2024-04-08
Spreuke 21:5 NLV
Om werksekerheid te hê, moet jy die volgende doen:
1) Daarna streef om so onvervangbaar as moontlik te wees. ‘Getroue werk lewer wins op. Afskeepwerk lei tot gebrek. Skatte met leuens verwerf, beteken niks en bring net die dood’ (vers 5-6 NLV). Strewe daarna om integriteit en uitnemendheid in jou werk te hê, terwyl jy soveel moontlik oor die prosedures en prosesse buite jou verantwoordelikheidsgebied probeer leer. Wees gewillig om ander mense te help – maar nie ten koste van jou eie effektiwiteit nie.
2) As die vrees om jou werk te verloor uit ‘n persoonlikheidsbotsing met jou baas spruit, aanvaar die Bybelse beginsel van gesag en onderwerping. Die verantwoordelikheid kom alles op die persoon in beheer neer. Dus, besluit om jou aan enigiets wat van jou gevra word – mits dit nie immoreel of onwettig is nie – te onderwerp. Waar moontlik, bevestig jou baas se instruksies met ‘n opvolgmemo, insluited jou terugvoer oor die moontlike uitkomste daarvan. Praat altyd met respek. Wees gewillig om die ekstra myl te loop. Moenie verskonings soek of slegte vakmanskap probeer wegsteek nie. Dis noodsaaklik om met jou baas oor die weg te kom, maak dit dus jou spesiale projek. ‘Die slawe moet aan hulle eie eienaars onderdanig wees en hulle in alle opsigte tevrede hou…’ (Titus 2:9 NLV).
3) Jou markwaarde ken. Is jy in ‘n veld waar daar ‘n sterk aanvraag na jou vaardighede is, of moet jy jou vaardighede opknap? As jy ‘n verhoging of ‘n bevordering wil hê, moet jy gewillig wees om die tyd en inspanning wat nodig is om dit te verdien, in te sit. ‘Mense wat lui is, word gou arm. Hulle wat fluks is, word ryk’ (Spreuke 10:4 NLV).
Sielskos: Jer 31-32; Mark 1:29-34; Ps 72:12-20; Spr 9:7-9
2024-04-07
Spreuke 12:11 NLV
As jy dink dat die perfekte lewe een sal wees waarin jy nie hoef te werk nie, dink weer. God het die tuin van Eden geskep, toe het Hy Adam geskep, en toe het Hy vir Adam gesê dat dit sy werk is om die tuin te versorg. Hoekom? Omdat werk waardigheid en betekenis tot ons lewe toevoeg. Dis hoekom die Bybel sê: ‘Wie sy grond bewerk, het volop om te eet. Wie met nuttelose dinge besig is, het nie verstand nie’ (vers 11 NLV). Kom ons kyk vir die volgende paar dae hoe om werksekerheid te hê.
Die vrees om jou werk te verloor is in die volgende kernvrese gewortel: Gebrek: ‘Hoe sal ek my verpligtinge nakom?’ Ontoereikendheid: ‘Ek is nie goed genoeg nie.’ Hulpeloosheid: ‘Wat doen ek nou?’ Eensaamheid: ‘Ek sal geïsoleerd word.’ Vir sommige mense is die skaamte en vernedering om hul werk te verloor net so verwoestend as die verlies aan inkomste. Dit kan ‘n selfvervulde profesie word as jy aanhoudend wroeg dat jy jou werk kan verloor, omdat angs jou minder doeltreffend en effektief in jou werk kan maak.
As jy dus met die konstante vrees leef dat jy jou werk kan verloor, is dit tyd om op te hou om jouself te bekommer en te begin om ‘n strategie te ontwikkel wat jou posisie by die werk sal verbeter, of jou van ‘n sagte landing as jy ontslaan word sal verseker. Jou eerste en belangrikste strategie moet wees om op God se getrouheid te vertrou: ‘Die Here jou God sal jou dan voorspoedig maak in alles wat jy doen… Die Here sal Hom daarin verbly en jou voorspoedig maak… Dit sal gebeur as jy jou God gehoorsaam…’ (Deuteronomium 30:9-10 NLV).
