2024-04-20
Jakobus 3:2 NLV
Die Bybel sê baie oor die gevare van die tong. Jakobus wy ‘n hele hoofstuk aan hierdie onderwerp toe: ‘…Maar ‘n mens wat sy tong in toom kan hou, kan dit ook met sy hele liggaam regkry.’ Dit is ‘n aspek van selfbeheersing om nogal te oorweeg! Die Griekse wysgeer Publius het gesê: ‘Ek het al dikwels my woorde berou, maar nog nooit my stilte nie.’ Die skrywer William Edward Norris het geskryf: ‘As jy jou lippe van glipse wil bewaar, let vyf dinge versigtig op; met wie jy praat, van wie jy praat, hoe, wanneer en waar.’
Koning Dawid stel dit as volg: ‘Ek het gedink dat ek baie goed moet kyk hoe ek leef, want ek wil nie verkeerde dinge sê en so sonde doen nie. Voordat ek praat, sal ek eers mooi dink wat ek sê…’ (Psalm 39:2 DB). Dawid sê dat mens ‘n bewuste besluit moet maak om jou woorde te tel. As jy dit wil doen, is daar drie beginsels waarvolgens jy moet lewe:
1) Dink eerste. Voor jy praat, dink vir tien sekondes en oorweeg eers jou woorde. Is hulle akkuraat of oordrewe? Vriendelik of snydend? Nodig of onnodig? Dankbaar of klaend? Wat jy vandag nie sê nie, hoef jy nie môre oor verskoning te vra nie.
2) Praat minder. Jou kanse om in die moeilikheid te kom neem eksponensieel toe wanneer jy te veel praat. Dis hoekom kompulsiewe praters dit dikwels moeilik vind om vriende te behou. Bewaar jou verbale energie.
3) Begin vandag. Jy het reeds genoeg gelees om jou te help om jou tong in bedwang te hou. Snoer dus vandag jou mond – en kyk hoe dit jou lewe verryk.
Sielskos: Hand 8-9; Mark 3:28-35; Ps 130; Spr 10:24-26
2024-04-19
Matteus 6:33 NLV
Wanneer jy God se Woord lees, ontdek jy hoe Hy oor jou voel. Gevolglik begin jou herinneringe genees, jou selfwaarde word herstel en jy hou op om met ‘n minderwaardige selfbeeld handel te dryf. Wanneer dit gebeur, glo jy nie meer dat enigiemand anders se geselskap bo jou eie verkiesliker is nie. In ‘n opname van vermeende gelukkige paartjies, het meer as 50 persent gesê dat hulle nie weer met dieselfde persoon sal trou nie. Hoekom nie? Omdat die antwoord op eensaamheid nie mense is nie, maar doelgerigtheid!
Die apostel Johannes was ‘n gevangene op die eiland Patmos toe God vir hom die heerlikheid van die hemel gewys en hy die boek Openbaring geskryf het. Paulus was alleen in ‘n Romeinse kerker toe hy die helfte van die Nuwe Testament geskryf het. God het sommige van sy beste werk gedoen toe Hy alleen was met niemand wat Hom kon loof nie, dus het Hy Homself geprys en gesê: ‘…dit was goed in elke opsig…’ (Genesis 1:31 NLV). Kan jy dit doen?
Dis lekker wanneer ander mense mooi dinge van jou sê, maar wanneer jy mooi van jouself kan praat, reflekteer dit jou opinie van jouself – en dis die opinie waarmee jy elke dag moet saamleef. Iewers anderkant eensaamheid is daar ‘n tevredenheid wat uit nood gebore word. Werk dus daaraan om jou verhouding met God te verdiep. Wanneer jy dit doen, sal jy vreugde vind en ook kwaliteite wat jou vir die regte mense aantreklik maak, ontwikkel. Dis hoekom Jesus gesê het dat wanneer ons: ‘…die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle heel eerste prioriteit [maak]; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge as ‘n bonus byvoeg’ – insluitend selfwaarde.
