Wanneer jy deur moeilike tye gaan (2)

2024-06-02
Psalm 56:4 NLV

Hier is nog twee dinge wat Josef verstaan het en wat jy ook moet verstaan:

1) Jy kan dit nie bekostig om in selfbejammering te verval nie. Miskien gaan jy tans deur ‘n toets waarin jy die onskuldige party is – die slagoffer van ‘n situasie wat jy nie veroorsaak het nie. Oorweeg Josef se reaksie toe hy in ‘n soortgelyke situasie was. Die eerste ding wat hy nie gedoen het nie, was om in selfbejammering te verval. Hoekom nie? Omdat dit ‘n groot bydraende faktor tot depressie is. Dikwels wanneer ons ‘n ernstige probleem ervaar en ons selfbeeld laag is, begin ons onsself blameer en onsself afkraak. Josef het dit nie gedoen nie. Hy het geweet dat die situasie nie deur sy eie toedoen was nie en hy het realisties daarna probeer kyk. Wanneer jy in ‘n storm is en toelaat dat jou boot dwars draai, sal die storm jou omgooi. Soortgelyk, wanneer storms in jou lewe inkom, is die beste manier om hulle te oorkom om God te vertrou en hulle trompop te konfronteer, soos Josef gedoen het.

2) Moet nooit groot besluite neem wanneer jy depressief is nie. Baie keer wanneer ons mismoedig is, kom ons in die versoeking om te sê: ‘Ek gaan tou opgooi,’ of ‘Ek gaan van werk verander,’ of ‘Ek gaan wegtrek,’ of ‘Ek gaan ‘n skeisaak aanhangig maak.’ Moet dit asseblief nie doen nie! Wanneer jy teneergedruk en moedeloos is, is jou gevoelens onbetroubaar en jy verloor jou perspektief om goeie oordeel toe te pas. Wat moet jy dus doen? Vra God om jou daardeur te bring! Sê saam met die Psalmdigter: ‘In God, wie se woord ek prys, in God is my vertroue; ek sal nie vrees nie. Wat kan mense aan my doen?’ (Psalm 56:5 NVL).

Sielskos: Gal 5:23; 2 Tess 1:3-5; 2 Tim 1:7; Heb 11:23-27