Jou beker vol seëninge

2023-03-11
Psalm 23:5 NLV

Dawid het gesê: ‘Wanneer ek loop in ‘n donker vallei, sal ek nie bang wees nie, wat U is naby my. U stok en u staf beskerm en ondersteun my. U berei vir my ‘n feesmaal voor die oë van al my vyande. U verwelkom my as ‘n eregas deur my kop te salf met olie en my beker vol te maak met seëninge’ (verse 4-5 NLV).

God het nie beloof dat jy nie met die dood, of vrees, of die bose, of vyande te doen sal kry nie. Hy het eenvoudig gesê dat ten spyte daarvan, of selfs soms te midde daarvan, jou beker vol seëninge sal wees. Paulus skryf: ‘En God is in staat om aan julle elke gawe in oorvloed te gee sodat julle in elke opsig altyd van alles genoeg kan hê én ook nog oorvloedig kan wees in elke goeie werk’ (2 Korintiërs 9:8 NLV). Hy deurweek jou met vreugde en vrede, sodat ‘…julle lewens tot oorlopens toe vol verwagting word deur die kragtige werking van die Heilige Gees’ (Romeine 15:13 NLV). Hy gee jou vreugde in oorvloed, sodat ‘…julle… die wonderlike blydskap wat julle in julle voel, eintlik nie onder woorde [kan] bring nie’ (1 Petrus 1:8 NLV). Hy gee jou oorvloedige vrede – Hy gee ‘…God se vrede… Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink…’ (Filippense 4:7 NLV).

Wanneer jy dus sukkel om met jou salaris uit te kom, of die toekoms vrees, kyk in die spieël en sê: ‘God is my bron; ek het meer as genoeg, my beker is vol seëninge.’ Moet dit ook nie net in tye van nood of krisis doen nie; maak dit ‘n gewoonte wat jy elke dag uitoefen.

Sielskos: Eks 36-38; Luk 15:11-32; Ps 27; Spr 7:10-20

Vrede sal jou gedagtes oppas

2023-01-31
Filippense 4:7 NLV

Wyse mense maak nooit belangrike besluite terwyl hulle in ‘n verkeerde emosionele toestand is nie. Toe Elia uitgevind het dat koningin Isebel op sy spoor is, was hy gereed om sy rol as profeet op te gee en te sterf. Dus het God vir hom veertig dae van rus, gebed en herstel gegee. Toe was hy gereed om op die basis van sy geloof in God en nie as gevolg van sy vrees vir Isebel nie, besluite te neem. Sy besluit na veertig dae van rus was baie anders as wat dit voor sy rustydperk sou gewees het.

Jy het seker al gesien hoe mense vreeslike besluite, wat hulle nooit andersins sou geneem het nie, neem wanneer hulle gedreineer, moeg, ontmoedig en bang is. Oor die algemeen sal jy nie die regte plan van aksie kies wanneer jy in die verkeerde gemoedstoestand is nie. Wanneer jy ‘n belangrike besluit moet maak, is die wysste ding wat jy kan doen om te wag totdat jy uitgerus is. ‘n Angstige gemoedstoestand in ‘n moeë liggaam kan tot ‘n baie verkeerde besluit lei.

Die Bybel sê: ‘Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen. As julle so bid, sal julle God se vrede beleef. Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink. Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas’ (verse 6-7 NLV).

Die vrede van God sal jou gedagtes oppas, sodat jy nie impulsief, selfsugtig of kwaadwillig sal optree nie. Dit sal jou oppas sodat jy nie op enige manier optree wat verlies eerder as wins en spyt eerder as vreugde tot gevolg sal hê nie.

Sielskos: Gen 17-19; Luk 7:1-10; Ps 107:17-22; Spr 3:21-24

Die belangrikheid van slaap

2022-12-08
Jeremia 31:26 NLV

Soms is die mees ‘geestelike’ ding wat jy kan doen om vroeg bed toe te gaan en verfris wakker te word, sodat jy gereed is om God se doelwitte vir die dag te vervul. Wanneer jou battery konstant laag is, word dit in jou houding, jou verhoudings, jou optrede en jou gesondheid, weerspieël.

Dis hoekom die Bybel oor die belangrikheid van slaap praat:
1) ‘Tevergeefs werk jy so hard, van vroegoggend tot laatnag, soos jy swoeg om te bestaan, maar vir hulle wat Hy liefhet, gee Hy dit in hulle slaap’ (Psalm 127:2 NLV).
2) ‘Ek sal in vrede gaan lê en slaap, want U alleen, o Here, laat my veilig woon’ (Psalm 4:9 NLV).

Slaap is ‘n vertrouensdaad: Wanneer jy gaan slaap, erken jy dat die wêreld in God se hande, nie joune nie, is. Wanneer jy môreoggend wakker word, net soos God vir Israel vars manna gegee het, sal Hy vir jou gee wat jy vir die dag nodig het. Jeremia het gesê: ‘Toe het ek wakker geskrik en rondom my begin kyk. Wat ek ervaar het terwyl ek geslaap het, was baie aangenaam.’

