Besit vrede – God is steeds in beheer!

2021-11-01
Filippense 4:7 NLV

Die volgende gesegde word aan Moeder Teresa toegeskryf: ‘Ek weet dat God my niks sal gee wat ek nie kan hanteer nie. Ek wens net Hy het my nie so baie vertrou nie!’ Is dit hoe jy vandag voel? Asof daar te veel is om te doen en nie genoeg van jou om dit alles te doen nie? Dink dan na oor Romeine hoofstuk vyftien, vers dertien: ‘Ek bid dat dié God wat aan ons ‘n toekomsverwagting gee, deur die geloof julle lewens met blydskap en vrede sal vul. Ja, mag julle lewens tot oorlopens toe vol verwagting word deur die kragtige werking van die Heilige Gees’ (NLV).

Die manier om vrede te midde van ‘n moeilike situasie te hê, is om deur die Heilige Gees vervul te bly. Hoe kan jy dit doen? Deur ‘n geestelike honger te ontwikkel en toe te laat dat God jou vul. Hy kan jou ‘n sin van kalmte gee wanneer jy deur stres omring word.

So, as jy dus vandag voel of jy verdrink, bid die volgende: ‘Vader, U het gesê dat geen wapen iets teen my sal kan uitrig nie (sien Jesaja 54:17). U het gesê dat wanneer ek enigiets volgens u wil vra, sal U my versoek toestaan (sien 1 Johannes 5:14-15). U het gesê wanneer ek in gehoorsaamheid wandel, ek geseën sal wees wanneer ek kom, wanneer ek gaan, wanneer ek gaan slaap en wanneer ek opstaan (sien Deuteronomium 28:6; Psalm 1:2; 3:6). U het gesê dat ek al my probleme aan U kan oorgee en dat U vir my sal sorg (sien 1 Petrus 5:7). Hier is hulle dus! Vandag staan ek op u beloftes. U het dit gesê! Ek glo dit! So sal dit wees! Amen.’

Sielskos: 1 Kro 17:1-20; Heb 11:4-12:3; Ps 18:20-29; Spr 4:18

Vrede, ten spyte van omstandighede

2021-10-05
Johannes 14:27 NLV

God stuur ons selde in situasies, waar ons gemaklik voel, in. In plaas daarvan belowe Hy ons om by ons, ten spyte van ons vrees, te wees. Dis God se teenwoordigheid, nie gemaklike omstandighede nie, wat ons geloof versterk en die beste in ons na vore bring.

God het vir Abraham gesê om ‘n ryk, bekende familie te verlaat en na ‘n land te gaan wat hy nie ken nie. Hy het verduidelik dat Abraham aan ‘n nuwe nasie wat die wêreld sou seën, geboorte sou gee. Abraham het gegaan en ‘n nasie is gebore. God het vir Moses gesê om die farao, die magtigste man op aarde, te konfronteer en dat God Moses sou gebruik om sy mense te verlos. Moses het gekonfronteer en God het verlos. God het vir Josua gesê dat as hy sterk en moedig sou staan wanneer almal anders na slawerny wou terugkeer, sal God saam met hulle gaan en vir hulle die land gee. Josua was sterk en moedig en God het saam met hulle gegaan en vir hulle die land gegee. Oor en oor sien ons hierdie patroon in die Skrif. Dawid het voor Goliat te staan gekom, Elia het voor die profete van Baäl te staan gekom, Daniël het voor ‘n trop leeus te staan gekom – en altyd was God, te midde van hulle vrese, daar.

Indien jy dalk dink dat hierdie verhale van dapperheid almal tot die verlede hoort, het die geskiedkundige, Everett Ferguson, bereken dat daar die afgelope vyftig jaar meer mense vir hulle geloof doodgemaak is, as in die eerste driehonderd jaar van die kerk se bestaan. Hier is dus Jesus se Woord aan jou wanneer iemand nie van jou hou nie, wanneer jy siek is of die ekonomie ineenstort en jou pensioen krimp: ‘Ek laat vir julle vrede na; my vrede deel Ek met julle…’

Sielskos: 1 Sam 27-31; Luk 24:45-53; Ps 63; Spr 22:17-23

Die goedkeuring van mense (1)

2021-05-01
Spreuke 29:25 NLV

Koning Saul was veronderstel om vir die profeet Samuel te wag om ‘n offer aan God te bring, om sodoende oorwinning in sy geveg te behaal. Soos die dag egter aangestap het en die mense ongeduldig geword het, het Saul die offer self gebring. Toe Samuel vir Saul vra hoekom hy dit gedoen het, het Saul geantwoord: “…’Ek het gesien hoe my manskappe wegloop… Ek het toe verplig gevoel om die brandoffer self te bring…’ ‘Dit was dwaas van jou!’ sê Samuel… ‘As jy geluister het, sou die Here jou koningskap oor Israel vir altyd bevestig het. Maar nou sal jou koningskap nie voortduur nie…'” (1 Samuel 13: 11-14 NLV). Omdat Saul mense se goedkeuring nodig gehad het, het hy alles verloor.

Het jy al ooit ongemaklik gevoel oor iets wat iemand jou gevra het om te doen? Een van die maniere wat God ons lei, is deur ‘n sin van innerlike vrede. Jesaja sê: ‘Julle sal… in vrede gelei word…’ (Jesaja 55:12 NLV). Paulus skryf ook: ‘Daarom moet ons dinge doen wat help dat daar vrede is…’ (Romeine 14:19 ABA).

