Hoe om vrede te hê (3)
2024-07-07Psalm 119:165 AFR53
Om ware vrede te ontvang, moet jy twee dinge doen:
1) Volgens die beginsels van God se Woord lewe. ‘Die wat u wet liefhet, het groot vrede, en vir hulle is daar geen struikelblok nie.’ Vrede daag op wanneer jy in harmonie met God leef. ‘n Nuwe kar kom met ‘n handleiding vir die eienaar. Dit sê vir jou dat jy sekere dinge op sekere tye moet doen, sodat jou kar optimaal kan funksioneer. Soortgelyk is die Bybel jou handleiding vir die lewe. Dit bevat leidende beginsels oor finansies, gesondheid, die huwelik, besigheid, verhoudings en vele meer. Net soos jou motor gladder ry wanneer jy dit volgens sy ontwerp gebruik, so sal jou lewe gladder verloop wanneer jy dit volgens God se ontwerp uitleef.
2) God se vergifnis aanvaar. Skuldgevoelens vernietig vrede. Wanneer ons skuldig voel, word ons deur ons verlede agtervolg. Dis hoekom ons lees van mense wat vergifnis vra vir ‘n onreg wat hulle dertig jaar gelede gepleeg het. Hulle sê: ‘Ek het al hierdie jare in die hel geleef en moes dit van my gewete afkry.’ Die enigste manier om vrede te hê, is om ‘n skoon gewete te hê en slegs God is in staat om dit vir jou te gee. ‘Wie is ‘n God soos U? U vergewe sonde en straf nie die sonde of die oortredings van hulle wat oorgebly het nie. U is nie vir altyd kwaad nie, maar is liefdevol en getrou’ (Miga 7:18 NLV). Miga sê dat God gretig, gereed en wagtend is om jou lei skoon te vee. Dis sy persoonlikheid. Hy geniet dit om te vergewe. ‘As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van elke verkeerde optrede’ (1 Johannes 1:9 NLV).
Sielskos: Matt 5:7; Matt 18:21-35; Ps 103:8-18; Klaag 3:22-24