God se voorskrif teen stres

2017-08-05
1 Petrus 5:7 NLV

Voel jy gestres? Word jou gedagtes deur bekommernisse oorheers? Indien dit die geval is, wil God jou daarvan genees. Lees die volgende Skrifgedeeltes stadig en met gebed: ‘…Ek soek skuiling by U. In die skaduwee van U vlerke sal ek skuil totdat die onheil verby is’ (Psalm 57:1 NLV). ‘Maar vir die armes is U, Here, ‘n toevlug in die storm. Vir die behoeftiges in nood is U ‘n skuilplek…’ (Jesaja 25:4 NLV). ‘Ek sal by jou wees en jou beskerm waar jy ook al gaan… Ek sal jou nie verlaat nie, maar doen wat Ek beloof het’ (Genesis 28:15 NLV). ‘Die ewige God is jou skuilplek en onder jou is sy ewige arms…’ (Deuteronomium 33:27 NLV). ‘Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Moenie ontsteld word nie, want Ek is jou God. Ek maak jou sterk en wil jou help. Ek hou jou vas met my reddende regterhand’ (Jesaja 41:10 NLV). ‘…Tot julle stokoud is, sal Ek julle dra… Ek sal julle ondersteun en julle red’ (Jesaja 46:4 NLV). God se raad en voorskrif teen stres is dus: 1) God gee waarlik vir jou om. 2) Maak ‘n bewustelike besluit om al jou laste op Hom te werp. As jy voel dat jy te veel hooi op jou vurk het, vra Hom vir die wysheid om jou skedule te verander. Wanneer die probleem te groot is vir jou om te hanteer, gee dit vir God – en moenie dit terugvat nie. Laat Hom sy denke deur jou dink, en laat sy vrede, krag en geduld toe om beheer oor jou gedagtes te neem. Oefen elke oggend om dit te doen en soveel keer gedurende die dag soos wat jy nodig het. Dis God se voorskrif teen stres!

Sielskos: 1 Kron 4:24-5:26; Mark 2:13-22; Ps 119:9-16; Spr 20:19-21