Wanneer jy deur moeilike tye gaan (1)

2024-06-01
Genesis 39:21 NLV

Om sy doel te bereik, het Josef deur verraad, versoeking, laster en onregmatige tronkstraf gegaan. Hier is wat Josef besef het en wat jy ook moet besef:

1) God weet waardeur jy gaan en Hy gee om. Daar is ‘n sleutelfrase wat vyf verskillende kere in Josef se verhaal voorkom: “Maar die Here was met Josef.” Selfs wanneer alles verkeerd gegaan het, het Josef nooit getwyfel dat God by hom is nie.

2) Jy is die vryheid van keuse gegee. God gee jou die vryheid om te kies hoe jy op jou omstandighede gaan reageer: geloof of twyfel, vreugde of wanhoop, geduld of ongeduld, ens. Wanneer jy kies om dit wat reg is, te ignoreer, sal God nie sy wil op jou afdwing nie. Soms bring ons probleme oor onsself en blameer dan vir God. Ons sê: ‘Dit moet God se wil wees,’ asof God genot daaruit put om ons foute en ellende te beplan! Die waarheid van die saak is dat God se wil nie altyd seëvier nie. Ja, Hy het ‘n plan vir ons lewens, maar Hy het ook vir ons ‘n vrye wil gegee. Omdat Hy ook vir ander mense ‘n vrye wil gegee het, kan hulle foute en besluite ons ook seermaak.

3) God is in beheer van die finale uitkoms. Hy kan elke negatiewe omstandigheid vandag in jou lewe neem en dit ten goede vir jou omkeer. Aan die einde kon Josef sê: ‘Wat my betref, het God die kwaad wat julle gedoen het, omgekeer in iets wat goed is…’ (Genesis 50:20 NLV). Terwyl God besig was om die goeie uit sy situasie te bring, moes Josef aanhou om Hom te vertrou, selfs al het hy nie op daardie stadium verstaan wat aan die gang was nie – en jy moet dit ook doen.

Sielskos: Klaag 3:40-5:22; Mark 13:1-11; Ps 113; Spr 14:1-4

Om te groei moet ons aanhou vrae vra

2024-05-31
Matteus 21:24 NLV

Jesus het dikwels ‘n vraag met nog ‘n vraag beantwoord. Toe Hy gevra is of mense belasting moet betaal, het Hy ‘n muntstuk geneem en gesê: ‘…Wie se kop en titel is hierop afgedruk?’ Hulle het Jesus geantwoord: ‘Die keiser s’n.’ ‘Wel,’ het Hy gesê, ‘gee dan aan die keiser wat hom toekom. Maar gee aan God alles wat Hóm toekom…’ (Markus 12:16-17 NLV).

Dit kom voor asof ons bang is om vrae te vra en om hulle te beantwoord. God sal egter veel eerder ‘n opregte vraag wat uit nederigheid gebore is as ‘n oneerlike gebed wat uit trots gebore is, ontvang. As ons nie oor werklike probleme wat mense in die gesig staar praat nie, gaan ons ons profetiese stem verloor. Wanneer mense ons vra: ‘Wie is God? Wie is ek? Wat is die ware doel van my lewe?’ sal hulle nie met maklike antwoorde of clichés wat ons langs die pad opgetel het, tevrede wees nie. God word nie deur sulke vrae geïntimideer nie.

Soos die ouer van ‘n nuuskierige kleuter, lag God partykeer vir ons vrae. Hy verwelkom dit egter altyd. Die kerk behoort die veilige spasie te wees waar mense gevaarlike vrae kan vra. Ons maak onsself egter dikwels skuldig daaraan om vrae te beantwoord wat niemand eers vra nie. Ons is veronderstel om die status quo uit te daag, maar ons is dikwels besig om dit te verdedig.

Wat as ons ophou om antwoorde af te dwing en leer om nuuskierigheid in ons kerke aan te moedig? Dis ons nuuskierigheid oor God wat ‘n onblusbare begeerte om Hom te ken, aanwakker. Kom ons hou dus aan om vrae te vra en moedig ander aan om dieselfde te doen.

Sielskos: Klaag 1:1-3:39; Mark 12:28-44; Ps 108; Spr 13:24-25

Gideon se God is jou God

2024-05-30
Rigters 6:14 NLV

Die Bybel sê: ‘Die Engel van die Here het toe aan hom verskyn. Hy het vir hom gesê: ‘Die Here is by jou, dapper man!’ ‘Meneer,’ het Gideon vir hom gesê, ‘as die Here wel by ons is, waarom gebeur al hierdie dinge met ons?’… Die Here het toe na Gideon toe gedraai en vir hom gesê: ‘Gaan met hierdie krag wat jy het en gaan bevry die Israeliete uit die mag van die Midianiete! Dis Ek wat jou stuur.’ Maar Gideon sê vir Hom: ‘Verskoon my, Meneer, maar hoe kan ek Israel red? My familie is een van die swakstes in Manasse. Ek is die onbelangrikste lid van my gesin.’ ‘Ek is dan saam met jou!’ het die Here vir hom gesê. ‘Jy sal al die Midianiete verslaan asof jy net teen een man veg’ (verse 12-16 NLV).