As iets nie reg voel nie, laat jou stem gehoor word. Sê: ‘Ek het nie vrede hieroor nie.’ Mense moenie van jou verwag om voort te gaan totdat jy vrede het nie, alhoewel dit selde gebeur wanneer ander mense eise aan ons stel. Jesus het vir sy dissipels gesê: ‘As hulle julle nie wil ontvang of luister na wat julle sê nie, gaan uit daardie huis of dorp en skud die stof van julle voete af’ (Matteus 10:14 NLV). Wanneer iemand se reaksie jou daarvan wil weerhou om te doen wat jy weet reg is – is dit tyd om dit af te skud en aan te beweeg.

Sielskos: Num 14-15; Mark 6:1-13; Ps 37:1-7; Spr 11:1-2

Jy kan vrede en voorspoed hê

2021-03-27
Job 22:21 NLV

Vandag het ons nie net gewone stres nie, ons het kuberstres. E-posse vermeerder soos hase. As jy jou selfoon net vir ‘n paar ure afskakel, weeg dit sommer vyf kilogram swaarder wanneer jy dit weer aansit as gevolg van al die boodskappe wat ingekom het. Dan het ons hiperstres. Gaan na die kruidenierswinkel toe en sien hoeveel geselsies die kassier, wie se spoed en effektiwiteit deur ‘n rekenaar gemeet word soos hy of sy jou kruideniersware elektronies skandeer en jou totale bedrag uitroep, met jou wil maak.

In ‘n vyf-jaar studie, het 88 persent van drieduisend salaristrekkers gesê dat hulle ‘baie hard’ werk. Agt-en-sestig persent het gesê dat hulle ‘baie vinnig’ werk. Sestig persent het gesê dat hulle ‘nie al die werk klaarkry nie.’ Een-en-sewentig persent het gesê dat hulle ‘opgebruik’ voel.

Selfs pastore is nie immuun daarteen nie. Amper die helfte van hulle bedank uiteindelik en 80 persent van hulle gee die effek van pastorale bediening op hulle familielewe, as die rede daarvoor.

Wat is dus die oplossing vir ons stres? Vrede! Waar kan jy vrede kry? Die Bybel sê vir ons: ‘Onderwerp jou aan God, dan sal jy vrede hê en sal alles met jou goed gaan.’ Hier is hoe dit werk: Wanneer jy weet dat God lief is vir jou en jou onvoorwaardelik aanvaar, stel dit jou vry om dieselfde vir jouself te doen. Gevolglik word jy nie meer deur ‘n behoefte aan aanvaarding, verkryging en prestasie gedryf nie. Ja, wanneer jy volgens die beginsels wat duidelik in die Bybel uiteengesit is lewe, kan jy vrede en voorspoed hê!

Sielskos: Eks 12:1-14; Matt 26:17-29; 1 Kor 11:20-34; Ps 49

Waar kan jy vrede vind?

2021-03-11
Psalm 29:11 NLV

Met die dat ons ons pas verhoog het, het ons ons vrede verlaag. Daar is ‘n ou grap van ‘n gespanne persoonlike assistent wat vir haar baas gesê het: ‘Wanneer hierdie stormloop verby is, gaan ek ‘n senu-ineenstoring hê. Ek het dit verdien en niemand gaan dit van my af wegneem nie!’ Ons glimlag, maar die kans is goed dat jy daarby aanklank kan vind.

Nie lank gelede nie het ons die verloop van tyd in seisoene gemeet. Seisoene het egter in maandelikse kalenders verander, wat in dagbeplanners verander het en vandag sit ons met elektroniese persoonlike organiseerders in ons hande. Waartoe lei dit alles? Soos ons produktiwiteit toeneem, lyk dit of ons lewenskwaliteit afneem.

‘n Artikel in USA Today beskryf hoe die terapeut Ofer Zur ‘n konferensie getiteld: ‘Speed.com: The Search for Meaning in the New Millennium,’ aangebied het. Soos die konferensiegangers begin instroom het, het Zur die fronsende gesigte en bekommerde kyke van sy gehoor begin oplet. Hy sê dat hy bekommerd begin raak het toe hy sien dat hulle selfone en skootrekenaars saamgebring het – wat hulle van plan was om tydens die konferensie te gebruik. Hier is wat hy daaroor te sê gehad het: ‘Ons het obsessief oor spoed geraak. Ons eindig op met baie planne wat ons nie kan uitvoer nie en ‘n vol skedule wat ons nie kan volg nie. Die paradoks van ons tegnologiese toestelle wat ons tyd moet bespaar, is dat ons met geen vrye tyd opgeëindig het nie.’

Klink dit bekend? Waar kan jy dus gaan om vrede te kry? Na die Een wie se naam die ‘Prins van Vrede’ is. Vandag sê Hy vir jou: ‘As jy maar net na my gebooie geluister het! Dan sou jou vrede soos ‘n rivier gewees het, en jou geregtigheid soos die golwe van die see’ (Jesaja 48:18 NLV).

Sielskos: 1 Tess 1-5; Matt 22:15-22; Ps 135; Spr 7:21-23