Vra altyd: ‘Wat sê die Bybel?’

2024-07-16
Handelinge 20:30 NLV

Paulus skryf: ‘Selfs uit julle eie geledere sal daar mense na vore kom wat, deur verdraaide dinge te verkonding, die gelowiges sal probeer verlei om hulle te volg. Daarom: Wakkerloop! Onthou dat ek vir drie jaar lank sonder ophou vir elkeen van julle die regte koers aangedui het, dag en nag, en met trane. En nou vertrou ek julle aan God toe en aan die boodskap van die onverdiende goedheid wat Hy aan mense bewys. Dié boodskap is in staat om julle op te bou en julle in die seëninge te laat deel wat Hy aan al die gelowiges as erfporsie belowe het’ (verse 30-32 NLV).

Wanneer iemand sê dat hulle ‘n ‘spesiale openbaring van God’ gekry het, maar dis nie in lyn met wat die Skrif leer nie, moenie dit glo nie! Doen wat die mense van Berea gedoen het: ‘…hulle het met groot belangstelling na Paulus se boodskap geluister. Hulle het elke dag die Skrifte ondersoek om te sien of dit is soos Paulus en Silas sê’ (Handelinge 17:11 NLV).

Geen leier, maak nie saak hoe groot hul groep volgelinge is, word van hierdie soeklig vrygeskeld nie. Goeie leiers verwelkom dit inteendeel. Het God in hierdie era van tegnologie nuwe en effektiewe strategieë om die wêreld met die evangelie te bereik? Ja, en ons moet dit aanvaar en gebruik sodat ons die finale oes kan bymekaar maak. Ons moet egter nooit kompromieë aangaan as dit by God se Woord kom nie. Soms kom die grootste bedreiging tot die waarheid van diegene vir wie ons lief is, met wie ons saam gewerk het en wat die pad byster geraak het, af. Wat is dus die antwoord? Dis eenvoudig. Vra altyd: ‘Wat sê die Bybel?’ en maak dit jou maatstaf.

Sielskos: 2 Sam 7:18-11:27; Luk 7:11-23; Ps 118:1-9; Spr 18:4-6