Doen hierdie jaar wat God sê
2020-01-03Jesaja 1:19 NLV
In die elfde eeu, het koning Henry III van Bavaria moeg geword vir al sy verantwoordelikhede as koning, die druk van internasionale politiek en die vervelige lewe aan die hof. Hy het ‘n aansoek by die plaaslike klooster ingedien om as ‘n denker aanvaar te word en die res van sy lewe in gebed en meditasie deur te bring. Die kloosterhoof, Richard, het egter gereageer: ‘U Majesteit, besef u dat die belofte hier een van gehoorsaamheid is? Dat dit moeilik sal wees, aangesien u ‘n koning is?’ Henry het geantwoord: ‘Ek verstaan. Ek sal vir die res van my lewe aan jou gehoorsaam wees, soos God jou lei.’ Die kloosterhoof het geantwoord: ‘Dan sal ek vir jou sê wat om te doen. Keer terug na jou troon en dien God getrou in die plek waar Hy jou geplaas het.’ Na Henry se dood is die volgende stelling tot sy eer geskryf: ‘Die koning het geleer om te regeer, deur gehoorsaam te wees.’ Vandag, en elke dag, het jy die volgende besluite om te maak: 1) Lewe volgens jou eie impulse, of lewe volgens die instruksies wat God in sy Woord vir jou gegee het. 2) Lewe volgens jou eie goeddunke, of onderwerp jouself aan die heerskappy en leierskap van die Heilige Gees wat in jou woon. Wanneer jy daaroor nadink, is die antwoord duidelik! Wanneer jy God gehoorsaam, lei dit tot vrede, vooruitgang, beskerming en bevordering. Sy Woord sê: ‘As julle My maar net gehoorsaam en toelaat dat Ek julle help, sal julle baie hê om te eet.’ Gehoorsaamheid is ‘n daad van jou wil, nie ‘n refleks van jou emosies nie. Doen dus hierdie jaar wat God sê, want Hy het goeie dinge vir jou in gedagte.
Sielskos: 1 Kor 5-8; Matt 4:1-11; Ps 90:7-12; Spr 1:5-7