinders om respek te betoon, terwyl jy disrespekvol teenoor ander is. Jy verwag eerlikheid van jou kinders, maar hulle sien hoe jy jou pad deur die lewe lieg en bedrieg. Kinders is skerp waarnemers – hulle mag dalk nie iets sê nie, maar daar is nie veel wat jy doen wat hulle aandag ontglip nie. Hulle sien jou teenstrydighede – wanneer wat jy sê nie ooreenstem met wat jy doen nie.
Al hierdie gedrag kan hulle wrokkig maak. ‘Ouers, moenie aanhou foutvind met julle kinders nie sodat hulle nie moedeloos word nie.’ Moenie jou kinders moedeloos maak nie.
Sielskos: Deut 28-29; Mark 8:14-26; Ps 44:17-26; Spr 12:12-14