Wanneer jy sterf! (6)

2022-06-01
2 Korintiërs 5:2 NLV

Dr Elisabeth Kübler-Ross, ‘n kundige op die gebied van dood en afsterwe en dr Raymond Moody Jnr, het saam met dr Kübler-Ross, ook ‘n bekende psigiater, die gevallegeskiedenis van meer as vyfhonderd mense wat weer lewendig geword het nadat hulle deur hul dokters as dood verklaar is, ondersoek. Die mense in die studie het óf ‘n plek van skoonheid, verwondering, vreugde en vrede beskryf, óf hulle het iets vreesliks beskryf. Hulle het ook beskryf hoe hulle buite hul liggame gesweef het. Nadat hulle ‘dood’ verklaar is, was sommige wat blind was in staat om te sien. Hulle het vertel van mense wat die kamer binnegekom het, hoe hulle gelyk het en wat hulle gedoen het terwyl hulle daar was. Tog, toe hierdie mense wat blind was terug lewe toe gebring is, kon hulle nie meer sien nie.

In sy boek, Life After Life, skryf dr Moody: “‘n Dokter het my vertel van sy ervaring toe hy ‘n man behandel het wat klinies dood verklaar is. Hy het daarin geslaag om die man weer by te bring, maar die man het hom daarna gedagvaar omdat hy hom, na die glorie wat hy beleef het, na hierdie ellendige bestaan teruggebring het. Een vrou het vertel dat sy afgekyk het op die dokters wat besig was om haar te probeer bybring en vir hulle probeer sê het: ‘Los my uit!'”

Die apostel Paulus verduidelik dit as volg: ‘Ons weet dat wanneer ons aardse verblyf, wat net ‘n tentwoning is, afgebreek word, ons ‘n permanente byplek by God het, ‘n huis wat nie met hande gebou is nie, maar wat vir altyd in die hemel bestaan. In hierdie tentwoning swoeg en kreun ons, want ons verlang daarna om ons hemelse woning te betrek’ (verse 1-2 NLV). Wanneer jy sterf – begin jy waarlik lewe!

Sielskos: 1 Kon 10-11; Matt 13:36-46; Ps 113; Spr 12:15-17

Kies vrede

2022-04-02
Galasiërs 5:22 NLV

Paniek en angs is dikwels ons eerste reaksie op konflik en probleme. In daardie aanvanklike oomblikke voel dit onmoontlik om vrede te kies. Jou onderbewussyn fluister: ‘As jy regtig omgee, sal jy bekommerd wees.’ ‘n Ervare berader skryf egter: ‘Moenie paniekerig raak nie! Maak nie saak wat die situasie of omstandighede is nie, ons het gewoonlik ‘n oomblik om diep asem te haal en toe te laat dat vrede deur ons liggaam en gedagtes vloei. Paniek, nie die taak nie, is die vyand.’

Angs bekragtig en vergroot net die probleem. Jou beste hulpbron vir probleemoplossing is altyd vrede. Vrees en angs blokkeer oplossings; antwoorde kom makliker in ‘n vredevolle gemoedstoestand na vore. Paulus skryf: ‘Maar as die Gees ons lewe beheer, is die gevolg… vrede…’ Weier om jou negatiewe emosies toe te laat om oor te neem en jou reaksie te beïnvloed.

Jesus het gesê: ‘Ek laat vir julle my vrede na; my vrede deel Ek met julle. Julle moet regtig nie ontsteld of beangs word nie’ (Johannes 14:27 NLV). Jesus laat sy vrede vir ons na, soos om in ‘n testament iets na te laat. Wanneer iemand sterf, laat hulle hulle kosbaarste besittings vir die mense vir wie hulle lief is, na. Dit beteken dat jy opsies het; jy kan tussen vrede en innerlike konflik kies. Net omdat Jesus egter sy vrede vir ons nagelaat het, beteken dit nie dat dit outomaties binne-in ons werk nie.

Dis ook moeiliker om God se stem te hoor wanneer ons ons vrede verloor. Paulus sê: ‘Verder, laat die vrede wat Christus bewerk het, in julle lewe skeidsregter wees…’ (Kolossense 3:15 NLV). Dus in plaas daarvan om toe te laat dat jy vandag angstig en paniekerig word, kies vrede.

Sielskos: Fil 3-4; Luk 21:12-24; Ps 18:1-29; Spr 9:4-6

Het jy gesondig? God sal jou vergewe!

2022-03-25
1 Johannes 1:9 NLV

Die verhaal van Dawid en Batseba is die tipe storie waarvan rolprente gemaak word – wellus, owerspel, buite-egtelike swangerskap, moord en ‘n toesmeerdery. Dit het ook gelyk of Dawid met alles wegkom, behalwe vir een belangrike detail: ‘…Maar die Here was baie ontevrede met dit wat Dawid gedoen het’ (2 Samuel 11:27 NLV).

In die Bybel, verwys God na Dawid as ‘…’n man na sy hart…’ (1 Samuel 13:14 NLV), maar ons lees ook in dieselfde Bybel: ‘…Weet dan dat julle sonde aan die lig sal kom’ (Numeri 32:23 NLV). God het dus die profeet Natan gestuur om vir Dawid te sê: ‘…Ek het jou tot koning van Israel gesalf… Hoekom het jy dan die woord van die Here geminag…?’ (2 Samuel 12:7,9 NLV). Toe het God sy oordeel gevel: ‘Omdat jy dit gedoen het, sal Ek, die Here, toesien dat jou eie huis ellendes oor jou bring… Ek sal dit openlik voor die hele Israel doen’ (2 Samuel 12:10-12 NLV). Van daardie dag af het tragedie en onrus Dawid se familie geteister.