Het jy al ooit probeer bid as jy nie genoeg geslaap het nie? Dis moeilik. Voor Elia in staat was om langdurige tye in gebed deur te bring, het die engel van die Here hom gedwing om nie net een nie, maar twee lang slapies te vat. Kontrasteer dit met die dissipels in Getsemane wat nie kon bid nie, omdat hulle aanhoudend aan die slaap geraak het. Dis moeilik om soos Jesus te dink, te voel en op te tree wanneer jy slaap kort. Dis hoekom die Bybel sê: ‘…vir hulle wat Hy liefhet, gee Hy dit in hulle slaap’ (Psalm 127:2 NLV).

Sielskos: Jos 8:30-10:43; Joh 14:15-25; Ps 147:1-11; Spr 29:1-5

Wanneer jy sterf! (6)

2022-06-01
2 Korintiërs 5:2 NLV

Dr Elisabeth Kübler-Ross, ‘n kundige op die gebied van dood en afsterwe en dr Raymond Moody Jnr, het saam met dr Kübler-Ross, ook ‘n bekende psigiater, die gevallegeskiedenis van meer as vyfhonderd mense wat weer lewendig geword het nadat hulle deur hul dokters as dood verklaar is, ondersoek. Die mense in die studie het óf ‘n plek van skoonheid, verwondering, vreugde en vrede beskryf, óf hulle het iets vreesliks beskryf. Hulle het ook beskryf hoe hulle buite hul liggame gesweef het. Nadat hulle ‘dood’ verklaar is, was sommige wat blind was in staat om te sien. Hulle het vertel van mense wat die kamer binnegekom het, hoe hulle gelyk het en wat hulle gedoen het terwyl hulle daar was. Tog, toe hierdie mense wat blind was terug lewe toe gebring is, kon hulle nie meer sien nie.

In sy boek, Life After Life, skryf dr Moody: “‘n Dokter het my vertel van sy ervaring toe hy ‘n man behandel het wat klinies dood verklaar is. Hy het daarin geslaag om die man weer by te bring, maar die man het hom daarna gedagvaar omdat hy hom, na die glorie wat hy beleef het, na hierdie ellendige bestaan teruggebring het. Een vrou het vertel dat sy afgekyk het op die dokters wat besig was om haar te probeer bybring en vir hulle probeer sê het: ‘Los my uit!'”

Die apostel Paulus verduidelik dit as volg: ‘Ons weet dat wanneer ons aardse verblyf, wat net ‘n tentwoning is, afgebreek word, ons ‘n permanente byplek by God het, ‘n huis wat nie met hande gebou is nie, maar wat vir altyd in die hemel bestaan. In hierdie tentwoning swoeg en kreun ons, want ons verlang daarna om ons hemelse woning te betrek’ (verse 1-2 NLV). Wanneer jy sterf – begin jy waarlik lewe!

Sielskos: 1 Kon 10-11; Matt 13:36-46; Ps 113; Spr 12:15-17

Kies vrede

2022-04-02
Galasiërs 5:22 NLV

Paniek en angs is dikwels ons eerste reaksie op konflik en probleme. In daardie aanvanklike oomblikke voel dit onmoontlik om vrede te kies. Jou onderbewussyn fluister: ‘As jy regtig omgee, sal jy bekommerd wees.’ ‘n Ervare berader skryf egter: ‘Moenie paniekerig raak nie! Maak nie saak wat die situasie of omstandighede is nie, ons het gewoonlik ‘n oomblik om diep asem te haal en toe te laat dat vrede deur ons liggaam en gedagtes vloei. Paniek, nie die taak nie, is die vyand.’

Angs bekragtig en vergroot net die probleem. Jou beste hulpbron vir probleemoplossing is altyd vrede. Vrees en angs blokkeer oplossings; antwoorde kom makliker in ‘n vredevolle gemoedstoestand na vore. Paulus skryf: ‘Maar as die Gees ons lewe beheer, is die gevolg… vrede…’ Weier om jou negatiewe emosies toe te laat om oor te neem en jou reaksie te beïnvloed.

Jesus het gesê: ‘Ek laat vir julle my vrede na; my vrede deel Ek met julle. Julle moet regtig nie ontsteld of beangs word nie’ (Johannes 14:27 NLV). Jesus laat sy vrede vir ons na, soos om in ‘n testament iets na te laat. Wanneer iemand sterf, laat hulle hulle kosbaarste besittings vir die mense vir wie hulle lief is, na. Dit beteken dat jy opsies het; jy kan tussen vrede en innerlike konflik kies. Net omdat Jesus egter sy vrede vir ons nagelaat het, beteken dit nie dat dit outomaties binne-in ons werk nie.

Dis ook moeiliker om God se stem te hoor wanneer ons ons vrede verloor. Paulus sê: ‘Verder, laat die vrede wat Christus bewerk het, in julle lewe skeidsregter wees…’ (Kolossense 3:15 NLV). Dus in plaas daarvan om toe te laat dat jy vandag angstig en paniekerig word, kies vrede.

Sielskos: Fil 3-4; Luk 21:12-24; Ps 18:1-29; Spr 9:4-6