Voel jy vreesbevange en onbevoeg? Gideon was besig om op die vloer van ‘n parskuip koring uit te slaan, waar hy vir die Midianiete weggekruip het (sien vers 11 NLV). Tog het God hom ‘n ‘dapper man’ genoem. Lees die volgende woorde aandagtig deur: ‘Dink aan wat lank gelede gebeur het. Ek is God. Daar is geen ander nie… Ek maak die einde bekend vanaf die begin. Uit die verlede, dit wat nog moet gebeur. Wat Ek besluit, voer Ek uit. Wat Ek wil, doen Ek’ (Jesaja 46:9-10 NLV).

God sê vandag vir jou: ‘…Gaan met hierdie krag wat jy het… Dis Ek wat jou stuur’ Wanneer God jou stuur is jou sukses, ten spyte van al die struikelblokke, vyande en beperkings waarvan jy so bewus is, gewaarborg. As jy onwillig is om te beweeg totdat dinge beter daar uitsien, sal jy nie wen nie. Begin waar jy is en gebruik wat jy het, dan sal God vir jou meer gee.

Die Bybel sê: ‘Die Engel van die Here het toe aan hom verskyn. Hy het vir hom gesê: ‘Die Here is by jou, dapper man!’ ‘Meneer,’ het Gideon vir hom gesê, ‘as die Here wel by ons is, waarom gebeur al hierdie dinge met ons?’… Die Here het toe na Gideon toe gedraai en vir hom gesê: ‘Gaan met hierdie krag wat jy het en gaan bevry die Israeliete uit die mag van die Midianiete! Dis Ek wat jou stuur.’ Maar Gideon sê vir Hom: ‘Verskoon my, Meneer, maar hoe kan ek Israel red? My familie is een van die swakstes in Manasse. Ek is die onbelangrikste lid van my gesin.’ ‘Ek is dan saam met jou!’ het die Here vir hom gesê. ‘Jy sal al die Midianiete verslaan asof jy net teen een man veg’ (verse 12-16 NLV).

Voel jy vreesbevange en onbevoeg? Gideon was besig om op die vloer van ‘n parskuip koring uit te slaan, waar hy vir die Midianiete weggekruip het (sien vers 11 NLV). Tog het God hom ‘n ‘dapper man’ genoem. Lees die volgende woorde aandagtig deur: ‘Dink aan wat lank gelede gebeur het. Ek is God. Daar is geen ander nie… Ek maak die einde bekend vanaf die begin. Uit die verlede, dit wat nog moet gebeur. Wat Ek besluit, voer Ek uit. Wat Ek wil, doen Ek’ (Jesaja 46:9-10 NLV).

God sê vandag vir jou: ‘…Gaan met hierdie krag wat jy het… Dis Ek wat jou stuur’ Wanneer God jou stuur is jou sukses, ten spyte van al die struikelblokke, vyande en beperkings waarvan jy so bewus is, gewaarborg. As jy onwillig is om te beweeg totdat dinge beter daar uitsien, sal jy nie wen nie. Begin waar jy is en gebruik wat jy het, dan sal God vir jou meer gee.

Is jy bekommerd oor jou aftrede?

2024-05-29
Matteus 6:31-33 NLV

‘n Opname is onder Amerikaners vyftig jaar en ouer geneem en die helfte van hulle het minder as dertig duisend dollar in hulle pensioenfonds gehad. Omdat ons almal langer lewe, beteken dit: a) baie mense gaan van die regering vir hul oorlewing afhanklik wees, en b) baie mense wat beplan het om af te tree, gaan moet aanhou werk. Dis ‘n wêreldwye probleem. Wat staan jou dus te doen?

1) Sny waar jy kan en spaar meer. ‘In ‘n wyse mens se huis is altyd kosbare besittings… ‘n Dwase mens gebruik alles op wat hy in sy huis het’ (Spreuke 21:20 NLV).

2) Kry ‘n finansiële raadgewer om jou te help assesseer hoe jou sake lyk en die vlak van inkomste en uitgawes wat jy waarskynlik tydens jou aftrede gaan hê, te bepaal. So kan jy ‘n plan wat by jou finansiële doelwitte pas, uitwerk. ‘In die huis van regverdiges is daar skatte. Wat die goddelose inbring, bring vir hom moeilikheid’ (Spreuke 15:6 NLV).