God sal in sommige gevalle jou vrede wegneem sodat jy jou sonde moet erken. Dit het ‘n onbeplande swangerskap, die moord van ‘n onskuldige man, ‘n kind se dood, ‘n profeet se oortuiging en die oortuiging van die Heilige Gees geneem voor Dawid se hart sag geword het en hy erken het: ‘…Ek het teen die Here gesondig…’ (2 Samuel 12:13 NLV). ‘As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van elke verkeerde optrede’ (1 Johannes 1:9 NLV).

So lank as wat jy aanhou om jou sonde te verskoon, te verdedig en te rasionaliseer, kan God niks vir jou doen nie. Die oomblik wat jy dit egter teenoor Hom bely, sal Hy jou vergewe. Is dit nie wonderlik nie?

Sielskos: Job 24-28; Luk 19:41-48; Ps 38:1-12; Spr 8:22-23

Vergewe jou ouers (2)

2022-03-21
Lukas 6:37 NLV

Sodra jy verstaan dat ouers nie altyd in staat is om dit vir hulle kinders te gee wat hulle self nie ontvang het nie – naamlik liefde, versorging, aanvaarding en fisiese geneentheid – word dit makliker om hulle te vergewe.

Die skrywer Stormie Omartian sê: ‘Soms maak dit wat een ouer nie gedoen het nie, net so seer as die een wat mishandel het. ‘n Ouer se onbetrokkenheid en onwilligheid om in te tree en jou te red, voel soos verraad. Onvergifnis vir ‘n onbetrokke ouer is moeiliker om te herken, maar meer algemeen as wat ons dink. Vra God om vir jou te wys of jy enige onvergifnis het teenoor ‘n ouer wat nie tot jou redding gekom het nie. As dit daar is, moet jy daardie gevoelens eerlik hanteer.

Die eerste stap is om God se vergifnis te ontvang en toe te laat dat die realiteit daarvan ons diepste binneste binnedring. Wanneer ons besef hoeveel ons al vergewe is, het ons geen reg om iemand anders te veroordeel nie. Om vergewe en vrygestel te word van alles wat ons ooit gedoen het is so ‘n wonderbaarlike gawe, hoe kan ons dus weier om gehoorsaam te wees wanneer God ons vra om ander te vergewe?

Vergifnis is ‘n tweerigting straat. God vergewe jou en jy vergewe ander mense. Ons baseer ons besluit nie op dit wat ons voel ons wil doen nie, maar op dit wat ons weet reg is.’

Jesus het gesê: ‘Hou op om ander te oordeel, en julle sal nie geoordeel word nie… As julle ander vergewe, sal julle vergewe word’ (vers 37 NLV). Deur te kies om te vergewe en nie toe te laat dat iemand anders se sonde dit wat jy voel en doen voorskryf nie, word jy vry om in vrede te leef.

Sielskos: Job 11-14; Luk 18:31-43; Ps 116:12-19; Spr 8:10-13

Erken God se soewereiniteit

2022-03-17
Romeine 12:1 ABA

Paulus skryf: ‘Vriende, God is baie goed vir julle… Julle moet self offers wees vir Hom… Dan sal julle dinge doen wat God wil hê julle moet doen, goeie dinge, dinge waarvan Hy hou, dinge wat heeltemal reg is’ (verse 1-2 ABA). Daar is twee maniere om God se soewereiniteit te verstaan: a) deur sy inisiatief, en b) deur ons reaksie.

In wese sê Paulus die volgende: 1) Weerstaan die druk van ‘n wêreldsisteem wat jou in die verkeerde rigting trek. 2) Vernuwe jou gedagtes elke dag deur gebed en deur God se Woord te lees. 3) Herken sy wil vir jou lewe en lewe daarvolgens. Paulus hou egter nie daar op nie. Hy skryf: ‘Julle moet waarlik lief wees vir mekaar. Julle moet slegte dinge haat en graag goeie dinge doen. Julle behoort aan Christus en aan mekaar, daarom moet julle lief wees vir mekaar. Julle moet eerste wees om ander mense te respekteer… Wanneer julle swaarkry, dan moet julle geduldig wees. Julle moet aanhou bid. Party mense wat ook aan die Here behoort, het baie min goed. Julle moet van julle goed vir hulle gee. Julle moet vriendelik wees met vreemdelinge. Wanneer mense slegte dinge aan julle doen, dan moet julle vir die Here vra om goed te wees vir hulle … Wanneer mense slegte dinge aan julle doen, dan moet julle nie ook slegte dinge aan hulle doen nie. Julle moet goeie dinge doen… Julle moet baie hard probeer om in vrede te lewe met ander mense’ (verse 9-18 ABA).

God se soewereiniteit stel ons nie van persoonlike verantwoordelikheid vry nie. Dit beteken nie dat ons belangstelling in aktuele sake of ingeligte besluite moet verloor nie. God verwag steeds van ons om na uitnemendheid te strewe en besorg te wees oor ‘n verlore wêreld.

Sielskos: Job 1-4; Luk 17:20-37; Ps 11; Spr 8:4-5