Moenie die duiwel ‘n vastrapplek gee nie

2019-03-21
Efesiërs 4:26-27 NLV

Die Bybel sê: ‘…Moenie tot die aand toe kwaad bly, en die duiwel so ‘n houvas gee nie.’ Woede gee vir die duiwel grond om op te beweeg. Bitterheid nooi hom in om spasie in jou hart te kom beset. Wanneer jy dit doen, sal hy sy intrek neem en die plek met dinge soos skinderstories, laster en humeurigheid laat stink – enige tyd wanneer jy een van hierdie dinge doen, het jy vir Satan ‘n vastrapplek gegee. Wat moet jy dan doen? Gooi hom uit. Moenie ‘n sekonde van jou dag aan hom afstaan nie. Sê vir hom om in die Naam van Jesus sy tasse te pak en die pad te vat. Begin die proses van vergifnis. Moenie boekhou van die kwaad wat mense aan jou gedoen het nie. Bid vir jou vyande, eerder as om planne teen hulle te smee. Haat die verkeerde dade, sonder om die oortreders te haat. Begin om te fokus op dit wat Jesus vir jou gedoen het, eerder as op dit wat die oortreders aan jou gedoen het. So verregaande soos wat dit dalk mag klink, het Jesus ook vir hulle gesterf. As Hý dink dat hulle vergifnis verdien, dan verdien hulle dit. Maak dit vergifnis maklik? Nee. Dit kom met stampe en stote en het goeie en slegte dae. Sommige dae wanneer jy dink dat jou wond genees het en dat jy heeltemal daar oor is, sal iemand die rofie afstamp en die pyn sal terugkeer. Moet jou nie daaroor bekommer nie. Wanneer dit by vergifnis kom, is ons almal beginners. So lank as wat jy probeer om te vergewe, vergewe jy. Dis wanneer jy nie meer probeer om te vergewe nie, wat jy die duiwel ‘n vastrapplek gee.

Sielskos: Job 32-34; Luk 19:11-19; Ps 55:12-23; Spr 8:19-21

Wanneer jy teenstand kry

2018-12-10
Hebreërs 12:3 NLV

Jy gaan gereeld teenstand in jou lewe kry. Voor jy egter moedeloos word en tou opgooi, kyk weer na Jesus se lewe. Alhoewel Hy op alle maniere perfek was, is Hy deurlopend gekritiseer. Sy vyande het Hom ‘n ‘…vraat en ‘n dronklap…’ (Matteus 11:19 NLV) genoem. Hulle het Hom selfs daarvan beskuldig dat Hy van ‘n demoon besete was (sien Johannes 8:48). Tog het Hy nooit toegelaat dat bitterheid of ontmoediging Hom onderkry nie. Vir Hom was elke struikelblok ‘n geleentheid om genade en durf te bewys. Sy hart is deur diegene wat Hy liefgehad het gebreek, tog het Hy ander mense verstaan en hulle getroos. Hy het siekte as ‘n geleentheid om mense gesond te maak; haat as ‘n geleentheid om sy vyande lief te hê; versoeking as ‘n geleentheid om die vleeslike begeertes waarmee ons almal sukkel te oorkom; en oortreding as ‘n geleentheid vir vergifnis gesien. Hy het deur die lewe gegaan en toetse in seges verander – en Hy is ons voorbeeld. Die Bybel sê, ‘Dink aan Hom wat soveel vyandigheid van sondaarmense deurstaan het. Laat dit julle inspireer om nie uit te sak en tou op te gooi nie.’ Tel jou Bybel op en lees weer sy lesse. In sy beroemde Bergrede, het Jesus gesê: ‘Julle ken ook die ou opvatting: ‘Wees lief vir jou naaste. Haat jou vyand.’ Wel, dit is nie waar nie. Ek sê vandag vir julle dat julle ook julle vyande moet liefhê. Bid vir almal wat julle swaar laat kry en julle vervolg… As julle ook vol liefde en respek optree teenoor almal met wie julle te doen kry, doen julle presies wat die wet van julle vra…’ (Matteus 5:43-48 DB). Dis hoe Jesus gelewe het – en dis hoe Hy wil hê dat jy ook moet lewe.

Sielskos: Gen 42-43; Joh 18:19-40; Ps 148:1-6; Pred 5:1-3

‘n Vader se seën (2)

