Die seën van onbeantwoorde gebede

2024-07-15
Jakobus 4:3 NLV

‘n Pastoor skryf: ‘Volgens die legende het koning Midas goud so liefgehad dat hy gewens het dat alles wat hy aanraak in goud moes verander. Aan die begin was Midas baie in sy skik met sy wens, maar toe hy agtergekom het dat sy aanraking kos oneetbaar en sy geliefdes leweloos maak, het hy met die konsep wat die sosioloog Robert Merton die wet van onbedoelde gevolge noem, kennis gemaak. Soos Midas kan daar ongewenste gevolge ontstaan as ons alles kry wat ons wil hê. Soms is ‘n onbeantwoorde gebed God wat in sy soewereine wysheid ons van die pyn van onbedoelde gevolge spaar. Die meeste van die tyd veroorsaak dit ‘n groot mate van angs by ons, maar eendag sal ons God net soveel dank verskuldig wees vir die gebede wat Hy nie beantwoord het nie, as dié wat Hy wel beantwoord het.’

Jakobus skryf: ‘…En eintlik is die rede hoekom julle nie het wat julle wil hê nie, die feit dat julle God nie daarvoor vra nie. En selfs wanneer julle vra, kry julle dit nie omdat julle motiewe verkeerd is – julle wil goed hê net om dit self te geniet’ (verse 2-3 NLV). C.S. Lewis het gesê: ‘As God al die simpel gebede wat ek in my lewe gebid het beantwoord het, waar sou ek nou gewees het?’

Die pastoor gaan voort: ‘Baie van ons gebede is ondeurdag. Ons bid vir gemak, eerder as vir karakter. Ons bid vir ‘n maklike uitkoms, eerder as die krag om deur dit te kom. Miskien moet ons God ophou vra om ons uit moelike omstandighede te neem en Hom begin vra wat Hy wil hê ons uit die moeilike omstandighede moet leer.’

Sielskos: 2 Sam 3:22-7:17; Luk 7:1-10; Ps 109:16-31; Spr 18:1-3