Sielskos: Hand 6-7; Mark 3:20-27; Ps 75; Spr 10:22-23
2024-04-18
1 Korintiërs 12:18 NLV
‘n Gerespekteerde Bybelonderwyser sê: “Omdat my familie so groot is, trek ons name om te besluit vir wie ons geskenke gaan koop. Een Kersdag toe ek my geskenk oopmaak, was ek teleurgesteld. Toe het ek na my tweelingbroer gekyk, wat twee oulike geskenke gekry het. My vrou het agtergekom dat ek teleurgesteld was en vir my gesê: ‘Moenie bekommerd wees nie. Wanneer ons by die huis kom, kan ons dit vir iets anders waarvan jy meer hou gaan omruil.’ Dieselfde gebeur in Christus se liggaam. Wanneer ons die gawes wat God ons gegee het oopmaak, kyk ons dadelik na iemand anders om te sien wat hy of sy gekry het. Wanneer ons na ons gawes kyk, is ons ongelukkig en dink: ‘Ek sal dit omruil vir iets waarvan ek meer hou.'”
Jy besluit nie watter gawe God vir jou gee nie. ‘…God het dit so beskik… dat elkeen van hulle sy eie plek in die liggaam sal hê, soos Hy dit goedvind.’ Soms neem dit jare voor jy jou gawe herken en dit begin uitoefen. In plaas daarvan om iemand anders se gawe te begeer, wees dankbaar vir jou eie en vra God om dit te gebruik om soveel mense moontlik te seën.
As jy vrae daaroor het, gaan lees die Skrif. Paulus sê: ‘…[God se] gawes en roeping staan onherroeplik vas’ (Romeine 11:29 NLV); ‘Ons het gawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het…’ (Romeine 12:6 NLV). ‘…Maar ons het verskillende gawes van God ontvang, die een hierdie, die ander weer die ander’ (1 Korintiërs 7:7 NLV); ‘Dit is een en dieselfde Gees wat al hierdie gawes bewerk en wat aan elkeen uitdeel soos Hy dit goedvind’ (1 Korintiërs 12:11 NLV). Gebruik dus die gawe wat God vir jou gegee het.
Sielskos: Hand 3:11-5:42; Mark 3:13-19; Ps 127; Spr 10:19-21
2024-04-17
2 Korintiërs 10:4-5 NLV
Wanneer die Bybel van ‘n skans of vesting praat, verwys dit na ‘n area van jou lewe wat deur verkeerde denkwyses beheer word. Hierdie skanse sal mense wat dieselfde dink, na jou toe aantrek. Daar is egter goeie nuus. Nie net sal God die skanse in jou lewe aan jou openbaar nie, Hy sal vir jou die gevolge wat hulle veroorsaak het, wys.
Sommige van ons bekommer ons obsessief oor geld, omdat ons moeilike kinderjare gehad het. Gevolglik is ons geneig om meer op onsself as op God staat te maak. Wanneer dit by geld kom, steek ons dit weg, hoop dit op of weerhou dit. Omdat ons bang is om te saai, loop ons die presiese oes wat ons probleem sou oplos, mis.
‘Hoe kan ek dus my skans of vesting hanteer?’ vra jy. Val dit met die Woord van God aan. Jy hoef nie alles wat in jou gedagtes opkom te aanvaar nie; jy het ‘n keuse! As jou gedagtes in lyn met die Woord van God is, aanvaar dit – as dit nie is nie, verwerp dit. Wanneer Satan jou aanval, moenie net daar sit en sê: ‘Ek wens hy wil my uitlos. Ek is nie lus om vandag te baklei nie,’ nie. As jy dit doen, sal hy jou ‘verslind’ (sien 1 Petrus 5:8).
Paulus beskryf jou Bybel as volg: ‘…as swaard, die Gees, dit is God se woord’ (Efesiërs 6:17 NLV). Die Heilige Gees binne-in jou sal die swaard van die Skrif namens jou opneem – mits jy jou werk gedoen het, om die Woord van God in te neem. Wil jy die skanse in jou lewe vernietig? Herprogrammeer dan jou gedagtes met die waarhede van God se Woord.
