2021-03-03
Markus 3:35 DB
Die Bybel sê: ‘Die mense het om Jesus gesit toe hulle Hom kom roep. ‘Jou ma en broers wag hier buite vir jou,’ sê hulle. Jesus sê toe: ‘Wie is regtig my ma en broers?’ Hy kyk toe na die mense wat om Hom sit en sê: ‘Hier is my regte familie. Elkeen wat doen wat God van hom verwag, is deel van my familie. Hulle is regtig my broer, my suster, my ma’ (verse 32-35 DB).
Een van die grootste toetse van jou geloof sal familielede wees wat nie jou waardes of visie verstaan of deel nie. Dit sal wysheid en genade van jou kant af verg. Ten spyte van sy familie se onvermoë om Hom te verstaan, het Jesus aangehou om vir hulle om te gee en hulle te respekteer. Hy het egter geweier dat hulle Hom voorsê of om sy opdrag van God, te verander. Sy prioriteit was die mense wat byeen gekom het om te hoor wat Hy vir hulle wou sê.
Voel jy vandag verwerp en misken deur jou familie? Bid dan die volgende gebed: ‘Vader, help my om te lewe soos Jesus geleef het; deur diegene wat my misverstaan in die oë te kyk. Deur hulle woorde aan te hoor en die angel van hulle beskuldigings te voel, maar te leer om dit te bowe te kom. Help my om genadig teenoor die een te wees wie se lewe deur wrokkigheid verteer word en deur vrees verlam word. Bring my volsirkel na ‘n plek van vrede, sodat dit nie sal saak maak wie my misverstaan nie, maar dat ek in staat sal wees om aan te gaan soos Jesus aangegaan het – al die pad na die kruis, die opstanding en die prys toe. In Christus se naam bid ek dit. Amen.’
Sielskos: Gen 35-36; Matt 20:17-28; Ps 77; Spr 6:29
2021-02-06
Lukas 19:8 NLV
As jy iemand bedrieg het, verwag God van jou om daarvoor te vergoed. Saggeus was ‘n bedrieër in die eerste eeu wat belasting van die Jode, sy eie mense, vir die Romeine ingesamel het. Hy het almal wat hy kon, bedrieg. Die Bybel sê dat hy ryk was (sien vers 2 NLV). Nadat hy egter ‘n aand saam het Jesus deurgebring het, het hy radikaal verander. Hoe weet ons dit? Omdat hy gesê het: ‘…Here, ek gaan die helfte van my besittings aan die armes gee, en as ek iets van iemand met ‘n slenter bekom het, gee ek dit vierdubbel terug.’ Jesus leer ons: ‘Bewys eerder deur julle voorbeeldige lewe dat julle werklik tot inkeer gekom het’ (Matteus 3:8 NLV).
Soms is dit egter nie moontlik om vrede te maak met die persoon wat jy seergemaak het nie. Wat as hulle oorlede is? Wat as jy ‘n ‘affair’ met iemand anders se eggenoot gehad het? Moet jy teruggaan en hulle man of vrou daarvan vertel sodat jy minder skuldig kan voel? Nee, jy sal hulle harte breek en hulle gesin vernietig. Wat moet jy dus doen? Bid en ontvang God se vergifnis (sien 1 Johannes 1:7-9). As jy daarna steeds daarmee worstel, gaan praat daaroor met jou pastoor, of ‘n Christelike berader, of ‘n volwasse vriend wat dit kan hanteer. Jakobus skryf: ‘Daarom moet julle julle sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid sodat julle gesond kan word…’ (Jakobus 5:16 NLV).
Die punt is dat jy gewillig moet wees om vrede te maak wanneer dit moontlik is en gewillig moet wees om die koste te dra om dinge reg te stel. As jy dit doen, sal God jou seën en kan jy met ‘n skoon gewete met betrekking daar toe lewe.
Sielskos: Rom 1:1-3:20; Matt 13:1-9; Ps 67; Spr 4:1-2
2020-12-22
Matteus 6:27 NLV
Bekommernis verander niks, behalwe jouself – en nie ten goede nie. Dit sal nie jou rekeninge betaal, jou familieprobleme oplos of vir jou ‘n goeie nagrus gee nie. Jy kan nie een dag by jou lewe of een minuut by jou dag voeg deur jou te bekommer nie. Jy kan wel vroeg oud word en voor jou tyd sterf.
Lees die volgende twee Skrifgedeeltes aandagtig: ‘Hulle wat op die Here vertrou is soos Sionsberg; hulle is onbeweeglik en sal vir altyd bly bestaan’ (Psalm 125:1 NLV). ‘U bewaar elkeen wat op U vertrou in vrede, die mense wie se gedagtes op U gerig is’ (Jesaja 26:3 NLV). Beide Skrifgedeeltes bevat die woord ‘vertrou.’
