‘Moedig, sterk en standvastig’

2024-05-10
1 Petrus 5:10 NLV

As jy wil hê dat God jou moet herstel en jou ‘moedig, sterk en standvastig’ moet maak, moet jy deur gebed op hierdie vier Skrifgedeeltes mediteer en uitkyk vir maniere om dit elke dag te beoefen:

1) ‘Word daarom klein onder die kragtige hand van God; op sý tyd sal Hy julle groot maak’ (vers 6 NLV).
2) ‘Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om’ (vers 7 NLV).
3) ‘Wees versigtig! Pas op vir die duiwel se aanvalle. Hy is julle groot vyand. Hy loop rond soos ‘n brullende leeu op soek na iemand om te verslind’ (vers 8 NLV).
4) ‘Hóm moet julle teenstaan deur standvastig in julle geloof te bly. Julle weet mos: Dwarsdeur die wêreld verduur lede van God se gesin dieselfde soort lyding’ (vers 9 NLV).

Hier is dan die resultaat van God se beloftes wanneer jy in die waarheid van hierdie vier Skrifgedeeltes stap: ‘In sy onverdiende goedheid het God julle geroep om in Christus deel te hê aan sy ewige heerlikheid. Nadat julle ‘n kort tydjie swaargekry het, sal Hy julle self weer herstel; Hy sal julle moedig, sterk en standvastig maak’ (vers 10 NLV). Let twee belangrike frases op: ‘In sy onverdiende goedheid.’ Wat jy ook al vrees en wat jy ook al voor te staan kom, God sal vir jou die genade gee om dit te hanteer. ‘Nadat julle ‘n kort tydjie swaargekry het, sal Hy julle self weer herstel.’ Wanneer jy deur ‘n stresvolle seisoen gaan, het God beloof dat dit tot ‘n seisoen van versterking sal lei. Wanneer jy dus bid: ‘Here, neem my uit hierdie situasie uit,’ sal Hy dalk antwoord: ‘Nee, Ek sal jou deur dit neem en jou moedig, sterk en standvastig maak.’

Sielskos: Deut 18-21; Mark 7:14-23; Ps 37:32-40; Spr 12:4-6