2024-04-14
Markus 4:27 NLV
Het jy al ooit ‘n ‘saad’ van geloof gesaai en nou wonder jy wanneer jy die ‘oes’ wat God in sy Woord beloof het, sal kan insamel? Indien dit die geval is, lees verder: ‘…God se koningsheerskappy is soos ‘n boer wat saad op sy land saai. Dan gaan hy voort met sy ander daaglikse aktiwiteite. Intussen ontkiem en groei die saad – hoe, weet hy self nie mooi nie. Die grond produseer die graan vanself: eers kom die eerste blaartjie uit, dan vorm die aar en uiteindelik sit die volgroeide koringkorrel in die aar. En sodra die koring ryp is, steek die boer die sekel in, want die oestyd is daar’ (verse 26-29 NLV).
Voor jy die seën wat God belowe het kan oes, gaan jy deur sekere stadiums. Eers is daar die stadium wat jy self nie weet nie. Jou saad is in die grond begrawe. Hoe en wanneer jou oes kom is totaal van God afhanklik. Jy moet egter glo dat dit gaan gebeur. Volgende kom die blaartjie uit. Dis net ‘n klein blaartjie wat in die bries waai, maar dis genoeg om jou moed te gee en vir jou te wys dat jou oes op pad is. Volgende kom die aar. Die saad het ontkiem en lyk soos dit waarvoor jy gebid het. Dis dan wanneer jy dit met gebed moet water gee, dit met God se Woord moet bemes en dit van enigiets of enigiemand wat dit deur twyfel en ongeloof kan ontwortel, moet beskerm. Uiteindelik is dit die stadium van die koringkorrel, wanneer die koring ryp word en jy onmiddellik begin oes.
Maak nie saak in watter stadium jy jou vandag bevind nie, staan vas en hou aan om op God te vertrou. Jou oes is op pad.
Sielskos: Gal 5:22; Luk 2:8-20; Spr 3:13-18; Ps 119:161-168
2024-04-13
Spreuke 14:12 NLV
Jy kan opreg in jou bedoelings wees – maar opreg verkeerd wees. Die Bybel sê die reën val ‘…op dié wat reg doen, maar ook op dié wat verkeerd doen’ (Matteus 5:45 NLV). Die wet van oorsaak en gevolg geld vir almal en al jou goeie bedoelings sal jou nie by die regte bestemming uitbring as jy op die verkeerde pad is nie.
Dink daaroor as volg: Miskien oorweeg jy dit om in ‘n spesifieke maatskappy te belê. Jy doen die navorsing, praat met die kundiges en dinge lyk goed. Jy gaan dus op die aanname dat dit ‘n deurdagte besluit is, voort. Dan gebeur die onverwagte. ‘n Resessie vind plaas en die mark stort ineen. Dis nie jou fout nie; jy was opreg in jou besluit om te belê, maar dit verander egter nie die eindresultaat nie. Jy verloor steeds. Jy kan dit nie bekostig om jou vertroue in dit wat vir mense reg lyk te plaas nie (sien Spreuke 16:25); jy moet die dinge wat reg in God se oë is, najaag.
Jesus het gesê: ‘…Ek is die pad en die waarheid en die lewe. Niemand kom by die Vader uit behalwe deur My nie’ (Johannes 14:6 NLV). Dit beteken dat tensy jy jou lewe aan Christus toegewy het, jy reeds op die verkeerde pad is. Draai om en vra Hom om jou sonde te vergewe en om jou op die pad na die ewige lewe te plaas. As jy ‘n gelowige is wat leiding soek, bid, lees jou Bybel en luister na dit wat God vir jou wil sê. Vra God om sy Woord vir jou te interpreteer, jou hart te laat vlamvat en jou in die regte rigting te wys. Hy sal dit doen!
