2018-04-20
Deuteronomium 29:29 NLV
Die Bybel sê: ‘Vertrou op die Here met alles wat jy het. Moenie staatmaak op jou eie insigte nie’ (Spreuke 3:5 NLV). Hierdie Skrifgedeelte is maklik om aan te haal, maar moeilik om volgens te lewe, veral wanneer ons lewens deur tragedie aangeraak word en ons nie die redes daaragter verstaan nie. Daar is tye wat ons bid en God vir ons antwoorde gee en daar is tye wat ons bid en Hy vir ons vrede gee. ‘…Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen. As julle so bid, sal julle God se vrede beleef. Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink. Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas’ (Filippense 4:6-7 NLV). In tye van pyn en verlies, is daar twee Skrifgedeeltes waarop jy kan staan: 1) ‘Die geheime dinge is vir die Here ons God. Die dinge wat geopenbaar is, vir ons en ons nageslag…’ Wanneer dit by die verstaan van dinge kom, het ons ons gebied en God het syne. Ons s’n is beperk tot wat Hy besluit Hy aan ons wil openbaar. Paulus, wat die helfte van die Nuwe Testament deur goddelike openbaring geskryf het, erken, ‘Ons ken maar net ten dele…’ (1 Korintiërs 13:9 NLV). 2) ‘En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe’ (Romeine 8:28 NLV). Wanneer jy dus in die versoeking kom om jou hande in wanhoop op te gooi en te sê, ‘Wie weet?’ herinner jouself, ‘God weet!’ Herinner jouself vandag daaraan dat Hy dinge ten goede vir jou en vir sy heerlikheid laat uitwerk.
Sielskos: Hand 8-9; Mark 3:28-35; Ps 130; Spr 10:24-26
2018-01-10
Johannes 8:36 NLV
Wanneer jy ‘n krygsgevangene word, beheer die vyand al jou bewegings en besluit hulle hoe elke dag van jou lewe sal wees. Het die vyand jou gevangene geneem? Miskien het jy al oor en oor probeer vrykom van jou verslawing, maar jy word steeds daardeur gevange gehou. Daar is goeie nuus: ‘As die Seun julle dus bevry, sal julle regtig vry wees.’ Of jy nou aan dwelms, alkohol, dobbel, kos of enigiets anders verslaaf is, jou antwoord lê nie in die natuurlike nie, maar in die bonatuurlike. Jou verslawing is ‘n ‘simptoom’ van ‘n dieper geestelike toestand wat Jesus, die Groot Geneesheer, wil gesond maak. In die kern van elke twaalf-stap program lê hierdie waarheid: Dis net deur na ‘n mag wat groter as onsself is te draai en ‘n verhouding met Hom te ontwikkel, wat ons vry kan word en vry kan bly. Jy weet wie hierdie ‘mag’ is – Jesus! Wanneer jy rusteloos, geïrriteerd en ontevrede voel, sal sy teenwoordigheid aan jou vrede en kalmte gee. Wanneer jy in die versoeking kom om na jou verslawing te draai om verligting te kry, sal sy teenwoordigheid die leegheid binne in jou vul en jou in staat stel om nee te sê. Wanneer jy ‘euforiese herinnerings’ ervaar en aan die beste tye van jou verslawing in plaas van die slegste tye begin dink, sal sy Woord jou gedagtes vernuwe en jou houding omvorm; en jou die regte pad op daardie oomblik aanwys. ‘U woord is ‘n lamp vir my voete en ‘n lig op my pad’ (Psalm 119:105 NLV). Petrus het gesê, ‘Die Here weet dus om dié mense wat naby aan Hom leef, uit beproewing en swaarkry te red…’ (2 Petrus 2:9 NLV). Vandag wil God jou bevry.
Sielskos: Lev 13:38-14:57; Matt 5:38-48; Ps 3; Spr 1:29-31
2017-12-17
1 Timoteus 1:2 NLV
Meeste van die tyd weet ons nie waar deur ander mense gaan of watse probleme hulle het nie. As jy dus besluit om vir hulle te bid, volg Paulus se voorbeeld, waar hy vir God gevra het om vir Timoteus die volgende drie dinge te gee: 1) Onverdiende goedheid. Dit beteken God se genade wat jou die vermoë sal gee om dit te kan hanteer wat ook al oor jou pad kom. Hier is ‘n wonderlike Bybelse belofte waarop jy kan staan in moeilike tye: ‘In sy onverdiende goedheid het God julle geroep om in Christus deel te hê aan sy ewige heerlikheid. Nadat julle vir ‘n kort tydjie swaargekry het, sal Hy julle self weer herstel…’ (1 Petrus 5:10 NLV). 2) Ontferming. ‘n Groot uitgewersmaatskappy het ‘n masjien gehad wat outomaties aan mense kennisgewings gestuur het om hulle daaraan te herinner dat dit tyd was om weer hulle intekening te hernu. Een dag het iets verkeerd gegaan en ‘n boer het 9 734 kennisgewings gekry. Hy het na die naaste poskantoor gery, sy tjek gepos en geskryf, ‘Stuur vir my die tydskrif. Ek gee op!’ Dis hoe God werk. Hy hou aan om vir ons kennisgewings te stuur. ‘…Hy hou nooit op om vir ons om te gee nie. Sy liefde het geen einde nie. Op u ontferming kan ‘n mens altyd vertrou. Dit is elke oggend nuut’ (Klaagliedere 3:22-23 NLV). 3) Vrede. Die vrede van God kan ons in die ergste omstandighede dra. God se vrede is ‘…wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink. Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas’ (Filippense 4:7 NLV). Wanneer jy dus nie seker is hoe om vir iemand te bid nie, vra God om vir hulle sy onverdiende goedheid, ontferming en vrede te gee.
