Hoe om ander mense te beïnvloed
2024-07-12Jakobus 1:19 NLV
Jy het nie ‘n towerkunsie nodig wanneer dit daarby kom om ander mense te beïnvloed en ‘n impak op hulle te hê nie. Die Bybel gee jou die formule – hier is dit:
1) Probeer om aandagtig te luister. Die waarheid is dat mense nie omgee hoeveel jy weet, totdat hulle weet hoeveel jy omgee nie. Hulle is geneig om dit wat hulle hoor deur hulle eie lewenservarings, voorkeure en die spesifieke probleem waaroor hulle tans tob, te filtreer. As jy dus wil hê dat mense moet luister as jy praat, moet jy aandagtig na hulle luister.
2) Moenie te veel sê nie. As jy geneig is om te veel of te vinnig te praat, is hier drie wenke vir jou: a) Stop. Hou op praat. Haal asem. Tel tot tien. Verskoon jouself vir ‘n paar minute. b) Oefen om nie ander mense in die rede te val nie. Laat die ander persoon toe om dit wat hy of sy besig is om te sê, klaar te maak. c) Vra jouself af hoekom jy so baie praat. Is dit onsekerheid? Angstigheid? Die behoefte aan beheer? Die begeerte om te beïndruk? Die rede hoekom so baie van ons probeer om ander mense te oortuig, te beïndruk en te beheer is omdat ons dit moeilik vind om God te vertrou om dinge vir ons te laat uitwerk. Dra slegs die boodskap oor en vertrou God om die res te doen.
3) Hou jou woede in toom. As jy die eerste twee beginsels implementeer, behoort jy die derde beginsel maklik onder die knie te kry. As jy hierdie beginsels jaar na jaar beoefen sal jy, wanneer jy aan die einde van jou lewe kom en daarop terugkyk, bly wees dat jy God se Woord en sy wysheid ernstig opgeneem het.
Sielskos: Ef 4:17-6:24; Luk 6:27-36; Ps 79; Spr 17:24-26