‘Perfekte vrede’
2020-03-20Jesaja 26:3 NLV
Die geheim tot ‘perfekte vrede’ word in hierdie Skrifgedeelte vervat: ‘U bewaar elkeen wat op U vertrou in vrede, die mense wie se gedagtes op U gerig is.’ Dis nie jou omstandighede nie, maar die manier hoe jy daaroor dink wat jou vrede steel. Deur op jou omstandighede te fokus sal net meer angs by jou veroorsaak, omdat omstandighede konstant verander en buite jou beheer raak. God verander egter nooit nie en niks raak ooit buite sy beheer nie. Vrede en bekommernis kan nie saam in een sin gebruik word nie. Bekommernis smoor jou selfvertroue, verwurg jou perspektief en versmoor jou gees. Dit steel die vrede wat jy ontvang wanneer jy die God leer ken wat alles kan hanteer, Hom deur wie alle dinge moontlik is. Die rede hoekom ons onsself so baie bekommer, is omdat ons die teenoorgestelde optree as die gedrag wat vrede meebring. Jy mag dit dalk nie so bedoel nie, maar elke keer wat jy jouself begin bekommer, sê jy in wese: ‘Ek glo nie dat God hierdie vir my kan of wil hanteer nie. Ek is nie seker dat ek Hom in hierdie saak kan vertrou nie, dus sal ek hierdie las maar self dra en die probleem self hanteer.’ God is óf die middelpunt van jou vertroue, óf net ‘n deeltydse helper wat jy inroep wanneer jy nie dinge self kan hanteer nie. Dit laat mens dink aan die olifant en muis wat oor ‘n brug geloop het. Toe hulle aan die ander kant kom, sê die muis: ‘Sjoe, ons het regtig daardie brug laat skud!’ Wanneer jy begin om God as die hoofspeler en jouself in ‘n ondersteunende rol in jou lewe te sien, sal jy die vrede vind wat jou al so lank bly ontwyk het.
Sielskos: Job 8-10; Matt 24:15-25; Ps 116:12-19; Spr 8:10-13