Lei jou brein op

2024-06-13
Nehemia 8:10 NLV

Enige tyd wat jy geloof in God en gehoorsaamheid aan sy Woord met positiewe denke vervang, beweeg jy op gevaarlike grond. Moet egter nie die baba met die badwater uitgooi nie. As gelowige, is jy veronderstel om jou brein op te lei om God te vertrou en positiewe denke wat op sy Woord gegrond is, te dink. ‘n Studie wat in Nederland gedoen is, het gevind dat mense wat optimisties is gesonder harte as mense wat iesegrimmig is, het. Mense wat hulself as optimiste beskryf, het teen ‘n baie laer koers aan hartsiektes as pessimiste gesterf.

Dr Becca Levy van Yale Universiteit het ‘n studie gedoen wat bevind het dat ‘n positiewe houding teenoor veroudering beter vaar as fisiologiese maatstawwe soos lae bloeddruk en lae cholesterol om lewensjare te verleng. Dieselfde studie het bevind dat optimistiese mense langer lewe as diegene wat altyd bekommerd is en dat ‘n positiewe houding meer jare as om te oefen of om nie te rook nie, by mense se lewens voeg.

‘n Artikel wat in 2005 in die Associated Press gepubliseer is, het gesê: ‘Nuwe navorsing dui daarop dat sodra Alzheimer se siekte iemand van die verwagting dat ‘n bewese pynstiller hulle sal help, beroof, die pynstiller nie naastenby meer so goed werk nie.’ Is dit nie merkwaardig nie? Wanneer mense dink pynstillers werk, lyk dit of die medisyne wel help. Ons gedagtes is wonderlik! Die Bybel sê: ‘…die blydskap wat die Here gee, sal julle krag wees!’ Dis nie net ‘n geestelike krag nie, maar ook ‘n fisiese en emosionele krag. As jy ‘n gesonde lewe wil lei, moet jou gedagtes ook gesond wees en dit begin deur positief in plaas van negatief te dink. Lei dus jou brein op.

Sielskos: Eseg 24:1-27:24; Mark 15:21-32; Ps 132:11-18; Spr 15:5-7

Hou op om dit toe te smeer

2024-06-12
Spreuke 28:13 NLV

Die Bybel sê: ‘Wie sy oortredings verswyg, sal nie voorspoedig wees nie. Wie sy sonde bely en daarvan afsien, sal genade ontvang’ (vers 13 NLV). Kan dit die rede wees waarom jy nie sukses behaal nie? Onopgeloste skuld het die vermoë om jou selfvertroue soos suur weg te vreet. Daar is egter ‘n antwoord: ‘…Wie sy sonde bely en daarvan afsien, sal genade ontvang.’ Bely dit voor God! Hy weet reeds wat jy gedoen het – Hy wag net vir jou om dit te hanteer sodat Hy dit kan vergewe en jou weer kan seën.

‘…God is lig en daar is hoegenaamd geen duisternis in Hom nie’ (1 Johannes 1:5 NLV). Die lig van God openbaar dinge. Wanneer ‘n lig in ‘n kamer aangeskakel word, sien ons die stof en die goggas wat skarrel. Wanneer God in ons lewe betrokke raak, begin Hy vir ons dinge wys wat ons dalk sal verkies om nie te sien nie; dinge wat ons wegsteek, selfs vir onsself.

Ons word dikwels mislei, veral oor onsself. Ons wil nie ons foute hanteer nie en ons geniet dit nie dat dit blootgestel word nie. Ons voel of ons daaroor geoordeel gaan word, maar ten minste voel ons dat dit weggesteek is. Enigiets wat weggesteek word het egter mag oor ons, omdat ons vrees dat dit ontdek kan word.

Weier om so te lewe. Die beste en bevrydenste ding wat jy kan doen, is om dit wat God wil hanteer in die gesig te kyk en daar oor te kom. Dawid het gesê: ‘Maar ek het my oortredings bely, my sonde nie weggesteek nie. Ek het gesê: ‘Ek bely my opstand teen die Here.’ En my sonde en oortredings het U vergewe’ (Psalm 32:5 NLV).