3) Eer God met jou finansies. ‘Vereer die Here met alles wat jy besit. Gee vir Hom die beste van jou oes. Hy sal jou opgaarplekke vol maak…’ (Spreuke 3:9-10 NLV). Om jou tiende te gee, bring God se seën mee!

4) Vertrou op God om vir jou te sorg. ‘Moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat sal ons tog eet?’ of: ‘Wat sal ons drink?’ of: ‘Wat sal ons aantrek?’ nie. Dit is die ongelowiges wat oor hierdie soort dinge begaan is. Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle heel eerste prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge as ‘n bonus byvoeg. Moet julle daarom nie oor môre bekommer nie…’ (Matteus 6:31-34 NLV).

Sielskos: Gal 1-3; Mark 12:1-12; Ps 128; Spr 13:17-19

Die regte balans

2024-05-28
Johannes 1:14 NLV

Sommige van ons is groot in genade, maar versuim om mense met die waarheid te konfronteer sodat ons hulle nie aanstoot gee nie. Ander van ons is groot in die waarheid, maar versuim om God se genade aan mense te wys. Jesus was egter: ‘…vol liefdevolle goedheid en waarheid,’ en dis die balans waarna jy moet streef!

‘n Man met min belangstelling in geestelike sake het ‘n informele vriendskap met die Christen wat langs hom gewoon het, gehad. Hulle het oor die heining met mekaar gepraat, mekaar se gereedskap geleen en so aan. Toe het die ongelowige man se vrou ongelukkig aan kanker gesterf. Hier is ‘n deel van die brief wat hy na haar dood aan haar geskryf het: ‘Ek was totaal wanhopig. Ek het deur die begrafnisvoorbereidings en die diens gegaan asof ek in ‘n beswyming was. Na die diens het ek na die paadjie langs die rivier gegaan en die hele nag daar gestap. Maar ek het nie alleen gestap nie. My buurman – ek dink hy was bekommerd oor my geestestoestand – het die hele nag by my gebly. Hy het nie gepraat nie; hy het nie eers langs my geloop nie. Hy het my net gevolg. Toe die son uiteindelik oor die rivier opkom, het hy na my toe gekom en gesê: ‘Kom ons gaan kry ontbyt.’ Ek gaan deesdae kerk toe. ‘n Godsdiens wat hierdie soort omgee kan voortbring, is iets waaroor ek meer wil uitvind. Ek wil vir die res van my lewe so liefhê en liefgehê word.’

‘Moenie veins dat jy ander liefhet nie; doen dit uit jou hart uit…’ (Romeine 12:9 NLV). Wanneer jy mense met genade en goedheid behandel, sal hulle hul harte en gedagtes vir die waarheid wat jy met hulle wil deel, oopmaak.

Sielskos: Rig 19:16-21:25; Mark 11:27-33; Ps 45; Spr 13:13-16

Is jy ‘n ware vriend?

2024-05-27
Spreuke 17:17 NLV

Twee mans het saam gereis toe daar skielik ‘n beer uit die niet verskyn. Voor die beer hulle kon raaksien, het een man na ‘n boom langs die pad gehardloop, in hom geklim en weggekruip. Die ander man, wat nie so rats soos sy reisgenoot was nie, het gaan lê en gemaak of hy dood is. Die man het altyd gehoor dat bere nie aan ‘n dooie liggaam sal raak nie, dus het hy heeltemal stil gelê en sy asem opgehou. Die beer het na hom toe geloop, oral rondom hom gesnuffel en toe gelyk asof hy iets in sy oor fluister. Daarna het die beer omgedraai en geloop. Toe dit lyk of dit weer veilig is, het die ander man uit die boom geklim. Nuuskierig het hy sy vriend gevra wat die beer vir hom gefluister het. Sy vriend het geantwoord: ‘Hy het vir my gesê om nooit saam met iemand te reis wat jou met die eerste teken van gevaar in die steek laat nie!’

Dis maklik om vriende met iemand wat suksesvol en op die kruin van die golf is, te wees. Wat gebeur egter wanneer daardie persoon val, of misluk, of hul verbintenis met Christus verloor, of doelbewus die verbintenis ontkoppel en allerhande lelike gevolge veroorsaak? Die Bybel sê: ‘Op ‘n vriend se lojaliteit kan jy altyd reken…’ Wanneer jy op die kruin van die golf is, is hulle nie jaloers nie en wanneer jy geval het, is hulle nie neerbuigend nie. Hulle is deernisvol en bedagsaam, selfs wanneer jy nie is nie. Die Amerikaanse skrywer Elbert Hubbard het gesê: ‘Jou vriend is die man [of vrou] wat alles van jou weet en jou nog steeds liefhet.’ As jy so ‘n vriend het, koester hulle en vertel hulle dikwels hoe baie jy hulle waardeer.

Sielskos: Rig 16:1-19:15; Mark 11:12-26; Ps 47; Spr 13:11-12