2019-11-04
Lukas 6:28 NLV
Aand na aand is Marie deur haar pa aangerand wanneer hy in ‘n dronk woedeaanval van die kroeg af by die huis gekom het. Die eerste kans wat sy dus kon kry, het sy die huis verlaat. Na genoeg tyd, het haar fisiese letsels begin genees, maar emosionele letsels kan ‘n leeftyd hou. Hulle kan jou in die verlede vasgevang hou en jou waardevolle verhoudings kos. Selfs die mense wat vir jou lief is kan moeg raak en wanhopig voel dat jy nooit gaan beter word, ten spyte van hulle beste pogings om jou te help nie. Ken jy so iemand? Is jy daardie iemand? Wil jy vorentoe na genesing en vreugde beweeg? Jy kan. Marie het dit gevind toe sy besluit het om haar pa te vergewe en vir hom begin bid het. Dis toe dat sy begin het om geestelik en emosioneel heel te word. Sy het aangehou om hom te vergewe en vir hom te bid, totdat haar ou herinneringe haar nie meer gevange gehou het nie. Jesus het gesê: ‘…Bid vir hulle wat julle seermaak.’ Jy mag dalk niks gedoen het om dit te veroorsaak of te verdien nie, jou oortreder kon jou vir redes wat jy dalk nooit sal verstaan nie seergemaak het. Dis hoekom Jesus op die kruis gebid het: ‘…Vader, vergewe hulle, want hulle besef nie wat hulle doen nie!…’ (Lukas 23:34 NLV). Dit laat nie jou oortreder daarmee wegkom nie. Hulle sal met die skuld van wat hulle gedoen het lewe en tensy hulle vir vergifnis na God toe draai, sal hulle geen vrede ervaar nie. Jy sal egter vrede hê! Wanneer jy besluit om iemand te vergewe en vir hulle te bid, neem jy jou mag terug en eis weer jou lewe vir jouself op.
Sielskos: 1 Kro 7:20-9:44; Joh 8:31-41; Ps 30; Spr 25:13-17
2019-10-08
Psalm 134:1 NLV
Die laaste vers van die laaste Psalm in die Bybel sê: ‘Laat alles wat lewe, die Here loof! Loof die Here!’ (Psalm 150:6 NLV). Dit beteken dat jy, so lank as wat jy lewe, geroep is om God te aanbid. Sommige van ons is geroepe om lofprysers in die kerk te wees, terwyl ander van ons geroepe is om werkers te wees. Terwyl almal van ons geroepe is om God te aanbid, is sommige van ons meer geneig om dit deur lofprysing te doen, terwyl ander meer geneig is om dit deur dade te doen. God tel albei as dade van diens. Die Psalmdigter het gesê: ‘Prys die Here, alle dienaars van die Here. Julle wat snags diens doen in die huis van die Here, verhef julle hande in die heiligdom en prys die Here’ (Psalm 134:1-2 NLV). Let die woorde ‘dienaars van die Here’ op. Hoe was hulle besig om Hom te dien? Deur Hom te aanbid. Die Westminster Geloofsbelydenis sê: ‘The chief end of man is that he might glorify God.’ Daar is baie maniere om dit te doen: ‘Hy wat ‘n dankoffer bring, eer My…’ (Psalm 50:23 NLV). Aanbidding is soos ‘n termostaat; dit skep ‘n klimaat waarin God se teenwoordigheid ervaar en geniet kan word. Dawid het gesê: ‘Ek wil die lof van die Here verkondig. Met alles wat binne-in my is, wil ek sy heilige Naam verheerlik. Ek wil die Here prys en nie sy goeie dade vergeet nie’ (Psalm 103:1-2 NLV). Wat ‘n voordelige pakket! Vergifnis, genesing, redding en beskerming. Hoe ontvang ons hierdie voordele? Deur aanbidding. Wanneer ons die Here seën, seën Hy ons. Wanneer jy Hom dus aanbid, dien jy God.
Sielskos: 2 Sam 14:21-17:13; Joh 3:1-21; Ps 89:15-37; Spr 23:15-18
2019-05-31
Lukas 6:23 DB
Wanneer jy sleg behandel word, vra jouself altyd af: ‘Wat kan ek uit hierdie ervaring leer? Hoe reageer ek op ‘n Christelike manier? Is ek gewillig om my foute te erken? Hoe kan ek wyser word en soortgelyke ervarings in die toekoms beter hanteer?’ Wanneer alles gedoen en gesê is, is die sleutel tot ‘n misverstand vergifnis. Vergifnis beteken nie noodwending dat jy met die persoon wat jou mishandel het saamstem of ‘n nabye verhouding met hom wil hê nie. Dit beteken egter dat jy dit laat gaan. Moenie die handvatsel laat uitsteek wanneer jy die strydbyl begrawe nie! Met ander woorde, moenie net vergewe nie – kies om te vergeet! Paulus sê: ‘Soos ‘n atleet wat sy oë net op die wenpaal hou, so span ek alles in my in: ek wíl die prys aan die einde kry… So behoort volwasse Christene oor dinge te dink… laat ons nie nou die verkeerde pad vat nie. Laat ons op die regte pad bly’ (Filippense 3:14-16 DB). Hoe lyk die Christelike pad wat ons moet stap? Jesus sê vir ons: ‘Julle is gelukkig as ander mense julle haat, julle verstoot en julle sleg behandel. As hulle julle beledig en julle goeie naam onder hulle voete vertrap omdat julle my volgelinge is, moet julle baie bly wees. Spring dan op en dans rond van vreugde, want daar wag ‘n groot beloning op julle in God se nuwe wêreld. Wanneer mense julle slegsê, is julle in baie goeie geselskap: God se boodskappers is nog altyd so behandel’ (Lukas 6:22-23 DB). As jy op hierdie manier lewe, neem jy ook jou mag terug deur te weier dat die ander persoon jou bui en jou lewensuitkyk dikteer, en jy behou jou vreugde.
