Luister versigtig

2024-06-07
Spreuke 15:31 NLV

Een kundige noem dat leiers eers jou hart aanraak, voor hulle vir jou hand vra. Dis die wet van verbinding. Voor ‘n leier iemand se hart kan aanraak, moet hy of sy eers weet wat daarin is. Jy kom dit agter deur te luister. ‘n Onwilligheid om te luister is tipies van swak leiers. Meer as die helfte van bestuursprobleme is as gevolg van foutiewe kommunikasie. Die oorgrote meerderheid van kommunikasieprobleme spruit daaruit dat mense nie goed genoeg luister nie. Baie stemme roep om ons aandag. Soos jy oorweeg hoe om te luister, onthou dat jy twee redes het om te luister: a) Om met mense te skakel, en b) Om meer van hulle te leer. Dit sluit jou mededingers in.

Sam Markewich het geskerts: ‘As jy nie met my saamstem nie, beteken dit jy het nie mooi geluister nie.’ Hy het natuurlik ‘n grap gemaak, maar die hartseer waarheid is dat wanneer ‘n leier ‘n ander organisasie slegs as mededinging beskou, fokus hy of sy hulle aandag daarop om hul eie onderneming te bou of hul eie doel te verdedig en vergeet gevolglik om uit die ander organisasie se pogings te leer. Jy wil nie noodwending jou aksies op dit wat die ander persoon doen, baseer nie, maar jy moet steeds luister en leer hoe om jouself te verbeter.

Dis ‘n duur fout om so besig te wees om jou eie ding te doen, of te probeer om dinge te laat gebeur, dat jy nie aandag gee aan dit wat rondom jou aangaan nie. Elke dag wat jy lewe en elke ervaring wat jy het, positief en negatief, kan vir jou waardevolle lesse leer. Jy moet egter luister!

Sielskos: Eseg 10-13; Mark 14:27-42; Ps 124; Spr 14:21-24

Leer om na jou huweliksmaat te luister

2024-06-06
Genesis 2:18 NLV

God het jou huweliksmaat ontwerp om aan jou fisiese, emosionele en ja, selfs jou geestelike behoeftes, te voldoen. Adam het perfekte gesondheid gehad, die perfekte werk gehad en in die perfekte omgewing gewoon. Hy het selfs elke dag saam met God gaan stap. Nietemin was hy eensaam en onvolledig. Dus het God gesê: ‘…Dis nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ‘n metgesel maak…’

God het bedoel dat jou maat jou moet help groei en jou roeping moet help vervul. Daar is ‘n intieme fisiese, emosionele en geestelike band tussen julle. Niemand op aarde sal jou ooit beter as jou Godgegewe maat ken nie. Hy of sy moet jou naaste vriend, berader en vertroueling wees. Dit verg kommunikasie!

Goeie kommunikasie is daarop gebaseer om die regte vrae te vra en versigtig na die antwoorde te luister. Dit beteken dat jy die televisie, jou rekenaar, jou tablet en jou selfoon moet afsit. Dit beteken dat jy moet vra: ‘Hoe gaan dinge vandag met jou?’ en dan lank genoeg moet luister vir versteekte emosies om na die oppervlak te kom. Luister totdat jy jou eggenoot se bekommernisse, gevoelens, vrese, hoop en drome verstaan. Luister akkuraat, sodat jy sy of haar ware behoeftes kan asseseer – behoeftes wat jy die beste toegerus is om aan te voldoen.

Jou vrae openbaar jou vlak van omgee en die antwoorde wat jy kry kan die fondasie vir ‘n lang, gelukkige huwelik word. Dis presies wat God in gedagte gehad het toe Hy gesê het: ‘Dit verklaar waarom ‘n man van sy pa en ma weggaan, saam met sy vrou lewe en hulle dan soos een mens word’ (vers 24 NLV).

Sielskos: Eseg 5-9; Mark 14:12-26; Ps 4; Spr 14:17-20

Gereed… gaan!

