Om God te ken, moet jy dit wat Hy gemaak het ondersoek

2024-04-02
Romeine 1:20 NLV

Die Griekse woord wat in die Nuwe Testament as ‘dissipel’ vertaal word, beteken ‘leerder.’ Per definisie is ‘n dissipel iemand wat nooit ophou leer nie. Hy of sy maak die meeste van die honderd biljoen breinselle wat God vir hulle geleen het. Hulle hou aan vra, soek en klop (sien Matteus 7:7).

Leonardo da Vinci het ‘n notaboek oral saamgedra. Sommige mense skat dat hy veertien duisend bladsye aantekeninge aan die skilder Francesco Melzi in sy testament bemaak het. Amper sewe duisend bladsye van sy notas bestaan nog. Bill Gates het in 1994 agtien bladsye daarvan vir 30.8 miljoen dollars gekoop. Die krabbels op Da Vinci se servet het van anatomie tot plantkunde tot skilderkuns tot filosofie gewissel. Een ding wat hom buitengewoon gemaak het, is dat hy die meeste daarvan met ‘n tegniek, wat spieëlskryf genoem word, geskryf het. Hy het omgekeerd geskryf sodat die woorde slegs wanneer dit in ‘n spieël weerspieël word, gelees kon word.

In die finale dae voor sy dood op 2 Mei, 1519, het Leonardo verskoning vir God en die mensdom gevra omdat hy soveel ongedaan gelaat het. Hy het onderneem om tot sy sterfdag aan te hou leer. Selfs op sy sterfbed het Leonardo die aard en simptome van sy siekte waargeneem en dit in wetenskaplike besonderhede beskryf.

Moet dus nooit ophou leer nie, want dit verheerlik God wanneer jy dit vir die regte redes doen. Die regte rede is om Hom te leer ken, sodat jy Hom nog meer kan liefhê. Leef asof jy môre gaan sterf – maar hou aan leer asof jy vir ewig gaan lewe. Jy gaan dit immers as verloste kind van God, doen.

Sielskos: Jer 14-17; Matt 28:11-15; Ps 69:1-18; Spr 8:27-29

Wees geïnteresseerd in alles wat God doen

2024-04-01
Spreuke 25:2 NLV

Enigiets wat iets van ons Skepper openbaar, is iets waarin ons geïnteresseerd behoort te wees. Die Skrif, as die geskrewe openbaring van God, is in ‘n klas van sy eie. Wiskunde, kuns en wetenskap openbaar egter ook ‘n kenmerkende dimensie van God se persoonlikheid.

Die Bybel sê: ‘God het vir Salomo baie wysheid en onderskeiding gegee… Hy het 3,000 spreuke geskryf en 1,005 liedere gedig. Hy kon met gesag praat oor bome en plante, van die grootste seders van die Libanon tot die kleinste hisop wat uit die mure groei. Hy kon ook praat oor diere, voëls, reptiele en visse. Mense het van oral af gekom om na die wysheid van Salomo te luister. Al die konings van die wêreld wat van sy wysheid gehoor het, het gesante gestuur’ (1 Konings 4:29, 32-34 NLV). Salomo was in alles geïnteresseerd. Die breedte van sy kennis het hom so ‘n diepte van wysheid gegee dat: ‘…Al die konings van die wêreld wat van sy wysheid gehoor het… gesante gestuur [het].’

As Geesvervulde inwoners van God se koninkryk is ons nie geroep om die samelewing te vermy nie, maar om dit in te lig, te onderrig en dit te verlig. ‘Dit is God se reg om iets geheim te hou. Dit is konings se voorreg om uit te vind wat iets beteken.’ God hou daarvan as ons iets besef of iets nuuts teëkom, selfs al is ons ontdekkings algemene kennis. Is dit nie die normale reaksie van ‘n ouer wanneer hulle kind nuwe dinge ontdek nie? Wanneer jy aanhou om die regte vrae te vra, sal God aanhou om vir jou die regte antwoorde te gee.

