Moenie terugslaan nie

2024-05-26
Romeine 12:19 NLV

Die Bybel sê: ‘Wees eerder vriendelik met mekaar. Gee vir mekaar om. Vergewe mekaar soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het’ (Efesiërs 4:32 NLV). Jy sê: ‘Maar wat hulle aan my gedoen het was onregverdig, onvriendelik en ongevraagd.’ Presies – en God voel dieselfde oor sommige van die goed wat jy al gedoen het! Enige poging om ‘n onreg te wreek is ‘n skending van God se Woord. Dit sluit in om sleg van hulle te praat, sarkastiese opmerkings te maak, te weier om hulle te help, of jouself tot fisieke geweld of verbale aanvalle te wend.

As jy deur iemand by die werk seergemaak is, sluit dit om maatskappyhulpbronne sonder magtiging te neem, om werkplekreëls strenger op die oortreder as ander toe te pas en om jou pas doelbewus te vertraag om hulle te frustreer, in. As jy deur jou maat seergemaak is, sluit dit om jou liefde en geneentheid te weerhou, in.

Paulus skryf: “…vra God om hulle te seën… Moenie vir enigiemand kwaad met kwaad terugbetaal nie; wees positief oor alle mense. Sover dit vir julle moontlik is, moet julle goeie verhoudings handhaaf met alle mense. Geliefdes, julle moet julleself nie wreek nie. Laat die straf aan God oor. Daar staan mos in die Skrif: ‘Dit is mý reg om te straf; Ek sal vergeld, sê die Here'” (Romeine 12:14, 17-19 NLV).

Om kwaad met kwaad te vergeld, sal jou nie bevrediging bring nie. Buitendien, het jy daaraan gedink dat die persoon wat jou seergemaak het, dalk werklik verander het? Vergelding vernietig net jou gemoedsrus omdat jy weet dat dit God mishaag. Bid vandag: ‘Vader, ek laat vandag enige begeerte om terug te slaan, gaan. Ek wil in U vrede wandel, U genade aan ander bewys en enige straf aan U oorlaat. Amen.’

Sielskos: Gal 5:23; Jes 40:9-11; Jes 42:1-4; Ef 4:1-3

God sal jou vergewe en jou herstel

2024-05-25
Psalm 51:3 NLV

Daar is slegte nuus en daar is goeie nuus. Die slegte nuus is toe Dawid sy sonde probeer wegsteek het, het God dit aan die hele volk blootgelê. Die goeie nuus is dat toe Dawid sy sonde bely het, het God hom vergewe en sy rekord uitgevee. Wat God vir Dawid gedoen het, sal Hy ook vir jou doen. Al wat jy moet doen, is om op jou knieë te gaan en te bid: ‘…Wis tog my sonde uit… Skep vir my ‘n rein hart, o God…’ (verse 3, 12 NLV).

As jy wil weet hoe God op so ‘n gebed reageer, lees wat Hy vir Salomo, Dawid se seun, gesê het: “…Dien My met opregtheid en vroomheid soos jou pa, Dawid, gedoen het, doen alles wat Ek beveel het en voer my bevele en voorskrifte uit. Dan sal Ek jou koningskap oor Israel bevestig soos Ek aan jou pa, Dawid, belowe het: ‘Daar sal altyd iemand uit jou nageslag op die troon van Israel wees'” (1 Konings 9:4-5 NLV).

Jy mag dalk vandag voel of jy as gevolg van jou sonde, hoop, verlossing en die geleentheid om bruikbaar vir God te wees, verbeur het. Moet dit nie glo nie! Jy kan herstel word. Jy kan genees word. Jy kan vergewe word. Jy kan jou integriteit terugkry. Jy kan weer heel word. Jy kan sing: ‘There is a fountain filled with blood, drawn from Immanuel’s veins, and sinners plunged beneath that flood, lose all their guilty stains.’

Die woord vir jou vandag is – God sal jou vergewe en herstel. Al wat jy moet doen is om Hom daarvoor te vra.