Bekommernis openbaar eenvoudig ons gebrek aan vertroue in God! Wie vertrou ons dus? Onsself! Eers wanneer dit nie meer werk nie, is ons gewillig om ons probleem aan God te gee. Kan jy jou indink om vir Michaelangelo te vra: ‘Is jy seker jy weet wat jy met daardie stuk marmer doen?’
God weet wat Hy doen en wanneer jy Hom vertrou: ‘…sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas’ (Filippense 4:7 NLV). Paulus gebruik hier ‘n militêre metafoor. Die mense in Fillipi het onder Romeinse besetting geleef, wat sleg was. Hulle het egter geweet dat veiligheidswagte hulle stad oppas, wat goed was. Hulle het geweet dat ‘n vyand eers verby die veiligheidswagte moes kom, voor hulle by hulle sou uitkom. Omdat jy ‘in Christus’ is, moet Satan eers verby Hom kom om by jou uit te kom.
Niks – absoluut niks – sal by jou kom sonder om eers deur Hom te gaan nie! Wanneer jy dit aanvaar, sal God se vrede jou hart vul.
Sielskos: Sag 1-4; Matt 1:1-6a; Ps 128; Spr 31:10-13
2020-12-20
Romeine 15:13 NLV
Die Here het vir ons ‘n sin van blydskap te midde van elke situasie waarvoor ons te staan kom, beloof. Jesus het gesê: ‘Dit het Ek vir julle gesê sodat julle my blydskap mag ervaar en julle blydskap volkome mag wees’ (Johannes 15:11 NLV). Hoe kan jy dus aan jou blydskap vashou en dit nie verloor nie?
Die apostel Paulus sê vir ons: ‘Ek bid dat dié God wat aan ons ‘n toekomsverwagting gee, deur die geloof julle lewens met blydskap en vrede sal vul. Ja, mag julle lewens tot oorlopens toe vol verwagting word deur die kragtige werking van die Heilige Gees’ (Romeine 15:13 NLV). Let die woorde ‘deur die geloof’ op. Jy mag vrae hê, maar jy moet nooit aan God se liefde en getrouheid teenoor jou twyfel nie.
Een Bybelonderwyser skryf: ‘Ek onthou ‘n aand wat ek baie ontevrede en misnoeg gevoel het. Ek het geen vrede of blydskap gehad nie en het ellendig gevoel. Ek het Romeine hoofstuk 15:13 gelees en dit was die regte woord op die regte tyd vir my. My probleem was eenvoudig: Ek het getwyfel in plaas daarvan om te glo. Ek het aan God se onvoorwaardelike liefde vir my getwyfel, ek het getwyfel dat ek sy stem kan hoor, ek het aan sy roeping vir my lewe getwyfel en ek het getwyfel of Hy met my tevrede was. Toe ek die probleem herken en terug in geloof en uit twyfel beweeg, het my vrede en blydskap onmiddellik teruggekeer. Ek het gevind dat dit deurlopend in my lewe die geval was. Wanneer my blydskap en vrede weg was, moes ek na my geloof kyk – gewoonlik was dit ook dan weg.’
Dieselfde beginsel is vandag op jou van toepassing!
Sielskos: Jona 2; Luk 11:29-32
2020-09-29
Hebreërs 5:13 AFR53
Paulus skryf: ‘Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ‘n kind is.’ Geregtigheid is nie ‘n toestand wat jy deur menslike inspanning kry nie, dis ‘n posisie waarin God jou plaas wanneer jy op Christus vertrou. Van daardie oomblik af wil God hê dat jy jouself as ‘geregtig’ moet sien, omdat dit is hoe Hy jou sien. ‘aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde. Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet… vir almal en oor almal wat glo…’ (Romeine 3:20-22 AFR53). As jy sukkel om geregtig te wees sodat jy hemel toe kan gaan, lees die volgende teksgedeelte: ‘God het Hom wat nie sonde geken het nie, sonde gemaak ter wille van ons sodat ons, op grond van ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan word’ (2 Korintiërs 5:21 NLV). In dieselfde sin wat God Jesus ‘sonde gemaak’ het, maak Hy jou ‘geregtig’ die oomblik wat jy in Jesus glo. Sal jy steeds sondig omdat jy nog ‘n vleeslike liggaam het? Ja. Totdat jy jou nuwe liggaam ontvang, sal dit altyd so wees. Ons moet die verskil tussen ons posisie en ons toestand verstaan. Ons posisie ‘in Christus’ is wat ons vrymoedigheid voor God gee. Hier is ‘n belangrike Skrifgedeelte: ‘Want die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees’ (Romeine 14:17 AFR53). Let die volgorde op. Omdat ons geregtig in God se oë is, het ons vrede; en omdat ons vrede het – het ons blydskap.
Sielskos: 1 Sam 4-7; Luk 24:1-12; Ps 68:12-23; Spr 22:3-4