Die genesende krag van vergifnis

2019-11-04
Lukas 6:28 NLV

Aand na aand is Marie deur haar pa aangerand wanneer hy in ‘n dronk woedeaanval van die kroeg af by die huis gekom het. Die eerste kans wat sy dus kon kry, het sy die huis verlaat. Na genoeg tyd, het haar fisiese letsels begin genees, maar emosionele letsels kan ‘n leeftyd hou. Hulle kan jou in die verlede vasgevang hou en jou waardevolle verhoudings kos. Selfs die mense wat vir jou lief is kan moeg raak en wanhopig voel dat jy nooit gaan beter word, ten spyte van hulle beste pogings om jou te help nie. Ken jy so iemand? Is jy daardie iemand? Wil jy vorentoe na genesing en vreugde beweeg? Jy kan. Marie het dit gevind toe sy besluit het om haar pa te vergewe en vir hom begin bid het. Dis toe dat sy begin het om geestelik en emosioneel heel te word. Sy het aangehou om hom te vergewe en vir hom te bid, totdat haar ou herinneringe haar nie meer gevange gehou het nie. Jesus het gesê: ‘…Bid vir hulle wat julle seermaak.’ Jy mag dalk niks gedoen het om dit te veroorsaak of te verdien nie, jou oortreder kon jou vir redes wat jy dalk nooit sal verstaan nie seergemaak het. Dis hoekom Jesus op die kruis gebid het: ‘…Vader, vergewe hulle, want hulle besef nie wat hulle doen nie!…’ (Lukas 23:34 NLV). Dit laat nie jou oortreder daarmee wegkom nie. Hulle sal met die skuld van wat hulle gedoen het lewe en tensy hulle vir vergifnis na God toe draai, sal hulle geen vrede ervaar nie. Jy sal egter vrede hê! Wanneer jy besluit om iemand te vergewe en vir hulle te bid, neem jy jou mag terug en eis weer jou lewe vir jouself op.

Sielskos: 1 Kro 7:20-9:44; Joh 8:31-41; Ps 30; Spr 25:13-17

God sal vir jou sorg

2019-10-22
Matteus 6:31-32 NLV

As God binne-in jou woon, moet dit dan nie voor die hand liggend wees nie? Hoe kan jy sê dat jy op Hom vertrou en jouself dan obsessief oor jou gesondheid, jou kinders, jou werk en jou finansies bekommer? Besorgdheid is een ding, maar bekommernis is ‘n belediging vir die God wat jou nog nooit in die steek gelaat het nie. Paulus skryf: ‘Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen. As julle so bid, sal julle God se vrede beleef…’ (Filippense 4:6-7 NLV). Bid of bekommer – dit is jou opsies. Jesus het gesê: ‘Moet julle daarom nie oor môre bekommer nie…’ (Matteus 6:34 NLV). Wanneer jy jou oor môre begin bekommer, vlieg jou vrede by die venster uit! Al wat nodig is om ‘n stilstaande trein daarvan te weerhou om vorentoe te beweeg is twee klein blokkies hout, maar sodra dit stoom opbou kan dit deur ‘n ses voet muur breek. Keer dus die bekommernistrein voor dit die stasie verlaat! God sê: ‘…My genade is genoeg vir jou…’ (2 Korintiërs 12:9 NLV). God sal slegs dit wat jy vandag nodig het vir jou gee; op hierdie manier hou jy aan om Hom vir môre te vertrou. Die Bybel sê vir ons dat Jesus die Goeie Herder is. ‘Hy roep sy eie skape op hulle name… Wanneer hy al sy eie skape na buite gelei het, loop hy voor hulle uit…’ (Johannes 10:3-4 NLV). Hoe wonderlik is dit nie. Hy het klaar vooruit geloop om alles vir jou reg te kry. Hierdie wete sal jou help om môre in die gesig te staar, vol vertroue dat God vir jou sal sorg.

Sielskos: Esra 1-2; Joh 6:25-34; Ps 98; Spr 24:15-18

Oorkom stres (8)

2019-09-19
Matteus 11:28 ABA

As die las wat jy dra te swaar vir jou is, het Jesus dit nie vir jou gegee nie. Ander mense het dalk, of jy het dit dalk op jouself geneem, maar Jesus het geen deel daaraan gehad nie. ‘…Daarom wil Ek julle uitnooi: Voel julle moeg vir hierdie lewe? Knak julle knieë onder al die probleme en verantwoordelikhede wat julle moet dra?.. Kom dan na My toe!.. Kom ontdek watter vreugde dit bring om te leef soos God wil hê jy moet leef. Dis nie moeilik om so te leef nie; om die waarheid te sê, as jy so begin leef, sal jy agterkom hoe lekker die lewe regtig kan wees’ (verse 28-30 DB). Die finale stresbestuur beginsel wat Jesus vir ons geleer het is: Gee jou stres vir Hom. Let op, Jesus het nie gesê: ‘Kom na My toe en ek sal vir jou meer skuld, meer laste, meer stres en meer bekommernisse gee’ nie, selfs al is dit wat baie godsdienstige mense ons probeer leer! Sommige kerke skep druk in plaas daarvan om dit te verlig. Jesus het egter gesê: ‘Ek wil jou rus gee en jou stres verlig. Wanneer jy in harmonie met My lewe, sal Ek vir jou innerlike krag gee.’ Net Jesus kan jou lewe transformeer. Die grootste bron van stres is wanneer ons ons lewens apart van die God wat ons geskep het, probeer lei, wanneer ons op ons eie manier probeer lewe en ons eie god probeer wees. Wat het jy dan nodig? As jy nog nooit jou lewe aan God oorgegee het nie, het jy ‘n transformasie nodig. Gee jou lewe met al jou stres aan Hom en sê: ‘Here, gee asseblief vir my ‘n nuwe lewe. Vervang die druk wat ek voel met die vrede wat U bied. Help my om u beginsels vir stresbestuur te volg.’

