Wanneer jy deur moeilike tye gaan (3)
2024-06-03Efesiërs 4:31 NLV
Hier is nog iets wat Josef geweet het en wat jy ook moet weet. Jy kan nie die ekstra bagasie van bitterheid bekostig nie. Na baie jare het Josef weer sy broers gesien, toe hulle Egipte toe gekom het om koring te koop. Soos hulle Josef, Egipte se tweede-in-bevel, ontmoet het en voor hom gebuig het, het hulle hom nie herken nie. Toe Josef vir hulle probeer verduidelik het wie hy is, was hulle verstom en verskrik. Hier was die broer wat hulle jare tevore probeer vermoor het en nou was hy in ‘n posisie waar hy met hulle kon maak net wat hy wil. In plaas daarvan om dit egter te doen, het hy hulle vergewe. Hoekom? Omdat Josef geweet het dat hy nie die ekstra bagasie van bitterheid kon bekostig nie.
Wat moet jy dus doen wanneer jy in die versoeking kom om bitterheid te koester? Doen wat Josef gedoen het: Hy het sy geloof en hoop in God volgehou, geglo dat dinge uiteindelik goed sou uitwerk en sy geestelike lewe voortgesit. Wanneer dinge verkeerd gaan, draai ons dikwels ons rug op die Een wat ons die meeste nodig het – die Here. Wanneer moeilikheid oor ons pad kom, sê ons: ‘God, hoekom het U toegelaat dat dit gebeur?’ Ons blameer God asof dit sy skuld is, in plaas daarvan om te sê: ‘Here, hanteer asseblief hierdie probleem.’
Wanneer mense situasies probeer gebruik om jou te vernietig, kan God dit gebruik om jou te ontwikkel. Hy vind behae daarin om kruisigings in opstandings te verander. Die Bybel sê: ‘Kom nader aan God, en Hy sal nader aan julle kom…’ (Jakobus 4:8 NLV). God daag op uitnodiging op en solank jy aanhou om met Hom te praat en Hom te vertrou, sal Hy dinge vir jou laat uitwerk.
Sielskos: Amos 1:1-5:17; Mark 13:12-23; Ps 82; Spr 14:5-8