Wraak is God se werk, nie joune nie

2019-03-25
Romeine 12:19 DB

Wraak is God se werk, nie joune nie. Hy sal vergeld – of dit nou op die Oordeelsdag of in hierdie lewe is. Hy kan jou beledigende baas dissiplineer, ‘n woedende ouer laat versag, of jou eks tot op sy knieë of tot haar sinne bring. Vergifnis verminder nie geregtigheid nie; dit vertrou dit aan God toe. Hy waarborg die regte hoeveelheid vergelding. Ons gee te veel of te min, maar Hy het die presiese resep. Anders as ons, gee Hy ook nooit oor ‘n persoon op nie. (Iets waaroor jy baie bly behoort te wees). Dis God se werk om jou vyande reg te ruk. Dis jou werk om jou vyande te vergewe. ‘Moenie net regsit om ander mense in eie munt terug te betaal as hulle iets verkeerds aan julle gedoen het nie. Doen liewer goeie dinge sodat ander mense kan sien dat julle God dien. Doen van julle kant af alles in julle vermoë om in vrede met ander mense te leef. Laat staan al julle wraakplanne, my liewe broers en susters. Dit pas glad nie by gelowiges nie. Los sulke dinge vir God. Daar staan immers in die Bybel: ”Ek alleen het die reg om te straf; Ek sal wraak neem,’ sê die Here. ‘As jou vyand honger is, moet jy sorg dat hy iets te ete kry. As hy dors is, moet jy hom iets gee om te drink. As jy dit doen, sal jy hom verskriklik skaam maak.’ Moenie toelaat dat dit wat sleg is in jou lewe die oorhand kry nie…’ (verse 17-21 DB). Die skrywer Max Lucado sê: ‘Wraak bou ‘n lang, smal huis met net genoeg spasie vir een mens. Die lewe van die inwoner word op een doel gefokus: Maak iemand se lewe ellendig. Op die ou einde is dit egter net sy eie lewe wat hy ellendig maak.’

Sielskos: Job 40-42; Luk 19:37-44; Ps 69:1-18; Spr 8:27-29

Vier jou vordering!

2019-03-03
Romeine 12:2 NLV

Blywende verandering gebeur nie deur menslike inspanning, frustrasie, selfhaat, skuldgevoelens of om jouself aanhoudend oor jou mislukkings te verwyt nie. Dit gebeur deur jou gedagtes elke dag deur die Woord van God te vernuwe. As jy gereeld jou Bybel lees, sal jy geestelik groei. As jy met God saamstem en glo wat Hy in sy Woord sê, sal jy geleidelik begin verander. Dit gebeur eenvoudig net. Jy sal anders begin dink, anders begin praat en anders begin optree. Jy moet egter geduldig wees, omdat dit ‘n proses is wat in fases ontwikkel. Jy moet ook leer om die lewe te geniet terwyl jy deur die transformasieproses gaan. Baie van ons lyk of ons op ‘n nou koord, eerder as ‘n pad van vrede, loop. Nee, geniet waar jy is, op jou pad na waarheen jy op pad is! Moenie al jou tyd tans mors deur jou toekoms te probeer stormloop nie. Jesus het gesê dat môre sy eie uitdagings bring (sien Matteus 6:34). Miskien dink jy, ‘As ek net nie hierdie probleem gehad het nie, sou ek gelukkig gewees het.’ Waarmee stoei jy? ‘n Eetlus wat buite beheer is? Wrokkigheid? Vrees? Miskien sê jy: ‘As ek net hierdie gewoonte onder beheer kan kry, sal ek reg wees.’ Net soos Israel die Beloofde Land een stad op ‘n slag verower het, oorwin jy jou swakhede een dag op ‘n slag. Paulus het gesê: ‘…sodat ek met blydskap my loopbaan kan volbring…’ (Handelinge 20:24 AFR53). Paulus wou alles wees wat God hom geroep het om te wees – maar hy wou die proses geniet. In plaas daarvan om moedeloos te wees oor hoe ver jy nog het om te gaan, leer om solank jou vordering langs die pad te vier.

Sielskos: Eks 20:7; Lev 24:10-16; Fil 2:5-11

Dis ‘n interne belewenis (1)

2018-12-01
Johannes 14:16 NLV

Onthou jy aandete sonder selfone? Jou familie wat mekaar se geselskap geniet, ononderbroke deur tegnologie? Ons is ‘n generasie wat besig is om die kuns van kommunikasie – en intimiteit – te verloor – en dit het ook ‘n impak op die tyd wat ons alleen saam met God spandeer. Alhoewel Jesus voor die tegnologiese era gelewe het, was Hy in konstante aanvraag; die skares het Hom alle ure van die dag en nag agtervolg. Nietemin, sê die Skrif vir ons, ‘Nog voor dagbreek die volgende oggend het Jesus opgestaan en alleen op ‘n stil plek gaan bid’ (Markus 1:35 NLV). Jesus het tyd gemaak om alleen met sy Vader te wees. Dit verg geestelike dissipline om stil te wees en te luister; om doelbewus die lewe se geraas te elimineer. As ons dit egter oefen, sal ons ‘n hartsbevredigende verhouding met die inwonende Heilige Gees ontdek. Belê ‘n paar minute daarin om Johannes hoofstukke 14-16 te lees en laat jou gees toe om Jesus se boodskap te absorbeer. Hy wil hê dat sy dissipels moet vrede hê en Hy troos hulle met die versekering dat hulle nooit alleen gelaat sal word nie. Hierdie is seëninge wat Hy ook met ons wil deel. Vraag: Hoe kan jy hierdie vrede en troos kry? Antwoord: ‘Dis ‘n interne belewenis,’ omdat die Heilige Gees in jou woon. Dit mag dalk die Christendom se bes-bewaarde geheim wees, dat die Heilige Gees beskikbaar is vir en in elke ware gelowige woon; en alles aan ons voorsien om die lewe se moeilikhede en geleenthede te hanteer. Die ‘Raadgewer’ is deur die Seun belowe, deur die Vader gestuur en vandag is Hy ons s’n deur geloof. Gryp Hom aan, vertrou op sy krag, ervaar sy vrede en volg sy leiding.

