Kies vrede
2022-04-02Galasiërs 5:22 NLV
Paniek en angs is dikwels ons eerste reaksie op konflik en probleme. In daardie aanvanklike oomblikke voel dit onmoontlik om vrede te kies. Jou onderbewussyn fluister: ‘As jy regtig omgee, sal jy bekommerd wees.’ ‘n Ervare berader skryf egter: ‘Moenie paniekerig raak nie! Maak nie saak wat die situasie of omstandighede is nie, ons het gewoonlik ‘n oomblik om diep asem te haal en toe te laat dat vrede deur ons liggaam en gedagtes vloei. Paniek, nie die taak nie, is die vyand.’
Angs bekragtig en vergroot net die probleem. Jou beste hulpbron vir probleemoplossing is altyd vrede. Vrees en angs blokkeer oplossings; antwoorde kom makliker in ‘n vredevolle gemoedstoestand na vore. Paulus skryf: ‘Maar as die Gees ons lewe beheer, is die gevolg… vrede…’ Weier om jou negatiewe emosies toe te laat om oor te neem en jou reaksie te beïnvloed.
Jesus het gesê: ‘Ek laat vir julle my vrede na; my vrede deel Ek met julle. Julle moet regtig nie ontsteld of beangs word nie’ (Johannes 14:27 NLV). Jesus laat sy vrede vir ons na, soos om in ‘n testament iets na te laat. Wanneer iemand sterf, laat hulle hulle kosbaarste besittings vir die mense vir wie hulle lief is, na. Dit beteken dat jy opsies het; jy kan tussen vrede en innerlike konflik kies. Net omdat Jesus egter sy vrede vir ons nagelaat het, beteken dit nie dat dit outomaties binne-in ons werk nie.
Dis ook moeiliker om God se stem te hoor wanneer ons ons vrede verloor. Paulus sê: ‘Verder, laat die vrede wat Christus bewerk het, in julle lewe skeidsregter wees…’ (Kolossense 3:15 NLV). Dus in plaas daarvan om toe te laat dat jy vandag angstig en paniekerig word, kies vrede.
Sielskos: Fil 3-4; Luk 21:12-24; Ps 18:1-29; Spr 9:4-6