Sielskos: Gal 5:22; Jes 61; Heb 12:2; Jes 35:3-10
2024-04-06
Jakobus 4:6 AFR83
Hier is drie belangrike beginsels wat jy in gedagte moet hou wanneer konflik plaasvind:
1) Hanteer die kwessie sonder om die persoon aan te val. Sommige van ons sal eerder die verhouding verloor as om die argument te verloor.
2) Soms is dit die beste wanneer paaie skei. Toe Paulus en Barnabas gestry het oor of Johannes Markus saam het hulle op hulle volgende sendingsreis moet gaan, het daar toe: ‘kwade gevoelens tussen hulle ontstaan, en hulle het elkeen sy eie koers gegaan…’ (Handelinge 15:39 NLV). Dis egter nie die einde van die verhaal nie. Dit het die geboorte van twee bedienings tot gevolg gehad. Wees dus genadig. Wat tans aan die gebeur is, is dalk God se manier om jou na ‘n nuwe area van diens en seën te beweeg.
3) Onthou, yster slyp yster (sien Spreuke 27:17). Wanneer yster mekaar slyp, spat die vonke. Veral tieners is meesters op die gebied om met onkonvensionele opinies vorendag te kom wat jou uitdaag en jou eerlik hou. ‘n Ou Kwaker het een keer ‘n iesegrimmige koei gekoop. Elke melksessie het in ‘n wilstryd ontaard. Vasbeslote om genade tydens konflik te bewys, het die ou man geweier om te reageer as Bessie haar voet op die grond gestamp het, haar stert deur sy gesig geswaai het of die melkemmer omgegooi het. Eindelik het sy hom geskop dat hy met ‘n boog deur die lug trek, wat die laaste strooi was. Hy het vir haar gegrom: ‘Bessie, jy weet ek is ‘n Kwaker en mag jou nie terugskop nie, maar as jy so aanhou, verkoop ek jou sekerlik aan ‘n Presbiteriaan!’
Wanneer jy die gewonde party is, moet jy op hierdie belofte staatmaak: ‘Maar die genade wat Hy gee, is nog groter…’
Sielskos: Jer 28-30; Mark 1:16-28; Ps 72:1-11; Spr 9:1-6
2024-04-05
Matteus 6:32 NLV
Jesus het gesê: ‘Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle heel eerste prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge as ‘n bonus byvoeg’ (vers 33 NLV). Jy vra: ‘Wanneer ek aan God dink, is dit dieselfde as om te bid?’ Dit kan wees. Ons is almal bekend met die krag van ongesproke kommunikasie. Baie van ons het met ouers grootgeword wat niks hoef te gesê het om hul wil bekend te maak nie. Dit kon dalk ‘n sekere kyk in hulle oë of ‘n ander ongesproke gebaar gewees het. Ons het egter presies geweet wat gekommunikeer word en hoe daar van ons verwag was om te reageer.
Gebed werk dieselfde. Wanneer jy aan God dink, is dit ‘n gebed; en wanneer God sy gedagtes aan jou terug kommunikeer, is dit ‘n vorm van beantwoorde gebede. ‘n Seuntjie wou graag ‘n fiets vir Kersfees gehad het. Een aand het hy luidkeels gebid en presies vir God vertel watter kleur en maak sy fiets moes wees. Sy ma het gesê: ‘Seun, jy hoef nie te skree vir God om jou te hoor nie.’ Hy het geantwoord: ‘Ek weet Mamma, maar ek moet skree sodat Oupa kan hoor en vir my daardie fiets kan koop!’
Die waarheid is dat jy nie vir God hoef te skree om jou te hoor nie en jy hoef nie antwoorde op jou gebede te probeer optower nie. Jesus het gesê: ‘…Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het.’ Hoekom dan die tyd neem om te bid? Want God wil hê dat jy Hom met vertroue moet nader, Hom met al jou behoeftes moet vertrou en ‘n verhouding met Hom moet bou. Dis waaroor dit gaan!