Sielskos: Hand 1:1-3:10; Mark 3:7-12; Ps 43; Spr 10:17-18
2024-04-16
Deuteronomium 4:9 NLV
Kom ons lees wat God vir die ouers wat die Beloofde Land binnegegaan het, gesê het: ‘Maar pas op! Wees baie versigtig om nooit te vergeet wat julle gesien het wat die Here vir julle gedoen het nie. Solank as wat julle leef, moet julle hierdie dinge onthou. Maak seker dat julle dit vir julle kinders en kleinkinders oorvertel’ (vers 9 NLV). Let die verloop op. Eerstens: ‘Wees baie versigtig om nooit te vergeet.’ Dan: ‘Maak seker dat julle dit vir julle kinders en kleinkinders oorvertel.’
Jou vermoë om jou kinders te beïnvloed en te vorm word op jou geloofwaardigheid by hulle gebaseer. Wanneer die beginsels waarvolgens jy lewe vreugde, vrede, krag, goedheid, dissipline en sukses bewerkstellig, sal jou kinders jou ernstig begin opneem. Jy het ‘n beperkte venster van geleentheid. Daar is vaardighede wat gedurende vroeë kinderjare aangeleer word, wat baie moeilik is om later in die lewe aan te leer.
Het jy al gewonder hoekom dit so maklik is om vir voorskoolse kinders ‘n taal te leer? Hulle leer dit perfek, sonder ‘n sweempie van ‘n aksent. Vyftien of meer jare later, sal hul dit baie moeiliker vind om dieselfde geluide te maak. Dit kan deur ‘n proses genaamd ‘foneemsametrekking’ verduidelik word. Die larinks van ‘n jong kind neem die vorm wat nodig is om enige geluide wat hy of sy leer om te maak, aan. Dit word dan in daardie posisie gevestig, wat dit onmoontlik of uitdagend maak om ander geluide in latere jare te maak.
‘n Kind se houding teenoor ouerleierskap is soortgelyk. Daarom is dit noodsaaklik om gedurende die voorskoolse en vroeë jare hulle wil te ‘vorm,’ deur onvoorwaardelike liefde met konsekwente onderrig en fermheid by die huis te balanseer. As jy daardie geleentheid misloop, kan die tienerjare rowwer, as wat dit moet, wees.
Sielskos: Joël 1-3; Mark 3:1-6; Ps 56; Spr 10:14-16
2024-04-15
Deuteronomium 6:6-7 NLV
Probeer jy jou kinders agter slot en grendel hou om hulle so uit die moeilikheid te hou? Dit sal nie werk nie. Jy hou hulle nie uit die moeilikheid nie, jy stel dit net uit. Dinge soos aandklokreëls, kleredragkodes, internetgebruik en om meer van hulle vriende uit te vind is deel van goeie ouerskap.
Wanneer jy egter nie by hulle is om hulle te lei nie, het hulle riglyne nodig om volgens te lewe. Hierdie riglyne kan in God se Woord gevind word: ‘Jy moet jouself heelhartig verbind aan die gebooie wat ek vandag vir jou gee. Herhaal hierdie woorde oor en oor vir julle kinders. Praat daaroor by die huis en wanneer julle op pad is, wanneer julle lê of wanneer julle opstaan. Bind dit op jou hande as ‘n herinnering en dra dit op jou voorkop. Skryf dit op die deurkosyne van jou huis en van jou poorte’ (verse 6-9 NLV).
Is dit nie interessant hoe elke volgende generasie die vorige een as outyds en verouderd beskou nie? Dis egter nie noodwendig ‘n slegte ding nie. Elke generasie glo dat daar ‘n beter manier is om dinge te doen, wat die fondasie van vooruitgang is. Dis hoekom dit net ses ure neem om van New York tot by Los Angeles met ‘n vliegtuig te reis, in plaas van drie weke met ‘n stoomskip.
God se Woord kan die toets van tyd deurstaan. In plaas daarvan om dus jou kinders stil te maak, nooi hulle uit om vrae te vra en aannames uit te daag. Help hulle dan om by die vaste Skriftuurlike riglyne om volgens te lewe, uit te kom. As ouer is daar geen groter geskenk wat jy vir hulle kan gee nie.
Sielskos: Jer 51-52; Mark 2:23-28; Ps 50:16-23; Spr 10:11-13