2020-06-24
Lukas 19:8 NLV
Saggeus het ryk geword deur meer tolgeld by mense te vat as wat sy Romeinse base verwag het en dan die verskil in sy eie sak te steek. Nadat hy Jesus egter ontmoet het, het hy gesê: ‘…as ek iets van iemand met ‘n slenter bekom het, gee ek dit vierdubbel terug.’ Jesus het toe gesê: ‘…Vandag het daar verlossing vir hierdie huis gekom…’ (vers 9 NLV). Integriteit gaan nie oor spyt, of om pynlike nagevolge te minimaliseer of om skadebeheer te doen nie. Dit gaan oor eerlike berou, om vrede te maak en op ‘n manier te lewe wat waarborg dat jy dinge in die toekoms anders sal doen. Een pastoor het gesê: ‘Mense kyk om hulle rond na losbandigheid, aborsie, seksueel oordraagbare siektes en rou daaroor. Hulle sien hoe amptenare omkoopgeld aanvaar, hoe beleggers inligting vir geld verkoop en kla oor die ondergang van integriteit. Hulle lees oor vrouens wat geslaan word, werklose mans en mishandelde kinders en wonder wat van omgee geword het.’ Die Bybel sê: ‘Die opregtheid van eerlike mense wys vir hulle die koers…’ (Spreuke 11:3 NLV). As jy jou integriteit wil herbou, moet jy erken dat jou gedagtes soms nie geskik is vir goeie geselskap nie, of dat jy iemand seergemaak het en dinge met daardie persoon moet regmaak. Daar word geskat dat 50 persent van Amerikaanse Christene op hulle belastingopgawes kul. Dis amper dieselfde hoeveelheid mense wat nie vir Christus volg nie! Integriteit is wie jy is wanneer niemand jou dophou nie. Job het gesê: ‘Sien Hy nie hoe ek optree nie?.. Het ek ooit vir iemand gelieg, of iemand bedrieg? Laat God my dan weeg en oordeel. Hy ken my onskuld’ (Job 31:4-6 NLV). Begin vandag om jou integriteit te herbou.
Sielskos: Hosea 6-10; Luk 2:21-33; Ps 17; Spr 14:13-16
2020-03-20
Jesaja 26:3 NLV
Die geheim tot ‘perfekte vrede’ word in hierdie Skrifgedeelte vervat: ‘U bewaar elkeen wat op U vertrou in vrede, die mense wie se gedagtes op U gerig is.’ Dis nie jou omstandighede nie, maar die manier hoe jy daaroor dink wat jou vrede steel. Deur op jou omstandighede te fokus sal net meer angs by jou veroorsaak, omdat omstandighede konstant verander en buite jou beheer raak. God verander egter nooit nie en niks raak ooit buite sy beheer nie. Vrede en bekommernis kan nie saam in een sin gebruik word nie. Bekommernis smoor jou selfvertroue, verwurg jou perspektief en versmoor jou gees. Dit steel die vrede wat jy ontvang wanneer jy die God leer ken wat alles kan hanteer, Hom deur wie alle dinge moontlik is. Die rede hoekom ons onsself so baie bekommer, is omdat ons die teenoorgestelde optree as die gedrag wat vrede meebring. Jy mag dit dalk nie so bedoel nie, maar elke keer wat jy jouself begin bekommer, sê jy in wese: ‘Ek glo nie dat God hierdie vir my kan of wil hanteer nie. Ek is nie seker dat ek Hom in hierdie saak kan vertrou nie, dus sal ek hierdie las maar self dra en die probleem self hanteer.’ God is óf die middelpunt van jou vertroue, óf net ‘n deeltydse helper wat jy inroep wanneer jy nie dinge self kan hanteer nie. Dit laat mens dink aan die olifant en muis wat oor ‘n brug geloop het. Toe hulle aan die ander kant kom, sê die muis: ‘Sjoe, ons het regtig daardie brug laat skud!’ Wanneer jy begin om God as die hoofspeler en jouself in ‘n ondersteunende rol in jou lewe te sien, sal jy die vrede vind wat jou al so lank bly ontwyk het.
Sielskos: Job 8-10; Matt 24:15-25; Ps 116:12-19; Spr 8:10-13
2020-01-03
Jesaja 1:19 NLV
In die elfde eeu, het koning Henry III van Bavaria moeg geword vir al sy verantwoordelikhede as koning, die druk van internasionale politiek en die vervelige lewe aan die hof. Hy het ‘n aansoek by die plaaslike klooster ingedien om as ‘n denker aanvaar te word en die res van sy lewe in gebed en meditasie deur te bring. Die kloosterhoof, Richard, het egter gereageer: ‘U Majesteit, besef u dat die belofte hier een van gehoorsaamheid is? Dat dit moeilik sal wees, aangesien u ‘n koning is?’ Henry het geantwoord: ‘Ek verstaan. Ek sal vir die res van my lewe aan jou gehoorsaam wees, soos God jou lei.’ Die kloosterhoof het geantwoord: ‘Dan sal ek vir jou sê wat om te doen. Keer terug na jou troon en dien God getrou in die plek waar Hy jou geplaas het.’ Na Henry se dood is die volgende stelling tot sy eer geskryf: ‘Die koning het geleer om te regeer, deur gehoorsaam te wees.’ Vandag, en elke dag, het jy die volgende besluite om te maak: 1) Lewe volgens jou eie impulse, of lewe volgens die instruksies wat God in sy Woord vir jou gegee het. 2) Lewe volgens jou eie goeddunke, of onderwerp jouself aan die heerskappy en leierskap van die Heilige Gees wat in jou woon. Wanneer jy daaroor nadink, is die antwoord duidelik! Wanneer jy God gehoorsaam, lei dit tot vrede, vooruitgang, beskerming en bevordering. Sy Woord sê: ‘As julle My maar net gehoorsaam en toelaat dat Ek julle help, sal julle baie hê om te eet.’ Gehoorsaamheid is ‘n daad van jou wil, nie ‘n refleks van jou emosies nie. Doen dus hierdie jaar wat God sê, want Hy het goeie dinge vir jou in gedagte.