Sielskos: Jer 25-27; Mark 1:9-15; Ps 31; Spr 8:34-36
2024-04-04
Jakobus 1:22 NLV
‘n Pastoor skryf: ‘Die Latynse woord vir ‘luister’ is waarvandaan ons die woord oudit kry. Wanneer jy ‘n klas oudit, neem jy baie informasie in, maar jy doen niks daarmee nie. Jy doen nie die huiswerk nie. Jy skryf nie die toetse nie. Jy kry ook nie enige krediet daarvoor nie. Dieselfde is van ons geestelike lewens waar. Jy kry nie krediet wanneer jy die Skrif oudit nie. Jy moet dit in die praktyk toepas. Ons tref in die Westerse wêreld ‘n onderskeid tussen weet en doen. Daar was egter nie so ‘n onderskeiding in die antieke Joodse denkwyse nie. Om te weet was om te doen en om te doen was om te weet. As jy dit nie doen nie, ken jy dit nie werklik nie. Kennis is nie genoeg nie. Die waarheid moet met jou optrede vertaal word.’
Jakobus skryf: ‘Julle moet mense word wat dóén wat die woord sê. Moet dit nie net aanhoor nie, dan bedrieg julle julleself… As jy altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is dit so goed of jy kyk na jou gesig in die spieël sonder om iets aan jou voorkoms te doen. Jy bekyk jouself, gee pad, en vergeet wat jy gesien het. As jy jou egter verdiep in God se volmaakte wet – dié wet wat ‘n mens vrymaak – en jy dóén wat die wet sê en jy vergeet nie wat jy gehoor het nie, dan kan jy God se seën verwag op wat jy doen’ (verse 22-25 NLV).
God seën jou nie as gevolg van wat jy weet nie, maar oor dit wat jy doen met dit wat jy weet. Elke keer as jy dus ‘n vers teëkom wat vir jou sê om iets te doen, oefen dit daardie dag uit.
Sielskos: Jer 22-24; Mark 1:1-8; Ps 6; Spr 8:32-33
2024-04-03
Johannes 5:30 NLV
Jesus het slegs die dinge wat sy Vader in sy gedagtes geplaas het, gedoen. Hy wil hê dat jy op dieselfde manier moet lewe. Jy vra: ‘Is dit moontlik om so te lewe?’ Ja, dis nie net moontlik nie, maar dis noodsaaklik om sodoende God se wil vir jou lewe te vervul.
Die Bybel sê dat Maria die tyd geneem het om na Jesus te luister, maar haar suster Marta nie, omdat sy te besig was om te bedien (sien Lukas 10:40). Jy kan so besig raak om die Here te dien dat jy jou sensitiwiteit vir sy stem verloor en met minder belangrike dinge besig raak. Jy leer om van God te hoor, deur tyd te maak om van Hom te hoor! Jesus het vyftien keer in die Nuwe Testament gesê: ‘Elkeen wat kan hoor, moet luister.’
Wanneer jy ‘n nuwe skepping in Christus word, kry jy nuwe geestelike ore, maar jy moet leer hoe om hulle te gebruik. Dit moet inderdaad een van die hoogste prioriteite in jou lewe word. ‘n Nuutgebore baba het die vermoë om te kan hoor, maar verstaan nie wat sy of hy hoor nie; om te verstaan neem tyd, onderrig, aandag en intimiteit met sy of haar ouers. Toe Jesus die twee dissipels na sy opstanding op die pad na Emmaus ontmoet het, het hulle Hom nie herken nie. Hy het hulle egter liefgehad, dus: ‘…het Hy hulle verstand geopen om… te verstaan’ (Lukas 24:45 NLV).
Soos jy oor jou lewe terugkyk, herken jy die tye wat God saam met jou gestap en met jou gepraat het, maar jy het Hom nie verstaan nie. Dis egter nie ‘n probleem nie. God is geduldig en sal saam met jou werk en jou ontwikkel.
Sielskos: Jer 18-21; Matt 28:16-20; Ps 69:19-36; Spr 8:30-31