Maak oulike kinders in ‘n moeilike wêreld groot (5)

2024-05-15
Kolossense 3:21 NLV

Verbitterde kinders raak uiteindelik moedeloos. ‘n Moedelose kind het minder hoop, is minder entoesiasties, het ‘n gebrek aan vasberadenheid en word maklik om die bos gelei. Deur jou kind se hoop te vernietig, ondermyn jy hulle Godgegewe geaardheid. Kinders word met optimisme, inspirasie, afwagting en moontlikhede gebore. Sonder hoop, is daar niks wat hulle inspireer nie. Hopeloosheid bring depressie en donkerte van hart en siel mee.

Wanneer jy jou kinders ontmoedig, vernietig jy hulle selfvertroue en maak hulle onseker en nie in staat om die lewe te trotseer nie. Selfvertroue is noodsaaklik vir ‘n gesonde selfbeeld, om met ander mense om te gaan en sukses in hulle opvoeding en beroep te behaal. ‘n Moedelose kind verloor hulle sekerheid en word ‘n gebroke gees. Die gees is die kern van die wese. ‘n Gebroke gees produseer ‘n gebroke mens. ‘…’n Neerslagtige mens tap jou krag’ (Spreuke 17:22 NLV).

Ons strate is vol gebroke kinders. Hierdie kinders het nie die vasberadenheid om sukses te behaal nie, om doelwitte te stel en dit te bereik nie. ‘Wanneer ‘n volk nie duidelikheid het oor die wil van God nie, word hulle koersloos…’ (Spreuke 29:18 NLV). Dis jou visie wat jou die innerlike krag gee om iets tot die einde, ten spyte van die struikelblokke wat voorkom, deur te sien. Dit verg ‘n heel, veerkragtige kind om die lewe se struikelblokke te oorkom.

Hoe kan jy hulle help? ‘…voed hulle op met dissipline en teregwysing wat die Here se goedkeuring wegdra’ (Efesiërs 6:4 NLV). Jy moet hulle koester, God se Woord vir hulle leer selfs wanneer hulle onverskillig daaroor lyk, doen wat jy sê, konsekwent met jou reëls wees, hulle laat sien hoe jy God se Woord lees en aanhoudend bid. Moedig hulle altyd aan en moet nooit, ooit oor hulle tou opgooi nie!

Sielskos: Deut 30:1-32:28; Mark 8:27-38; Ps 57; Spr 12:15-17