Sielskos: 1 Kor 5-8; Matt 4:1-11; Ps 90:7-12; Spr 1:5-7
2019-12-11
2 Timoteus 1:7 AFR53
Die Bybel sê vir ons dat vrees ‘n ‘gees’ is. Hierdie gees het ‘n brein wat dink en ‘n stem wat spreek en as jy dit toelaat, sal dit jou beheer. As jy vandag in ‘n stryd met ‘n ‘gees van vreesagtigheid’ is, maak die volgende jou gebed: ‘Here, u Woord sê dat wanneer ek u aangesig soek, sal U my hoor en my van al my vrese red (sien Psalm 34:5). Ek werp dus elke gedagte wat teen dit wat ek van U en u krag weet, neer (sien 2 Korintiërs 10:5). Ek staan op die belofte dat U my nooit sal verlaat of los nie (sien Hebreërs 13:5). Ek rus in die waarheid dat niks te moeilik vir U is nie (sien Jeremia 32:17). Ek verbly my in die versekering dat U alreeds u engele die verantwoordelikheid gegee het om my op al my paaie te beskerm (sien Psalm 91:11). Ek weerstaan die gees van vreesagtigheid en beveel dit om in Jesus se Naam te vlug (sien Jakobus 4:7). Deur geloof beveel ek dat u vrede, wat menslike verstand te bowe gaan, my hart en my gedagtes sal bewaak (sien Filippense 4:7). Dus sal ek nie toelaat dat my hart ontsteld of vreesbevange word nie (sien Johannes 14:27). In die Naam van Jesus bid ek. Amen.’ In plaas daarvan om nou op die probleem te fokus, fokus op die Probleem-oplosser – God! Dit mag dalk nie onmiddellik jou probleme oplos nie, maar dit sal jou gedagtes met vrede vul terwyl jy wag vir God om te werk. Jesaja het gesê: ‘U bewaar elkeen wat op U vertrou in vrede, die mense wie se gedagtes op U gerig is’ (Jesaja 26:3 NLV). Soos jy deur vandag met jou gedagtes op God gerig beweeg, sal jy perfekte en konstante vrede hê.
Sielskos: Neh 11-13; Joh 19:1-16; Ps 105:8-15; Spr 30:5-9
2019-12-10
Psalm 34:11 NLV
Het jy jou werk verloor? Staar die moontlikheid om jou huis te verloor of bankrotskap jou in die gesig? Is jy op die moeilikste plek waar jy al ooit was? Paulus het ‘…alles as verlies afgeskryf…’ (Filippense 3:8 NLV), maar hy het nie daar gebly nie. Hy gaan voort om te sê: ‘…my God [sal] uit sy ontsaglike rykdom vir julle voorsien in elke behoefte wat julle het’ (Filippense 4:19 NLV). God kan dit vir jou doen – met of sonder ‘n salaristjek of ‘n ander verwagte bron van inkomste. Die Psalmdigter het gesê: ‘…wie op die Here vertrou, kort niks wat goed is nie…’ Een ding waarvoor jy op jou hoede moet wees is Satan se praatjies oor wat in die ergste geval kan gebeur. As jy dit toelaat, sal hy vir jou denkbeeldige prente skets waar jy in ‘n kartonboks onder ‘n brug woon. Staan vandag op God se Woord en verklaar: ‘Here, U het gesê dat indien ek gewillig en gehoorsaam is, sal ek die beste van dit wat U kan bied, geniet (sien Jesaja 1:19). U beloof om my met guns te omring (sien Psalm 5:12). U Woord sê dat U deur u krag wat in ons werk, meer kan doen as wat ek ooit sou kon vra of dink (sien Efesiërs 3:20). Selfs al lyk dit of niks tans vir my uitwerk nie, gee my die geloof om U vir goeie dinge en beter dae te glo. U Woord sê vir my om oor niks angstig te wees nie, maar om my versoeke deur gebed en smeking en met danksegging, aan U bekend te maak. Dat u vrede, wat menslike verstand te bowe gaan, my hart en gedagtes sal beskerm (sien Filippense 4:6-7). Here, eer u Woord vandag, in die Naam van Jesus, Amen.’
Sielskos: Neh 8-10; Joh 18:25-40; Ps 105:1-7; Spr 30:1-4