Sielskos: Rig 12-15; Mark 11:1-11; Ps 97; Spr 13:9-10

Herinner jouself aan God se Woord (5)

2024-05-24
Psalm 119:28 NLV

Wanneer jy depressief is. Wanneer depressie fisiologies gebaseer is, kan God jou deur ‘n wonderwerk, die regte mediese behandeling, vitamiene, kruie en aanvullings genees. Soms gaan dit egter dieper en net soos jou liggaam aan ‘n siekte kan ly, so kan jou siel ook. Gelukkig is God die beste dokter vir die siel! Die Psalmdigter het gesê: ‘Wanneer ek roep, antwoord U my; U bemoedig my en gee my krag’ (Psalm 138:3 NLV).

In plaas daarvan om tou op te gooi en vrede te maak met die feit dat depressie in jou familie voorkom, herinner jouself aan God se Woord. Jesus het gekom: ‘…om dié wat hartseer is, te troos, om vir die gevangenes vryheid aan te kondig… almal wat treur, troos Hy, die dag wanneer Hy voorsien vir dié wat in Sion treur, eer gee in plaas van smart, vreugde gee in plaas van droefheid, blydskap in plaas van hartseer…’ (Jesaja 61:1-3 NLV).

Die Bybel sê: ‘U wys vir my die lewenspad; in u teenwoordigheid is vreugde, en aan u regterhand is daar blydskap vir altyd’ (Psalm 16:11 NLV).<br.'Dié wat die Here bevry het… sal sing van blydskap, hulle sal vol vreugde wees, ellende en smart sal verdwyn' (Jesaja 35:10 NLV).
‘Dit het Ek vir julle gesê sodat julle my blydskap mag ervaar en julle blydskap volkome kan wees’ (Johannes 15:11 NLV).
‘Tot nou toe het julle nog nie op grond van My naam gebid nie. Hou aan bid, en julle sal ontvang sodat julle blydskap volledig kan wees’ (Johannes 16:24 NLV).

Elke oggend wat jy opstaan, kyk in die spieël en verklaar: ‘Dit is die dag wat die Here gemaak het. Laat ons daaroor juig en bly wees’ (Psalm 118:24 NLV). God wil jou van jou depressie bevry en wanneer jy jou deel doen, sal Hy sy deel doen.

Sielskos: Rig 9:34-11:40; Mark 10:35-52; Ps 129; Spr 20:25

Herinner jouself aan God se Woord (4)

2024-05-23
1 Korintiërs 1:9 NLV

Wanneer jy onbevoeg vir die werk voel. Het jy al ooit ‘n werk gekry waarvoor jy nie bevoeg gevoel het nie? Geen probleem – dis ‘n geleentheid vir God om te wys dat Hy namens jou sterk is (sien 2 Kronieke 16:9). ‘Gee jou kommer oor aan die Here. Hy sal vir jou sorg. Hy sal gelowiges nie teleurstel nie’ (Psalm 55:23 NLV).

In plaas daarvan om bang vir die uitdaging te wees, begin jou geloof voed. ‘Die geloof volg uit die aanhoor van die boodskap. En die aanhoor van die boodskap volg uit die prediking van die Goeie Nuus wat handel oor Christus’ (Romeine 10:17 NLV). Bestee meer tyd in gebed en beweeg nader aan Jesus: ‘As julle aan My verbind bly en my woorde ‘n stewige vastrapplek in julle gekry het, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. Dit is juis hierin dat my Vader verheerlik word, dat julle baie vrugte oplewer en my dissipels is’ (Johannes 15:7-8 NLV).

In plaas daarvan om tot jou vrees in te gee, staan op God se Woord: ‘…dink maar net terug hoe julle eie situasie destyds was toe God julle geroep het. Gemeet aan menslike standaarde was daar maar min intellektueles onder julle… Nietemin het God doelbewus dit wat vir die wêreld na dommigheid gelyk het, uitgekies om die slim mense skaam te maak… Gevolglik het niemand enige grond om sy bors voor God uit te stoot nie’ (1 Korintiërs 1:26-29 NLV). ‘Hy moet geprys word – Hy wat mag het om deur die krag wat in ons werk, oneindig meer te doen as wat ons vra of dink om te vra’ (Efesiërs 3:20 NLV). Jy is reg; op jou eie is jy nie opgewasse vir die taak nie. Met God egter aan jou sy, kan jy die uitdaging die hoof bied!

