Wanneer jy onvoldoende voel (1)
2024-07-132 Korintiërs 3:5 NLV
Die vrees om onvoldoende te wees is ‘n denkpatroon waarin jy dink dat jou beste nie goed genoeg is nie. Dit ontstaan gewoonlik tydens ons kinderjare wanneer ouers, onderwysers en ander mense wat ons as belangrik ag, ons nie waardeer nie of ons negatief met iemand anders vergelyk. Jy sal dit sien by Moses, wat onvoldoende gevoel het om die woordvoerder en bevryder van die Israeliete te wees, tot by die ontslape popster Michael Jackson, wat homself uitgemergel het om fisieke en professionele volmaaktheid te bereik. Geen statistiek kan die aantal verlate drome as gevolg van hierdie verlammende emosie meet nie.
Om ontslae te raak daarvan, moet jy leer om hierdie twee waarhede te omarm: 1) Sonder God, is jy onvoldoende. 2) Wanneer jy God se krag in jou het, is jy voldoende vir enige uitdaging wat Hy jou roep om te oorkom. Paulus skryf: ‘Nie dat ons op ons eie houtjie iets kan bedink asof dit ons eie breinkind is nie. Ons bekwaamheid kom van God, wat ons bekwaam gemaak het om as bedienaars van die nuwe verbond op te tree…’ (verse 5-6 NLV).
Baie van die helde in die Bybel het met die vrees om onvoldoende te wees gesukkel, dus is jy in goeie geselskap! Moses het vir God gesê: ‘Ek kan nie met die farao gaan praat nie, stuur iemand anders’ (sien Eksodus 3:11, 4:13). Die ware verhaal van hierdie helde in die Bybel is hoe hulle hul vrees oorkom en vir God ja gesê het. Hulle het in geloof uitgetree en in wese gesê: ‘Here, ek maak op U vir my sukses staat.’ Ons menslike ego hou daarvan om goed te lyk en die krediet te neem. God plaas ons egter in ‘n posisie van totale afhanklikheid sodat die krediet van ons suksesse Hom toekom.
Sielskos: 2 Sam 1:1-3:21; Luk 6:37-49; Ps 109:1-15; Spr 17:27-28