Sielskos: Jer 49-50; Mark 2:18-22; Ps 50:1-15; Spr 10:8-10
2024-04-12
Psalm 23:1 NLV
Dis maklik om te sê: ‘Die Here is my herder,’ maar hoe weet jy of dit waar is vir jou en of jy net die woorde sê? Hier is ‘n eenvoudige toets: Wanneer jy hulp nodig het, na wie toe draai jy eerste? Die meeste mense gaan eers na God toe nadat hulle reeds alles anders probeer het. Wanneer niks werk nie, probeer hulle om te bid. Dink aan jou laaste krisis. Die ding of persoon na wie jy eerste vir hulp gedraai het, is jou herder.
‘n Man op ‘n reis na die reënwoude in Afrika was besig om sy gids te volg. Soos hulle dieper in die woud inbeweeg het, het die gids met sy kapmes ‘n weg deur die plantegroei wat soos ‘n muur voor hulle gestaan het, gekap. ‘Hoe weet jy waarheen om te gaan?’ het die man gevra. ‘Waar is die pad?’ Die gids het geantwoord: ‘Ek is die pad.’ Die lewe is soos ‘n oerwoud; jy het ‘n gids nodig wat weet waarheen hy gaan en wat hy moet doen.
Is daar iemand hier op aarde wat gekwalifiseerd is daarvoor? Nee, net die Here is! Daar sal nooit ‘n dag verbygaan waar jy nie sy leiding nodig sal hê nie. Die Bybel sê: ‘…Hy roep sy skape op hulle name en lei hulle uit… die skape hou aan om hom te volg omdat hulle sy stem ken’ (Johannes 10:3-4 NLV). Wat ‘n belofte! Daar is altyd baie stemme wat op jou aandag aandring, insluitend sommiges wat nie regtig vir jou omgee nie. Jesus, jou herder, is egter die een stem wat jy altyd kan vertrou om jou op die regte pad te lei. Dis hoekom dit so belangrik is om sy stem te ken.
Sielskos: Jer 45-48; Mark 2:13-17; Ps 25:16-22; Spr 10:4-7
2024-04-11
Romeine 8:26 ABA
Die lewe kan jou aftrek. Jy kan by ‘n plek kom waar die angs so diep gesetel is of jou stresvlakke so hoog is dat jy nie helder kan dink nie. Die probleem of pyn wat jy ervaar is so oorweldigend dat jy dit nie in woorde kan stel nie. Goeie nuus: Dis dan wanneer die Heilige Gees wat in jou woon, vir jou en deur jou bid.
Soos jy jou laste na die Here toe bring en in sy teenwoordigheid kniel, gebeur daar ‘n wonderlike ding: ‘Die Heilige Gees help ons ook wanneer ons bid. Ons kan nie bid soos God wil hê ons moet bid nie, want ons is swak, maar wanneer die Gees by God kla en sug, dan sê Hy vir God dinge wat mense nie self kan sê nie. God weet alles wat mense dink en Hy weet ook wat die Heilige Gees dink. God weet die Gees doen wat God wil hê, en die Gees sê vir God wat die mense bid, die mense wat aan God behoort’ (verse 26-28 ABA).
Wanneer jy nie weet hoe om te bid nie – word net stil. Bly net met ‘n oop gemoed in God se teenwoordigheid en Hy sal met jou kommunikeer. ‘Julle almal weet egter waaroor dit gaan, want julle dra die salwing van die Heilige Gees’ (1 Johannes 2:20 NLV). Voor God ‘n antwoord in jou gedagtes plaas, plaas Hy sy vrede in jou hart. Dis hoekom gebed nie aangejaag kan word nie. Dis hoekom dit so belangrik is om tyd te neem om voor God te mediteer en stil te wees. Dit laat die Heilige Gees toe om God se gedagtes met jou te deel, sodat jy soos Hy kan begin dink.