Sielskos: Rig 7:1-9:33; Mark 10:23-34; Ps 93; Spr 13:7-8

Herinner jouself aan God se Woord (3)

2024-05-22
Spreuke 27:20 NLV

Wanneer jy deur materialisme beheer word. Die Bybel sê: ‘…’n Mens se begeertes kry ook nooit ‘n einde nie.’ Dis in die haak om ‘n mooi huis, ‘n betroubare kar en finansiële sekuriteit te wil hê – en God sal dit voorsien indien jy ‘n goeie rentmeester is van dit wat Hy reeds aan jou toevertrou het.

As jy egter meer wil hê as wat jy nodig het of meer as wat nodig is om sy wil te vervul, noem die Bybel dit ydelheid. Hierdie woord beteken leeg, hol of doelloos. Salomo skryf: ‘Mense wat geld liefhet, kry nooit genoeg daarvan nie. Mense wat van rykdom hou, is nooit tevrede met hulle inkomste nie. Ook dit is sinloos’ (Prediker 5:9 NLV). Voor jy dus vir God vir welvaart vra, vra Hom om jou lewensdoel aan jou te openbaar aangesien dit direk aan mekaar gekoppel is. Jesus het gesê: ‘…Ware lewe word nie gemeet aan hoeveel ons besit nie’ (Lukas 12:15 NLV).

God gebruik ‘n ander maatstaf, in sy Woord sê Hy: ‘…is in staat om aan julle elke gawe in oorvloed te gee sodat julle in elke opsig altyd van alles genoeg kan hê én ook nog oorvloedig kan wees in elke goeie werk… God wat saad voorsien aan die saaier en dan brood om te eet, sal ook aan julle saad gee en dit laat toeneem en die vrugte van julle goedhartigheid lieflik laat groei. In elke opsig sal julle ryk gemaak word om ook by elke geleentheid vrygewig te kan wees… julle vrygewigheid [bring] mee dat God gedank word’ (2 Korintiërs 9:8, 10-11 NLV).

Is God gewillig om jou finansieel te seën? Ja, maar net as jy bereid is om ‘n kanaal en verspreider van sy seëninge te wees.

Sielskos: Rig 4-6; Mark 10:13-22; Ps 88:9b-18; Spr 13:4-6

Herinner jouself aan God se Woord (2)

2024-05-21
Jakobus 1:5 NLV

Wanneer jy ‘n moeilike toets of eksamen moet deurkom. Die vrees vir mislukking kan veroorsaak dat jou brein op die oomblik wat jy nodig het dat jou gedagtes vrylik moet vloei, vries. Wanneer jy weet dat jy jou bes gedoen het om die materiaal te bestudeer en jouself voor te berei, moet jy God vir die resultate vertrou en jouself aan Sy Woord herinner:

‘Vertrou op die Here en doen wat goed is… Wees bly in die Here, en Hy sal jou hartsbegeertes aan jou gee. Vertrou jou lewe toe aan die Here. Vertrou Hom, en Hy sal vir jou sorg’ (Psalm 37:3-5 NLV).
‘Vra My, en Ek sal jou ‘n antwoord gee. Ek sal jou van ongelooflike dinge vertel. Dit is nou nog vir jou ‘n geheim…’ (Jeremia 33:3 NLV).
‘Hy sal roep, en Ek sal antwoord; in nood sal Ek by hom wees. Ek sal hom red en in eer herstel’ (Psalm 91:15 NLV).
‘En wanneer die Raadgewer, die Heilige Gees, kom wat die Vader in my Naam sal stuur, sal Hy julle in alle opsigte onderrig en julle ook herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het’ (Johannes 14:26 NLV).
‘Wat ons ook al bid, kry ons van Hom omdat ons sy opdragte gehoorsaam en dié dinge in sy teenwoordigheid doen wat Hom bly maak’ (1 Johannes 3:22 NLV).

Moenie bang wees nie; God sal saam met jou gaan wanneer dit tyd is om daardie toets of eksamen te gaan skryf. Lank voordat jy gebid het, het Hy reeds jou hart en gedagtes voorberei: ‘Ek sal hulle antwoord nog voor hulle na My roep. Terwyl hulle vra, sal Ek hulle gebede verhoor’ (Jesaja 65:24 NLV). Maak jou rug dus reguit en stap daardie eksamenlokaal met die wete dat God by jou is, binne!

Sielskos: Rig 1-3; Mark 10:1-12; Ps 88:1-9a; Spr 13:1-3