2024-06-05
Josua 1:2 NLV

Die woorde vir jou vandag is: 1) Maak gereed. Josua het Moses gedien en is deur hom gementor; nou was hy gereed om Israel die Beloofde Land binne te lei. Is jy gereed vir die sukses wat jy nastreef? Die frustrerende ding van voorbereiding is dat dit soms langer neem as die gebeurtenis waarvoor jy voorberei. Is jy gedissiplineerd? Is jy op datum met jou beroep of roeping? Het jy die regte verhoudings in plek? Is jou huislewe in orde? Het jy ‘n sterk karakter? Soos die ou gesegde lui: ‘Jy kan een keer verras word. Daarna is jy net onvoorbereid!’

Een skrywer sê: ‘Talentvolle mense kom soms in die versoeking om kortpaaie te neem. Karakter voorkom dit. Talentvolle mense mag dalk meerderwaardig voel en spesiale voorregte verwag. Karakter help hulle om van beter te weet. Talentvolle mense word geloof vir dit wat ander mense hulle sien doen. Karakter bou dit wat binne-in hulle is. Talentvolle mense het dikwels die potensiaal om ‘n verskil te maak. Karakter maak in hulle ‘n verskil. Talentvolle mense is dikwels ‘n geskenk aan die wêreld. Karakter beskerm daardie gawe.’

2) Gaan! God het vir Josua gesê: ‘…Ek [sal] elke plek waar julle kom vir julle gee’ (vers 3 NLV). Moenie soos Alice in Alice’s Adventures in Wonderland wees wat vir die Cheshire-kat gevra het: ‘Would you tell me, please, which way I ought to go from here?’ ‘That depends a good deal on where you want to get to,’ said the Cat. ‘I don’t much care where – ‘ said Alice. ‘Then it doesn’t matter which way you go,’ said the Cat.’ Om sukses te behaal, moet jy die regte dinge oomblik vir oomblik, dag vir dag en op ‘n konsekwente manier, doen.

Sielskos: Eseg 1-4; Mark 14:1-11; Ps 121; Spr 14:13-16

Lewenslank stormbestand

2024-06-04
Lukas 6:46 NLV

Onthou jy die woorde van die ou Sondagskoolliedjie: ‘Die wyse man bou sy huis op die rots… Die dwase man bou sy huis op die sand’? Die storm het beide huise getref, maar slegs die wyse man se huis het staande gebly. Jesus het nie bloot die deugde van wysheid bo dwaasheid aanbeveel nie. Die waarheid is dat ons almal soms wys en ander kere dwaas is. Hy het ook nie gesê dat die huis wat vasgestaan het ‘n gelowige se huis was, terwyl die huis wat platgevee was ‘n ongelowige se huis was nie. Hy het ook nie probeer impliseer dat die huis op die rots ‘n kerkganger s’n was, terwyl die huis op die sand iemand wat nie kerk bywoon nie, s’n was. Sy punt was eenvoudiger.

Wanneer dinge op hulle ergste is en ons in die hoek vasgedruk is, wanneer ons aan ons kans op oorlewing twyfel, wanneer ons ons laaste greintjie weerstand opgebruik het, is dit nie ons wysheid, redding of kerkbywoning wat ons deur die storm kry nie. Baie wyse, getroue gelowiges gaan in die lewe se storms onder: ‘n verhouding waarin mishandeling plaasvind, ‘n finansiële ineenstorting, ‘n ontroue eggenoot, die verlies of siekte van ‘n kind, ‘n geestelike of fisiese gestremdheid.

Albei huiseienaars het sy Woord verstaan, maar om eenvoudig te sê: ‘Here, ek stem met U saam,’ is nie genoeg om jou deur die storm te bring nie. Die punt wat Jesus hier probeer maak het is dat jy deur die storm sal kom wanneer jy doen wat jy Hom hoor sê! God het Homself daaraan verbind om sy Woord te eer en jou gehoorsaamheid bring jou in lyn daarmee en aktiveer sy krag namens jou.

