Maak oulike kinders in ‘n moeilike wêreld groot (2)
2024-05-12Psalm 127:3 NLV
Kom ons kyk vir die volgende paar dae na ‘n paar praktiese areas waar ons as ouers dikwels verward is. 1) Leiding teenoor kritiek. As jy ‘n kalm, aangename en inskiklike kind het wat skool, huiswerk en huishoudelike take geniet, sal dit ‘n vreugde wees om hulle: ‘…met dissipline en teregwysing wat die Here se goedkeuring wegdra’ (Efesiërs 6:4 NLV), op te voed.
Baie van ons het egter selfgeldende kinders met ‘n sterk wil en hul eie agenda ontvang. Hierdie kinders weet wat hulle wil hê en hoe om dit te kry. Hulle weet ook wat hulle nie wil eet, dra, hoor, sê en doen nie! Die ouers van hierdie kinders het hulp nodig om die tipe verhouding wat vertroue skep en wedersydse gesprekke en respek toelaat, te bou. In hierdie gevalle kan leiding maklik in kritiek ontaard wat aanhoudend die kind se foute beklemtoon: ‘Jy lyk soos ‘n hanswors in daardie klere… Jy is nooit betyds nie… Hoekom kan jy nie daarvan hou nie…’
‘n Baie beter benadering is om vir die kind die oplossing uit te wys. Geldige leiding wat negatief aangebied word, sal die kind se eiewaarde skaad, wrokke kweek en die moontlikheid om wedersydse respek op te bou, vernietig. Hulle het nodig om jou te hoor sê: ‘Ek karring nie net aan jou nie – ek is aan jou kant!’
Wanneer normale konflik te voorskyn kom – en dit sal – is die versoeking om aanmatigend en gefrustreerd te word, daar. Dit veroorsaak dat hulle kwaad, ontmagtig en onseker van hulself en van jou voel – ‘n uitnodiging tot rebellie. As jy egter jou kind as iemand wat aan hulle kant is, met geduldige, praktiese hulp lei, sal skakels gevorm word wat samewerking, vertroue en wedersydse respek aanmoedig.
Sielskos: Gal 5:22; Luk 19:11-26; Ps 36:5-9; Heb 10:19-23