Sielskos: Lev 27:30-33; Num 31:48-54; 1 Kor 16:1-3
2017-10-04
1 Petrus 5:7 NLV
John Mason skryf: ‘Ek kon nie vrede kry nie. Indien alles nie op sy plek was en ek alles verstaan het nie, het ek angstig, rusteloos, senuweeagtig, bekommerd en iesegrimmig geword, soos ‘n dwelmverslaafde op soek na sy volgende ontvlugting. Die hewigheid daarvan was nie dieselfde nie, maar die simptome was. Ek as Christen was veronderstel om in geloof te wandel. Ek het Jesus vir my redding vertrou, maar in ander areas het ek op myself staat gemaak.’ Lewe jy op hierdie manier? Die inspirerende skrywer William Ward het geskryf: ‘Bekommernis is geloof in die negatiewe, vertroue in die onaangename, versekering van rampspoed en oortuiging van mislukking. Dis ‘n magneet wat negatiewe omstandighede aantrek. Geloof is ‘n sterker krag wat positiewe omstandighede skep. Jy mors vandag se tyd deur jou te bekommer en vermors môre se geleenthede met gister se moeilikhede.’ Toe ‘n ou man gevra is wat die vreugde in sy lewe gesteel het, het hy geantwoord, ‘Dinge wat nooit gebeur het nie.’ Onthou jy die dinge waaroor jy ‘n jaar gelede bekommerd was? Het jy nie baie energie daarop gemors nie? Het die meeste daarvan nie goed uitgewerk nie? Amper 99 persent van die dinge waaroor ons ons bekommer, gebeur nie. Het jy geweet dat ‘n digte mis wat sewe stedelike blokke honderd voet diep bedek, uit minder as een glas water bestaan? Net een glas! Dit kan egter amper alle visie belemmer. ‘n Koppie vol bekommernis kan dieselfde doen. Die Bybel sê, ‘…Niemand het beheer oor wat met hulle gaan gebeur nie’ (Jeremia 10:23 NLV). Hou op om elke moontlike uitkoms te probeer beheer. Die lewe word beter wanneer jy besluit om op God se Woord te staan en Hom te vertrou om vir jou te sorg.
Sielskos: Eks 4-6; Mark 16:9-20; Ps 92; Spr 26:1-3
2017-08-26
Efesiërs 5:17 NLV
Wanneer jy weet dat jy in die middel van God se wil vir jou lewe is, sal jy vrede ten spyte van ongunstige toestande hê. Jy sal die vrymoedigheid hê om enige tyd na God te gaan, in die wete dat Hy sal voorsien wat jy nodig het. Jy vra, ‘Maar hoe weet ek of ek in die wil van God is?’ Deur hierdie twee dinge te weet, wat duidelik in die Bybel uitgelê is: 1) Jy moet ‘n Christen wees. Paulus sê vir ons, ‘Want almal wat hulle laat lei deur die Gees van God – hulle is God se kinders’ (Romeine 8:14 NLV). Jy het die Heilige Gees se hulp nodig as jy die wil van God gaan volg en die seëninge wat dit meebring, gaan geniet. 2) Jy moet wysheid beoefen. ‘Wees dus baie versigtig hoe julle lewe. Moenie soos ‘n dwaas leef nie, leef wys! Benut elke geleentheid, want ons lewe in slegte tye. Moenie ondeurdag optree nie, maar probeer uitvind wat God se wil is’ (Efesiërs 5:15-17 NLV). Die bekende teoloog en prediker Jonathan Edwards het in 1716 op die ouderdom van dertien jaar na Yale universiteit gegaan en op sewentien met die beste punte in sy klas, graad gevang. Teen die ouderdom van twintig het hy besluit om nie een oomblik verlore te laat gaan nie, maar om elke oomblik ten volle te benut. Teen ses-en-twintig was hy die pastoor van een van die grootste kerke in Massachusetts. Toe die evangelie soos ‘n veldbrand in New England begin versprei het, het God vir Jonathan Edwards gebruik omdat hy voorbereid en gereed was. Om die wil van God te doen, beteken dat jy sensitief vir die Heilige Gees is en altyd gereed is om God se opdragte uit te voer. Is jy gereed?
Sielskos: 2 Kron 32-34; Mark 8:1-13; Ps 119:161-168; Spr 22:17-19