Sielskos: 1 Sam 4-7; Matt 26:30-46; Ps 52; Spr 21:17

Moenie ‘n sentimeter aan vrees toegee nie

2019-03-30
Psalm 118:6 NLV

Jy sal altyd vrees in een of ander vorm moet hanteer. Jou vrese sal ook verskil in jou verskillende lewenseisoene. Sodra jy dit aanvaar, kan jy vooruitgang maak. Julius Ceasar het byvoorbeeld die wêreld oorwin, maar hy was bang vir donderweer. Petrus die Grote van Rusland, het soos ‘n kind gehuil wanneer hy brûe moes oorsteek. Die gevierde Britse skrywer, dr Samuel Johnson, moes met sy linkervoet ‘n kamer binnegaan. As hy per ongeluk sy regtervoet gebruik het, het hy uitgegaan en weer met sy linkervoet binne gekom. (Praat van jou beste voetjie voorsit!). As jy toelaat dat vrees jou beheer, sal vrees jou daarvan weerhou om jou lewe ten volle uit te leef. Vrees teel onaktiwiteit, onaktiwiteit teel gebrek aan ervaring, gebrek aan ervaring teel onkunde en onkunde teel vrees. As jy in hierdie siklus vasgevang is, is hier ‘n paar Skrifgedeeltes wat jou kan help: 1) ‘U bewaar elkeen wat op U vertrou in vrede, die mense wie se gedagtes op U gerig is’ (Jesaja 26:3 NLV). 2) ‘Ek laat vir julle my vrede na; my vrede deel Ek met julle. Ek gee nie soos die wêreld gee nie. Julle moet regtig nie ontsteld of beangs word nie’ (Johannes 14:27 NLV). 3) ‘As die Here gelukkig is met die manier waarop iemand lewe, sal Hy selfs sy vyande in vrede met hom laat lewe’ (Spreuke 16:7 NLV). 4) ‘…in God is my vertroue; ek sal nie vrees nie. Wat kan mense aan my doen?’ (Psalm 56:5 NLV). 5) ‘Want God het ons nie ‘n gees van skugterheid gegee nie, maar van krag, liefde en selfbeheersing’ (2 Timoteus 1:7 NLV). Verpersoonlik hierdie Skrifgedeeltes in gebed, steun op hulle en moenie ‘n sentimeter aan vrees toegee nie.

Sielskos: Lev 5-7; Luk 20:27-33; Ps 72:1-11; Spr 9:1-6

‘n Positiewe, geloofsvervulde lewensuitkyk

2019-03-29
Filippense 4:6 NLV

Dit gebeur so maklik, veral in die geselskap van verkeerde mense. Voor jy jou oë uitvee is jy besig om te kritiseer en te kla en word die atmosfeer negatief. Jy sê: ‘Maar ek sê net hierdie dinge omdat ek so bekommerd is.’ Lees dan die volgende: ‘Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen. As julle so bid, sal julle God se vrede beleef. Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink…’ (verse 6-7 NLV). Jy styg bo bekommernis uit deur dank te betuig, nie deur te kla nie. Moet nooit toelaat dat jou vlak van danksegging deur jou situasie bepaal word nie, want God is groter as enige situasie waar voor jy te staan kan kom. Hoe kan jy jou neiging om negatief te wees dan oorkom en eerder ‘n positiewe, geloofsvervulde lewensuitkyk ontwikkel? 1) Besluit om dit te doen. Abraham Lincoln het die waarheid gepraat toe hy gesê het: ‘Die meeste mense is so gelukkig soos hulle besluit om te wees.’ Weier om nog ‘n oomblik lank te kritiseer en te kla. 2) Begin nou. Verandering gebeur nie maklik nie, maar as jy nie begin nie, sal dit glad nie gebeur nie. Probeer om meer bewus te wees van wat jy sê. Wanneer jou eerste paar sinne negatief is, korrigeer jouself en stuur die gesprek na dit wat positief is. 3) Verwag die goeie dinge. ‘…Dink aan dit wat vir God saak maak, dinge wat ordentlik en reg is, dinge waaraan God sal dink en waarvan Hy sal hou, dinge wat God sal sê goed is…’ (Filippense 4:8). Maak die volgende jou gebed: ‘Here gee vir my ‘n positiewe, geloofsvervulde lewensuitkyk.’

Sielskos: Lev 1-4; Luk 20:20-26; Ps 31; Spr 8:34-36