Sielskos: Gen 25:19-27:46; Joh 14:26-15:4; Ps 146; Spr 31:18-21

Wat is in ‘n naam? Alles! (5)

2018-09-07
Jeremia 23:6 NLV

Die naam Jehova Tsidkenu: Die Here is ons geregtigheid, is deur Jeremia aan God gegee toe hy die koms van Jesus, die Verlosser, aangekondig het: ‘…Daar sal ‘n tyd kom wanneer Ek weer ‘n wettige afstammeling uit Dawid se familie koning sal maak… Sy naam sal wees: ‘Die Here ons geregtigheid’…’ (verse 5-6 NLV. Voor Jesus gekom het, het ons geregtigheid in ons eie inspanning gelê. ‘Wanneer ons al die bepalings gehoorsaam wat die Here ons God gee, sal ons regverdig wees’ (Deuteronomium 6:25 NLV). Ons het daardie geregtigheidstoets absoluut gefaal! ‘Die Here ons geregtigheid,’ het egter ons oplossing geword. ‘Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom’ (2 Korintiërs 5:21 AFR53). Dis slegs in Jesus wat ons die geregtigheid van God word! Jy moenie reg optree sodat jy geregverdig voor God kan voel nie, of sodat jy ‘n voorraad goeie werke kan opbou om te gebruik wanneer jy dit nodig ag nie. Jy moet deurentyd van die ‘geregtigheid’ wat Christus in jou rekening deponeer, gebruik. Dis nutteloos om binne-in jouself vir nederigheid, geduld, goedheid, liefde ens te soek. Dis nie daar nie! Jy moet hulle deur geloof uit die voorraad wat Jesus vir jou gestoor het, kry. Skuldige harte kan vergifnis daaruit kry, angstige siele kan vrede daaruit kry en moeë geeste kan krag uit Jehova Tsidkenu kry. Jy het redding alleenlik deur geloof gekry. Op dieselfde manier moet jy geregtigheid en alles anders wat jy mag nodig kry, deur geloof in dit wat God vervul het en vir jou gestoor het in Jesus, Die Here ons geregtigheid, kry!

Sielskos: Jos 16:1-19:23; Luk 20:9-19; Ps 20; Spr 23:10-12

Wees daar (3)

2018-05-27
2 Korintiërs 1:4 DB

Een manier om ‘n vriend in krisis te help is om hulle te help om belangrike hulpbronne te identifiseer – geestelik, persoonlik en interpersoonlik. 1) Geestelike hulpbronne. ‘God is ons toevlug en ons krag; in nood is Hy gereed om te help’ (Psalm 46:1 NLV). God se Woord verlig die donkerte en verwarring. Sy Gees is die bron van alle troos – Hy gee ‘…vrede… wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink…’ (Filippense 4:7 NLV). Sy teenwoordigheid spreek die eensaamheid aan en sy krag help ‘n seer hart om gevoelens van hulpeloosheid te oorkom. Mense wat in krisis verkeer is dikwels gedisoriënteerd, wat veroorsaak dat hulle vergeet wat God hulle reeds gegee het. 2) Persoonlike hulpbronne. Herinner hulle aan hulle unieke sterkpunte en vaardighede. Help hulle om oorwinnings wat hulle in die verlede suksesvol in moeilike tye genavigeer het, te onthou. Moedig ‘n positiewe houding aan wat na die toekoms kyk eerder as om deur die huidige pyn verlam te word. Die belangrikste is egter om hulle geloof met gebed en waarhede uit God se Woord te versterk. Laaste maar nie die minste nie, herinner hulle aan jou ondersteuning. 3) Interpersoonlike hulpbronne. Familielede, vriende, kollegas en bure sal heel waarskynlik ondersteundend wees, en gemeenskapshulpbronne is ook vir mediese, finansiële en materiële hulp beskikbaar. Die plaaslike kerk is nog ‘n bron van hulp. Mense wat in krisis verkeer, is dikwels skaam om vir hulp te vra; hulle voel dat hulle hulle probleme self behoort te hanteer. Help hulle verstaan dat jy geseën word deur te gee en dat hulle eendag ook die geleentheid sal hê om iemand te ‘…help en troos wanneer hulle swaarkry…’

Sielskos: Gal 5:23; Jes 40:9-11; Jes 42:1-4; Ps 18:31-35