Wanneer jy deur moeilike tye gaan (1)

2024-06-01
Genesis 39:21 NLV

Om sy doel te bereik, het Josef deur verraad, versoeking, laster en onregmatige tronkstraf gegaan. Hier is wat Josef besef het en wat jy ook moet besef:

1) God weet waardeur jy gaan en Hy gee om. Daar is ‘n sleutelfrase wat vyf verskillende kere in Josef se verhaal voorkom: “Maar die Here was met Josef.” Selfs wanneer alles verkeerd gegaan het, het Josef nooit getwyfel dat God by hom is nie.

2) Jy is die vryheid van keuse gegee. God gee jou die vryheid om te kies hoe jy op jou omstandighede gaan reageer: geloof of twyfel, vreugde of wanhoop, geduld of ongeduld, ens. Wanneer jy kies om dit wat reg is, te ignoreer, sal God nie sy wil op jou afdwing nie. Soms bring ons probleme oor onsself en blameer dan vir God. Ons sê: ‘Dit moet God se wil wees,’ asof God genot daaruit put om ons foute en ellende te beplan! Die waarheid van die saak is dat God se wil nie altyd seëvier nie. Ja, Hy het ‘n plan vir ons lewens, maar Hy het ook vir ons ‘n vrye wil gegee. Omdat Hy ook vir ander mense ‘n vrye wil gegee het, kan hulle foute en besluite ons ook seermaak.

3) God is in beheer van die finale uitkoms. Hy kan elke negatiewe omstandigheid vandag in jou lewe neem en dit ten goede vir jou omkeer. Aan die einde kon Josef sê: ‘Wat my betref, het God die kwaad wat julle gedoen het, omgekeer in iets wat goed is…’ (Genesis 50:20 NLV). Terwyl God besig was om die goeie uit sy situasie te bring, moes Josef aanhou om Hom te vertrou, selfs al het hy nie op daardie stadium verstaan wat aan die gang was nie – en jy moet dit ook doen.

Sielskos: Klaag 3:40-5:22; Mark 13:1-11; Ps 113; Spr 14:1-4