Sielskos: Jer 10-13; Matt 28:9-10; Ps 38:13-22; Spr 8:24-26

Bewyse van Christus se opstanding (3)

2024-03-31
Matteus 28:15 NLV

Hier is nog twee bewyse van Christus se opstanding: 1) Niemand is gewillig om vir dit wat hulle weet ‘n leuen is, hul lewe prys te gee nie. Mense lê hul lewens neer vir dit waaraan hulle opreg glo. Die skrywer Paul E. Little het gesê: ‘Mense sal sterf vir dit wat hulle glo waar is, alhoewel dit eintlik vals mag wees. Hulle sterf egter nie vir wat hulle weet ‘n leuen is nie.’ Die feit dat daardie vroeë dissipels gewillig was om soveel lyding te verduur en hulle lewens prys te gee om die evangelie te verkondig, bewys dat hulle in Christus se opstanding geglo het. Dit maak die fondasies van die Christendom onwrikbaar. 2) Christus se vyande het ongelooflik baie moeite gedoen om die opstanding te weerlê. ‘Hulle [die leierpriesters] het toe saam met die familiehoofde beraadslaag. Hulle het vir die soldate ‘n groot som geld aangebied en vir hulle gesê: ‘Julle moet vir die mense vertel: ‘Sy dissipels het mooi in die nag gekom terwyl ons aan die slaap was, en sy liggaam gesteel.’ As die goewerneur hiervan hoor, sal ons hom gerusstel. Ons sal sorg dat julle julle nie hoef te kwel nie.’ Die wagte het toe die geld gevat en gedoen soos aan hulle voorgesê is…’ (verse 12-15 NLV). Die Joodse leiers het alles in hul vermoë gedoen om die waarheid van die opstanding te verdoesel, om sodoende te keer dat nog meer mense hulle tot Hom bekeer. Hulle sou dit egter nie gedoen het indien die opstanding nie werklik plaasgevind het nie. Hulle plan het egter misluk en dit misluk steeds, omdat Jesus lewe!

Sielskos: 1 Kor 15; Matt 28:1-8; Luk 24:1-12

Bewyse van Christus se opstanding (2)

2024-03-30
1 Korintiërs 15:12 NLV

Hier is nog drie bewyse wat enige oopkop soeker na die waarheid in verband met Christus se fisiese opstanding uit die dood, sal oortuig:

1) Die Christelike sakramente. Die Christelike sakramente, die doop en die nagmaal, is tekens wat God se beloftes van goedheid en genade teenoor ons in Christus beseël. Dit dui op die dood en lyding van Christus asook op sy opstanding en krag.

2) Christelike kuns. Daar is eeue oue geëtste tekeninge van die opstanding van Christus op die mure van die katakombes in Rome ontdek, wat die oortuigings van die vroegste Christene weerspieël.

3) Die Christelike kerk. Oorweeg die onmiskenbare feit van die Christelike kerk. Die Christelike kerk is die grootste instelling wat nog ooit in die wêreld se geskiedenis bestaan het. Dis vyf keer groter as die Romeinse Ryk toe dit op sy grootste was. Meer as twee biljoen mense erken vandag Jesus Christus as die lewende en opgestane Seun van God. Hoe het so ‘n instelling tot stand gekom en staande gebly? ‘n Instelling die grootte van die Christelike kerk sou nie as gevolg van ‘n gebeurtenis wat nie waar was nie, ontstaan het nie. Geskiedkundiges bevestig dat die Christelike kerk al die pad na Jerusalem in die tyd van die dood en opstanding van Christus, teruggespoor kan word. Ons kan dus in waarheid sê: ‘Christus het waarlik opgestaan!’

