Hoe om vrede te hê (4)
2024-07-08Psalm 46:11 NLV
Om vrede te hê, moet jy op God se teenwoordigheid fokus. Dit waarop jy kies om te fokus, spoor óf jou vrese, óf jou geloof aan. Die Bybel sê: ‘U bewaar elkeen wat op U vertrou in vrede, die mense wie se gedagtes op U gerig is’ (Jesaja 26:3 NLV). Die Psalmdigter sê: ‘God is ons toevlug en ons krag; in nood is Hy gereed om te help’ (Psalm 46:2 NLV). Later in dieselfde psalm herinner Hy ons: ‘Wees stil en weet Ek is God!..’ (vers 11 NLV).
Hierdie verse is in die tyd van Hiskia se koningskap geskryf. Gewapende magte van die vyand het Jerusalem omring. Die Israeliete was gespanne en het hierdie gebed gebid! Vyf minute voor die middaguur het God die Assiriërs met ‘n plaag getref en 185 000 van hulle het omgekom. Jerusalem is gered en almal was bly daaroor. Hierdie psalm help ons om te onthou dat God ons toevlug is. Maak nie saak hoe oorweldigend die omstandighede is nie, Hy is altyd by jou om te help. Hierdie psalm leer ons twee dinge om God se hulp in moeilike tye te ontvang.
Die eerste is om stil te wees. Baie van ons moeilikheid spruit uit ons onvermoë om stil te sit. Die tweede ding is dat ons moet weet dat Hy God is. Wees stil en weet. Wanneer jy op hierdie manier lewe, sal ‘…julle God se vrede beleef. Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink. Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas’ (Filippense 4:7 NLV). Wanneer jy daaroor dink, is dit die enigste manier om te lewe!
Sielskos: 1 Sam 20:30-23:29; Luk 5:12-26; Ps 102:18-28; Spr 17:11-14