Sielskos: Amos 5:18-9:15; Mark 13:24-37; Ps 117; Spr 14:9-12

Wanneer jy deur moeilike tye gaan (3)

2024-06-03
Efesiërs 4:31 NLV

Hier is nog iets wat Josef geweet het en wat jy ook moet weet. Jy kan nie die ekstra bagasie van bitterheid bekostig nie. Na baie jare het Josef weer sy broers gesien, toe hulle Egipte toe gekom het om koring te koop. Soos hulle Josef, Egipte se tweede-in-bevel, ontmoet het en voor hom gebuig het, het hulle hom nie herken nie. Toe Josef vir hulle probeer verduidelik het wie hy is, was hulle verstom en verskrik. Hier was die broer wat hulle jare tevore probeer vermoor het en nou was hy in ‘n posisie waar hy met hulle kon maak net wat hy wil. In plaas daarvan om dit egter te doen, het hy hulle vergewe. Hoekom? Omdat Josef geweet het dat hy nie die ekstra bagasie van bitterheid kon bekostig nie.

Wat moet jy dus doen wanneer jy in die versoeking kom om bitterheid te koester? Doen wat Josef gedoen het: Hy het sy geloof en hoop in God volgehou, geglo dat dinge uiteindelik goed sou uitwerk en sy geestelike lewe voortgesit. Wanneer dinge verkeerd gaan, draai ons dikwels ons rug op die Een wat ons die meeste nodig het – die Here. Wanneer moeilikheid oor ons pad kom, sê ons: ‘God, hoekom het U toegelaat dat dit gebeur?’ Ons blameer God asof dit sy skuld is, in plaas daarvan om te sê: ‘Here, hanteer asseblief hierdie probleem.’

Wanneer mense situasies probeer gebruik om jou te vernietig, kan God dit gebruik om jou te ontwikkel. Hy vind behae daarin om kruisigings in opstandings te verander. Die Bybel sê: ‘Kom nader aan God, en Hy sal nader aan julle kom…’ (Jakobus 4:8 NLV). God daag op uitnodiging op en solank jy aanhou om met Hom te praat en Hom te vertrou, sal Hy dinge vir jou laat uitwerk.

Sielskos: Amos 1:1-5:17; Mark 13:12-23; Ps 82; Spr 14:5-8

Wanneer jy deur moeilike tye gaan (2)

2024-06-02
Psalm 56:4 NLV

Hier is nog twee dinge wat Josef verstaan het en wat jy ook moet verstaan:

1) Jy kan dit nie bekostig om in selfbejammering te verval nie. Miskien gaan jy tans deur ‘n toets waarin jy die onskuldige party is – die slagoffer van ‘n situasie wat jy nie veroorsaak het nie. Oorweeg Josef se reaksie toe hy in ‘n soortgelyke situasie was. Die eerste ding wat hy nie gedoen het nie, was om in selfbejammering te verval. Hoekom nie? Omdat dit ‘n groot bydraende faktor tot depressie is. Dikwels wanneer ons ‘n ernstige probleem ervaar en ons selfbeeld laag is, begin ons onsself blameer en onsself afkraak. Josef het dit nie gedoen nie. Hy het geweet dat die situasie nie deur sy eie toedoen was nie en hy het realisties daarna probeer kyk. Wanneer jy in ‘n storm is en toelaat dat jou boot dwars draai, sal die storm jou omgooi. Soortgelyk, wanneer storms in jou lewe inkom, is die beste manier om hulle te oorkom om God te vertrou en hulle trompop te konfronteer, soos Josef gedoen het.

2) Moet nooit groot besluite neem wanneer jy depressief is nie. Baie keer wanneer ons mismoedig is, kom ons in die versoeking om te sê: ‘Ek gaan tou opgooi,’ of ‘Ek gaan van werk verander,’ of ‘Ek gaan wegtrek,’ of ‘Ek gaan ‘n skeisaak aanhangig maak.’ Moet dit asseblief nie doen nie! Wanneer jy teneergedruk en moedeloos is, is jou gevoelens onbetroubaar en jy verloor jou perspektief om goeie oordeel toe te pas. Wat moet jy dus doen? Vra God om jou daardeur te bring! Sê saam met die Psalmdigter: ‘In God, wie se woord ek prys, in God is my vertroue; ek sal nie vrees nie. Wat kan mense aan my doen?’ (Psalm 56:5 NVL).

Sielskos: Gal 5:23; 2 Tess 1:3-5; 2 Tim 1:7; Heb 11:23-27