Sielskos: Eseg 22-23; Mark 15:1-20; Ps 132:1-10; Spr 15:1-4

Doen wat God se Woord sê

2024-06-11
Jakobus 1:22 NLV

Wanneer jy God se Woord lees of daarna luister maar dit nie in jou lewe toepas nie, bedrieg jy jouself. Hoe so?

1) Jy is tevrede met kennis eerder as met ervaring. ‘Hou in gedagte: As ‘n mens weet wat reg is en dit nie doen nie, is dit sonde’ (Jakobus 4:17 NLV). Wanneer jy die waarheid weet en nie daarvolgens optree nie, maak jy nie bloot ‘n fout of oefen swak oordeel uit nie – jy sondig. Die Bybel sê dat kennis sonder gehoorsaamheid sonde is.

2) Jy vergelyk jouself met ander. ‘…Dan kan julle op julleself trots wees, sonder om julle met iemand anders te vergelyk’ (Galasiërs 6:4 NLV). ‘…Hulle het nie regtig insig nie; hulle meet hulleself aan hulle eie maatstaf en vergelyk hulleself net onder mekaar’ (2 Korintiërs 10:12 NLV). Dit stel jou in staat om vleeslik maar gemaklik te bly en hoe ouer jy word, hoe meer gesout raak jy daarin. Wanneer die waarheid dan te naby aan jou kom, het jy 101 redes hoekom dit op almal behalwe op jou van toepassing is.

3) Die Woord roer jou kortliks, maar verander jou nie permanent nie. Daar is niks daarmee verkeerd om emosioneel op geestelike waarhede te reageer nie. As jy egter vrolik op jou pad gaan sonder om jou gedrag enigsins te verander, kom jou spiritualiteit op niks meer as ‘n vae emosionele ervaring neer nie.

4) Jy stel kommunikasie in die plek van transformasie. Jy sê die regte woorde, maar doen nie wat jy sê nie. Jy dink as jy oortuigend en welsprekend oor die Skrif kan praat, is dit genoeg. Dit is nie! Jakobus sê: ‘Julle moet mense word wat dóén wat die woord sê. Moet dit nie net aanhoor nie, dan bedrieg julle julleself.’

Sielskos: Eseg 20-21; Mark 14:66-72; Ps 48; Spr 14:33-35

Is jy gespanne? (3)

2024-06-10
Johannes 16:33 NLV

Stres is daarop uit jou tot ‘n bewende, nuttelose hopie te laat inkrimp. Wat moet jy dus doen?

1) Dompel jou uitputting onder. Probeer om ‘n borrelbad te neem. Selfs om net in die stort te staan, kan help om die moegheid weg te was en jou asemlose liggaam en breinselle te laat herleef. Bly in die oomblik en fokus op die water se verkwikkende sensoriese bydrae tot jou vel; laat dit toe om veerkragtigheid na jou gees te versprei. Jy sê: ‘Dit klink nie baie geestelik nie.’ Job, wat meer moeilike tye as wat jy ooit sal sien ervaar het, se vriend Sofar sal van jou verskil: ‘Jy sal jou swaarkry vergeet. Dit sal weg wees soos water onderdeur ‘n brug’ (Job 11:16 NLV).

2) Vra vir hulp! Deel verantwoordelikhede en take uit. Wanneer elkeen hulle deel doen, word niemand uitgeput gelaat nie. ‘Twee is beter as een. Saam bereik hulle meer. As een mens val, kan sy vriend hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie’ (Prediker 4:9-10 NLV).

3) Laat perfeksionisme gaan. Niemand is perfek, behalwe Jesus nie – en jy is nie Hy nie. Laat sekere dinge gaan. Gee môre nog ‘n paar op. Met verloop van tyd sal daardie take ophou om aan jou te karring en jy sal voel hoe die stres op die knop van jou maag disintegreer. Jy sal nooit heeltemal vry van stres wees nie, maar jy kan leer om dit te hanteer en dit te oorwin. Jesus het gesê: ‘Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind. In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin’ (Johannes 16:33 NLV).

Sielskos: Eseg 16:53-19:14; Mark 14:53-65; Ps 1; Spr 14:29-32

Is jy gespanne? (2)

2024-06-09
Jesaja 55:12 NLV

Kom ons kyk na drie bewese en effektiewe strategieë om stres te hanteer.