Sielskos: Op 10-14; Mark 10:35-52; Ps 4; Pro 12:25
2019-05-22
Psalm 130:4 DB
Die Psalmdigter het geskryf: ‘Ek is in groot moeilikheid. Help my asseblief, Here. Moet asseblief nie my probleem miskyk nie. Wys dat U my hulpgeroep hoor. As U die hele tyd mense oor hulle sondes moes verwyt, sou niemand meer kon lewe nie. Gelukkig vergewe U ons sondes. Daarom kyk mense op na U en dien hulle U’ (vers 1-4 DB). God se vergifnis is egter nutteloos, totdat jy dit deur geloof ontvang – en dan jouself vergewe! Jy sê: ‘Maar wat van my verlede?’ Die oomblik wat jy God se vergifnis ontvang, het jy nie meer ‘n verlede nie – jy het net ‘n toekoms. Jy moet egter drie dinge doen: 1) Besef dat almal misluk. Simson het misluk omdat hy te naby aan die verkeerde vrou gekom het (sien Rigters 16). Jona het misluk deur te probeer om van sy roeping af weg te hardloop (sien Jona 1:3). Petrus het misluk toe hy Jesus verloën het (sien Matteus 26:34). Tog het God hulle vergewe en elkeen tot sy verheerliking gebruik. 2) Jy moet jou emosies prosesseer. Spyt: ‘As ek dit maar net nie gedoen het nie.’ Frustrasie: ‘Ek het my beste gedoen. Hoekom was dit nie goed genoeg nie?’ Selfbejammering: ‘Niemand is lief vir my nie so ek gaan net hier sit en my wonde lek.’ Verlamming: ‘Ek het dit te dikwels gedoen. My fout is te groot. Ek sal nooit daaarby verby kom nie.’ Jou emosies jok vir jou – moenie hulle glo nie! 3) Wanneer jy val, staan weer op. ‘Selfs al val ‘n regverdige mens sewe keer, hy sal elke keer weer opstaan…’ (Spreuke 24:16 NLV). Let op – regverdige mense val ook! Is jy gereed om op te staan en weer te probeer? Dan sal God saam met jou werk.
Sielskos: 1 Kon 12-13; Mark 9:1-13; Ps 128; Spr 12:10-11
2019-03-25
Romeine 12:19 DB
Wraak is God se werk, nie joune nie. Hy sal vergeld – of dit nou op die Oordeelsdag of in hierdie lewe is. Hy kan jou beledigende baas dissiplineer, ‘n woedende ouer laat versag, of jou eks tot op sy knieë of tot haar sinne bring. Vergifnis verminder nie geregtigheid nie; dit vertrou dit aan God toe. Hy waarborg die regte hoeveelheid vergelding. Ons gee te veel of te min, maar Hy het die presiese resep. Anders as ons, gee Hy ook nooit oor ‘n persoon op nie. (Iets waaroor jy baie bly behoort te wees). Dis God se werk om jou vyande reg te ruk. Dis jou werk om jou vyande te vergewe. ‘Moenie net regsit om ander mense in eie munt terug te betaal as hulle iets verkeerds aan julle gedoen het nie. Doen liewer goeie dinge sodat ander mense kan sien dat julle God dien. Doen van julle kant af alles in julle vermoë om in vrede met ander mense te leef. Laat staan al julle wraakplanne, my liewe broers en susters. Dit pas glad nie by gelowiges nie. Los sulke dinge vir God. Daar staan immers in die Bybel: ”Ek alleen het die reg om te straf; Ek sal wraak neem,’ sê die Here. ‘As jou vyand honger is, moet jy sorg dat hy iets te ete kry. As hy dors is, moet jy hom iets gee om te drink. As jy dit doen, sal jy hom verskriklik skaam maak.’ Moenie toelaat dat dit wat sleg is in jou lewe die oorhand kry nie…’ (verse 17-21 DB). Die skrywer Max Lucado sê: ‘Wraak bou ‘n lang, smal huis met net genoeg spasie vir een mens. Die lewe van die inwoner word op een doel gefokus: Maak iemand se lewe ellendig. Op die ou einde is dit egter net sy eie lewe wat hy ellendig maak.’
Sielskos: Job 40-42; Luk 19:37-44; Ps 69:1-18; Spr 8:27-29