2018-10-07
Genesis 27:28 NLV

Kom ons kyk na die volgende twee bestanddele van ‘n vader se seën: 1) Die krag van gebed. So het Isak, ‘n boer, vir sy seuns gebid: ‘Mag God vir jou die dou van die hemel en die vrugbaarheid van die aarde gee sodat jy goeie oeste van graan en wyn sal hê.’ Pa, het jou kinders jou al gehoor bid dat hulle sukses in die lewe moet behaal? Miskien het hulle al kritiese en snydende woorde soos: ‘Hoe kan jy so dom wees? Dink jy nooit vir jouself nie? Jy sal nooit iets word nie!’ gehoor. As dit die geval is, vra verskoning en vir hulle vergifnis. Skep dan geleenthede waar hulle jou met God kan hoor praat oor hulle; waar hulle kan hoor hoe jy seën oor hulle uitspreek. Wat ‘n kragtige werktuig is ‘n pa se gebed vir seën oor sy familie nie! 2) Die visie van ‘n glorieryke toekoms. Die Bybel sê, ‘Wanneer ‘n volk nie duidelikheid het oor die wil van God nie, word hulle koersloos…’ (Spreuke 29:18 NLV). Skoolberaders rou oor die gebrek aan visie by hulle studente. Baie van die kinders van vandag sien niks in hulle toekoms, behalwe slegte ekonomiese toestande, werkloosheid en harde tye nie. Hulle het iemand nodig wat in hulle glo; wat hulle gerusstel dat hulle sukses kan behaal en gelukkige lewens kan lei en kan weet dat hulle beste dae nog voor hulle lê. Isak het nie gewag vir sy seuns om hulle eie visie vir die lewe te kry nie. Nee, hy het vir hulle toekomstige sukses, hulle vooruitgang tot vernaamheid en vir respek van hulle familie en die samelewing toegebid. Pa, jou kinders het nodig dat jy hulle in die regte rigting motiveer.

Sielskos: Heb 11:8-12; Gen 17:1-27; Gen 22:1-18; Jak 2:21-24

Vriende in vermomming

2018-09-23
2 Korintiërs 12:10 NLV

Wanneer jy beledig word, kan jy met ‘n bitsige antwoord reageer, of dit as ‘n geleentheid vir groei sien. Dawid het gesê, ‘Die lyding was goed vir my, want toe het ek u voorskrifte geleer’ (Psalm 119:7 NLV). Die sielkundige dr Brenda Shoshanne sê: ‘Die persoon wat ons beledig is ‘n onderwyser, wat ons help om ons ego te verminder, geduld en deernis te ontwikkel, onvoorwaardelike vergifnis uit te oefen en ons van die lewe en verhoudings te leer. As jy ‘n belediging nie as ‘n belediging sien nie, maar as ‘n les of ‘n gawe, verloor dit sy mag om jou seer te maak. Op ‘n praktiese vlak, wanneer jy beledig word, moenie iets sê nie. Gee jouself tyd. Baie skade word veroorsaak deur terug te slaan, die situasie te eskaleer en dinge te sê wat jy nie bedoel nie. Besef dat dit jou ego is – die valse sin van trots wat te voorskyn kom – en moenie daarmee saam gaan nie.’ Paulus het op ‘n plek gekom waar hy tevrede was met beledigings. Die meeste van ons is nog nie heeltemal daar nie, maar met tyd en oefening kan ons daar kom. Met betrekking tot Judas, skryf ‘n outeur: ‘God sal soms die aksies van ons vyande manipuleer om hulle as vriende te laat werk om Sy wil in ons lewens te vervul. Hy kan jou deur die slegste verhoudings seën, selfs die wat wat pynlik en negatief is. Die tyd, inspanning en pyn wat ons in hulle belê, word nie gemors nie omdat God weet hoe om teenspoed te gebruik om jou te help om jou doel in die lewe te vervul. Op die ou einde sal jy die genade vind om jou vyande te herevalueer en te besef dat, soos Judas, hulle vriende in vermomming is.’

Sielskos: 1 Kon 17:1-6; 1 Kon 18:16-39; 1 Kon 19:9-18; 2 Kon 2:1-12

Wat is in ‘n naam? Alles! (5)

2018-09-07
Jeremia 23:6 NLV

Die naam Jehova Tsidkenu: Die Here is ons geregtigheid, is deur Jeremia aan God gegee toe hy die koms van Jesus, die Verlosser, aangekondig het: ‘…Daar sal ‘n tyd kom wanneer Ek weer ‘n wettige afstammeling uit Dawid se familie koning sal maak… Sy naam sal wees: ‘Die Here ons geregtigheid’…’ (verse 5-6 NLV. Voor Jesus gekom het, het ons geregtigheid in ons eie inspanning gelê. ‘Wanneer ons al die bepalings gehoorsaam wat die Here ons God gee, sal ons regverdig wees’ (Deuteronomium 6:25 NLV). Ons het daardie geregtigheidstoets absoluut gefaal! ‘Die Here ons geregtigheid,’ het egter ons oplossing geword. ‘Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom’ (2 Korintiërs 5:21 AFR53). Dis slegs in Jesus wat ons die geregtigheid van God word! Jy moenie reg optree sodat jy geregverdig voor God kan voel nie, of sodat jy ‘n voorraad goeie werke kan opbou om te gebruik wanneer jy dit nodig ag nie. Jy moet deurentyd van die ‘geregtigheid’ wat Christus in jou rekening deponeer, gebruik. Dis nutteloos om binne-in jouself vir nederigheid, geduld, goedheid, liefde ens te soek. Dis nie daar nie! Jy moet hulle deur geloof uit die voorraad wat Jesus vir jou gestoor het, kry. Skuldige harte kan vergifnis daaruit kry, angstige siele kan vrede daaruit kry en moeë geeste kan krag uit Jehova Tsidkenu kry. Jy het redding alleenlik deur geloof gekry. Op dieselfde manier moet jy geregtigheid en alles anders wat jy mag nodig kry, deur geloof in dit wat God vervul het en vir jou gestoor het in Jesus, Die Here ons geregtigheid, kry!

Sielskos: Jos 16:1-19:23; Luk 20:9-19; Ps 20; Spr 23:10-12