1) Plaas jouself op jou daaglike doenlysie. Wys twee keer per dag vyftien minute om te hernu, te hergroepeer en te herstel, aan. Distansieer jouself van die bron van stres, al beteken dit bloot om vir ‘n paar minute buite te gaan stap om jou brein te verfris. Sing jou gunsteling liedjie of doen wat ook al jou help om te ontspan. Volhard daarmee, selfs wanneer ander belangrike take dreig om hierdie tyd vir jouself in te neem. Jy is belangrik – leer om jouself te waardeer.

2) Verbly jouself! Die Bybel sê: ‘…die blydskap wat die Here gee, sal julle krag wees!’ (Nehemia 8:10 NLV). Wanneer jy jou vreugde verloor, verloor jy jou krag en jou vermoë om kwessies te hanteer. Sommige mense dink dat Christene altyd ernstig, humorloos en so stil soos die graf moet wees. Jesus het egter uit die graf opgestaan – en dis een van die beste redes in die wêreld om fees te vier.

3) Ontspan jou stywe spiere dwarsdeur die dag met stresverligters. Hou op dink en begin beweeg! Strek, buk vooroor, rol jou gespanne skouers, jaag die hond – laat verkwikkende bloed deur jou liggaam vloei terwyl jou gedagtes ‘n bietjie ontspan. Draai die aanbiddingsmusiek harder en lyndans terwyl jy die stofsuier rondstoot. Swaai jou heupe terwyl jy die kos op die stoof roer. Dans met die trollie by die winkel se gangetjie af! Fisiese aktiwiteit veroorsaak dat jou brein beta-endorfien afskei, wat help om jou te kalmeer.

Jy is nie gemaak om met stres te leef nie. Die Bybel sê: ‘Julle sal in blydskap wegtrek en in vrede gelei word…’ Dit kom reguit uit die mond van die Een wat jou geskep en verlos het.

Sielskos: Matt 5:3; Luk 18:9-14; Jes 57:14-21; 2 Sam 7:18-29

Is jy gespanne? (1)

2024-06-08
Job 11:15 NLV

Wanneer jy die gevaartekens ignoreer, kan kroniese stres ‘n tol van jou liggaam eis. Wat is sommige van die tekens? Een teken is dat jou maag oor enige vorm van onenigheid draai. Wanneer jy nie ‘n uitlaatklep vir opgekropte frustrasie kan kry nie, wend jy jou tot ooreet, rook, drink, dwelms en misbruik jy oor die algemeen jou liggaam. Jy isoleer jouself, wat jou geliefdes affekteer. Debora M. Coty skerts: ‘Ek het geweet dat dit tyd was om my stres aan te spreek toe ek harder as die honde kon grom en my familie op ‘n taktvolle wyse voorgestel het dat ek ‘n inspuiting teen hondsdolheid moet kry.’

Dis egter die tekens wat jy nie kan sien nie, wat die meeste skade kan aanrig. Kortisol, ‘n hormoon wat ons liggame tydens stresvolle tye vrystel, dra tot onbeheerde gevoelens van magteloosheid en hopeloosheid by. Studies bewys dat stres met verloop van tyd jou bloeddruk verhoog, bydra tot spanningshoofpyne en plaak wat tot hartsiektes lei, veroorsaak. Daar is waargeneem dat kroniese stres kardiovaskulêre risiko met byna 50 persent verhoog! Om nie eers te praat van die gedokumenteerde verwantskap tussen stres en alkoholisme, angsaanvalle, asma, kanker, verkoues, depressie, griep, slapeloosheid, vetsug, beroertes en maagsere nie. Daardie onbeheersde huilbuie wanneer jy uitgeput is, is ook geen toeval nie. Stres verlaag estrogeenvlakke, wat emosionele uitbarstings kan aktiveer.

As bogenoemde jou beskryf, neem aksie! Herrangskik jou prioriteite, beweeg stadiger, begin beheer van jou lewe neem en draai na God. ‘As jy net jou hart aan Hom wil wy en jou hande lig in gebed!.. Dan sal jou gesig verhelder in onskuld. Jy sal sterk wees en vry van angs’ (verse 13, 15 NLV).

Sielskos: Eseg 14:1-16:52; Mark 14:43-52; Ps 129; Spr 14:25-28