Sielskos: Eks 12:1-14; Matt 27:57-66; Ps 49:1-15; Deut 21:22-23

Bewyse van Christus se opstanding (1)

2024-03-29
1 Korintiërs 15:4 NLV

Vertrou die feit dat Jesus uit die dood opgestaan het! Hier is twee bewyse daarvan:

1) Die dag van die Here. Vir duisende jare lank het die Hebreeuse mense die Sabbat op die sewende dag van die week gevier. Later, het ‘n groep vroeë Christene die Sabbatsdag na die eerste dag verander! Hoekom sou hulle ‘n tradisie waaraan hulle so lank standvastig vasgehou het, verander? As gevolg van die opstanding van Christus wat op die eerste dag van die week plaasgevind het, sy verskyning aan die dissipels op die eerste dag van die week en die uitstorting van sy Gees op die kerk, ook op die eerste dag van die week.

2) Die viering van Paasfees. Paasfees het die plek van die Joodse Pasga ingeneem. Hoekom het die Jode, wat die Pasga as die belangrikste gebeurtenis in hul nasie se geskiedenis gesien het, dit prysgegee om eerder Paasfees, wat die belangrikste fees onder Christene is, te vier? Tydens Paasfees groet mense mekaar met: ‘Christus het opgestaan!’ en antwoord mekaar: ‘Christus het waarlik opgestaan!’ Hierdie Paasfeesvieringe kan tot by die vroeë Christene, wat dit na Jesus se opstanding begin vier het, teruggespoor word.

Paulus skryf: ‘Die kern van die boodskap wat ek destyds aan julle deurgegee het… was dat Christus, soos in die Skrif staan, vir ons sondes gesterf het. Ook dat Hy begrawe is en God Hom op die derde dag opgewek het, soos in die Skrif staan… Daarna het Hy aan meer as 500 van sy volgelinge tegelyk verskyn…’ (1 Korintiërs 15:3-4, 6 NLV).

Sielskos: Gen 22:1-18; Matt 27:32-56; Ps 22; Jes 53

Werk daaraan om nader aan mekaar te groei

2024-03-28
Spreuke 5:17 DB

Hoe langer julle verbintenis as ‘n paartjie is, hoe meer vreugde en pyn het julle al ervaar. Soms is julle nader aan mekaar as ander tye, soos die omstandighede van die lewe verander. As jy egter die begin van die verhouding met die nodige omsigtigheid benader het, duidelik was oor wat jy in ‘n maat wil hê en eerlik geëvalueer het wie daardie persoon is, sal die herinnering oor wat julle twee in die eerste plek bymekaar gebring het, julle verhouding laat hou. Wat jy aanvanklik van hierdie persoon geniet en waardeer het, het heel waarskynlik nie verander nie.

Soos julle verhouding egter ontwikkel, moet julle daaraan werk om nader aan mekaar te groei. Alle verhoudings het areas van groei wat snoei en bemesting vereis. As jy voel dat julle verhouding nie meer is soos dit was nie, mag dit wees dat dit besig is om in iets anders te ontwikkel. Dit kan ook wees dat jy jou toewyding aan die verhouding moet vernuwe om dit vars te hou en vorentoe te beweeg. Dit mag dalk wees dat jy daaraan moet werk om die intimiteit te skep wat ontbreek of die liefde wat julle eens gehad het, moet geniet.

Die grondbeginsels van jou maat sal nie sommer verander nie. Die basis van jou verhouding is wat belangrik is. Om daarop te fokus maak dit makliker om met die onvermydelike op en af van die daaglikse lewe saam te gaan. Dus, het julle meer tyd saam met mekaar nodig? Wanneer jy te besig is om te luister, om regtig te luister, dink jou maat dat jy nie vir hom of haar omgee of julle verhouding genoeg waardeer nie. Dink daaroor: Wat sou jy doen as jou kar gaan staan het? Jy sou die tyd neem en die prys betaal om dit te laat herstel!

Sielskos: Jer 7-9; Matt 27:20-31; Ps 38:1-12; Spr 8:22-23