Sielskos: Jer 41-44; Mark 2:1-12; Ps 25:8-15; Spr 10:1-3
2024-04-10
Filippense 4:13 NLV
Dit kan verwoestend wees om jou werk te verloor. Dis hoekom jy die regte perspektief moet behou. Om minder te hê maak nie van jou ‘n minderwaardige persoon nie. Die Christelike lewe is een van toetse en oorwinnings. Paulus skryf: ‘Ek weet wat dit is om boomskraap te lewe, en ek weet wat dit is om oorvloed te hê. Ek het lewenservaring opgedoen vir alle omstandighede, vir wanneer ek genoeg het om te eet én wanneer ek honger is, vir oorvloed én tekort. Ek kan onder alle omstandighede regkom deur Hom wat my krag gee’ (verse 12-13 NLV). Wat moet jy doen wanneer jy werkloos is?
1) Jou uitgawes tot die minimum verminder. Dit beteken dat jy dalk die bus of trein moet neem, jou eie middagete moet maak en ander kostebesparende maatreëls moet gebruik.
2) Die stigma uit werkloosheid neem. Moenie aanneem dat mense minder van jou gaan dink omdat jy jou werk verloor het nie. Mense reageer oor die algemeen op dieselfde manier as jy oor jou situasie. Hulle sal jou entoesiasme oor jou volgende skuif inspirerend vind – selfs al weet jy dalk nog nie wat dit gaan wees nie. ‘En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe’ (Romeine 8:28 NLV).
Deur in die tronk gegooi te word, het Josef Egipte se eerste minister geword. ‘Die Here jou God… het die vloek in ‘n seën verander omdat die Here jou God jou liefhet’ (Deuteronomium 23:5 NLV). God kan talente binne-in jou en konneksies rondom jou openbaar en die deur na ‘n vlak van seën en sukses wat jy nooit gedroom moontlik is nie, oopmaak. Vertrou Hom dus en hou aan glo dat jou beste dae nog voor jou lê.
Sielskos: Jer 36:27-40:16; Mark 1:40-45; Ps 25:1-7; Spr 9:17-18
2024-04-09
Psalm 5:13 NLV
Om werksekerheid te hê moet jy die volgende doen:
1) Jou sigbaarheid in jou industrie verhoog. Vestig kontakte en verhoudings met ander buite jou maatskappy deur plaaslike industrie geleenthede waar moontlik by te woon. Jou doel moet nie net wees om genoeg te weet om oor die weg te kom nie, maar om jou vaardighede te ontwikkel. Wanneer die tyd reg is en jy gereed is, sal God vir jou deure oopmaak.
2) Handhaaf ‘n goddelike perspektief oor jou werk. Herinner jouself dat dit nie die enigste bron van jou sekuriteit is nie, maar eenvoudig een van baie kanale wat God kan gebruik om aan jou te voorsien. Lees die verhaal van Elia, die profeet, en hoe God wonderbaarlik deur ‘n kraai, ‘n waterstroom en ‘n enkelma met net genoeg kos vir een maaltyd, aan hom voorsien het. God het vier verskillende strome gebruik om vir die tuin van Eden water te gee. Wanneer jy dus ‘n behoefte of ‘n finansiële tekort het, moet jy Hom vra om verskillende strome van inkomste aan jou te openbaar.
Staan op die volgende twee beloftes: ‘Omdat Christus Jesus dit verdien het, sal my God uit sy ontsaglike rykdom vir julle voorsien in elke behoefte wat julle het’ (Filippense 4:19 NLV). ‘God het die Heilige Gees vir ons gegee, en daarom is ons nie bang nie. Nee, die Heilige Gees maak ons sterk en help ons om lief te wees vir mense en om reg te besluit wat ons moet doen’ (2 Timoteus 1:7 ABA). Vrees en geloof is magtige kragte wat jou lewe wil regeer. Een sal jou egter in die verkeerde rigting neem. Versterk dus vandag jou geloof deur God se Woord te lees, te bid en jou lewe se uitkoms aan Hom toe te vertrou.
Sielskos: Jer 33:1-36:26; Mark 1:35-39; Ps 32; Spr 9:10-16