Hoe om vrede te hê (5)

2024-07-09
Spreuke 3:5 NLV

Die Bybel sê: ‘Vertrou op die Here met alles wat jy het. Moenie staatmaak op jou eie insigte nie. Vra na die wil van God in alles wat jy doen. Hy sal die regte pad vir jou wys’ (verse 5-6 NLV). God wil hê dat jy Hom moet vertrou. Solank as wat jy sukkel om dinge op jou eie uit te pluis, vertrou jy nie vir God nie en sal jy nie vrede hê nie. Jy moet Hom met jou gesondheid, jou geld, jou verhoudings en jou toekoms vertrou. Met alles! God maak nooit ‘n fout nie. Hy pas alles foutloos in sy plan vir jou in (sien Romeine 8:28). Al wat Hy van jou verwag is dat jy erken dat Hy in beheer is. Wanneer jy dit doen, beloof Hy om ‘…die regte pad vir jou [te] wys’ (Spreuke 3:6 NLV).

Wanneer ons poog om ons eie lewens te rig, volg ons arbitrêre paaie wat met besluiteloosheid gevul is: ‘Moet ek dit of dat doen? Moet ek hier of daar gaan?’ Dit veroorsaak stres! Wanneer jy egter op die Here vertrou, rig Hy jou paaie en maak jou suksesvol, nie stresvol nie. ‘Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen. As julle so bid, sal julle God se vrede beleef. Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink. Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas’ (Filippense 4:6-7 NLV). Let die volgorde op – eers gebed, dan vrede. Wanneer druk dus begin ophoop, in plaas van paniekerig raak, begin bid! Gebed is ‘n merkwaardige stresverligter.

Sielskos: 1 Sam 24-26; Luk 5:27-39; Ps 110; Spr 17:15-17