Vermy ‘wulke’

2020-10-11
Spreuke 22:24 NLV

Het jy al ooit ‘n oesterskulp sonder ‘n oester gesien en gewonder hoe die oester uitgekom het? Kyk uit vir ‘n klein gaatjie wat aan die bokant van die skulp deur ‘n wulk (‘n soort seeslak), gemaak is. Hierdie klein slakkie het ‘n aanhangsel wat soos ‘n handboor werk. Die wulk boor daarmee in die bokant van die skulp en suig die oester deur die gat uit, bietjie vir bietjie, totdat die oester heeltemal opgeëet is.

Moenie toelaat dat iemand se woede-uitbarstings of kritiese opmerkings ‘n gat in jou goeie gesindheid boor en jou sonnige lewensuitkyk by jou steel nie. As jy nie versigtig is nie, kan jy geïrriteerd word tot op die punt waar bitterheid in jou begin borrel. Dit kan gevaarlik vir jou gesondheid wees.

Daar is ‘n berg mediese bewyse dat sekere tipes depressie eenvoudig woede is wat inwaarts gedraai word. Die Bybel sê: ‘Moenie vriende maak met ‘n humeurige mens nie. Bly ver weg van een wat ongeduldig is. Jy moenie dalk sy maniere by hom aanleer nie. Dit sal die oorsaak word van jou eie ondergang’ (verse 24-25 NLV).

As jy wys is, sal jy probeer om mense wat negatief en kwaad vir die lewe is, te vermy, asook mense wat lyk of hulle plesier daarin vind om jou af te kraak. Met ander woorde – vermy wulke!

John Mason skryf: ‘Een manier om van ongewensde bagasie ontslae te raak, is om jou gedagtes van die dinge wat teen jou is, te onttrek. Wanneer jy aan negatiewe faktore dink, gee jy hulle krag wat hulle nie waarlik besit nie. Om oor jou wrokke te praat, bou hulle net verder op. Wy jouself aan God se vergifnis, plan en Woord toe. Jy sal dan sien hoe jy los van voormalige ‘taai’ situasies, raak.’

Sielskos: Luk 1:26-38; Luk 2:25-35; Luk 2:41-51; Acts 1:13-14

Vergewe hulle en bevry jouself

2020-04-26
Markus 11:25 NLV

Wanneer iemand ons seermaak, is ons natuurlike reaksie om hulle óf terug seer te maak, óf om te hoop dat hulle sal ly vir dit wat hulle ons aangedoen het. As verloste kinders van God is dit egter die verkeerde reaksie. Dis dan wanneer ons besef dat vergifnis nie maklik of natuurlik kom nie; dit verg bonatuurlike genade van ons kant af. Waar kry ons dit? Deur gebed! Jesus het gesê: ‘Maar wanneer julle besig is om te bid, vergewe eers enigeen teenoor wie julle ‘n grief het. Dan sal julle hemelse Vader ook julle oortredings vergewe.’ Wanneer jy God se genade teenoor jou onthou, het jy geen keuse as om dieselfde genade aan die persoon wat jou seergemaak het, te bewys nie. Iemand het een keer gesê: ‘Vergifnis is ‘n besluit om ‘n gevangene vry te laat en dan agter te kom dat die gevangene jy is.’ As jy dus die begeerte het om iemand te vergewe, raak opgewonde; die Heilige Gees het alreeds die helfte van die werk gedoen. Om die ander helfte te doen, moet jy nederig word en bid: ‘Vader, ek staan elke begeerte wat ek het om wraak te neem, teë. U het die situasie gesien voor dit gebeur het en in u oneindige wysheid het U toegelaat dat dit gebeur. U Woord sê dat U ‘…alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat [U] liefhet…’ (Romeine 8:28 NLV), dus, met die hulp van die Heilige Gees, vergewe ek hulle van hierdie oomblik af vorentoe. Ek sal nie oor die situasie tob nie, maar eerder u Woord daaroor spreek.’ Dit word ‘n ‘gebed van bevryding’ genoem. Jy bevry nie net jou oortreder nie; jy bevry en herposisioneer ook jouself om in God se seën te stap. Dis hoekom jy hulle moet vergewe!

Sielskos: Matt 5:8; Ps 24:3-6; 2 Pet 3:3-14; Ps 51:10

Bid voor die versoeking kom

2020-02-01
Lukas 22:40 NLV

Jy kan jou beste gesig opsit in ‘n poging om ander mense te oortuig dat jy beter doen, maar diep binne-in jou weet jy in watter areas jy die meeste in die versoeking kom en misluk. As jy regtig eerlik met jouself is, is die kans goed dat jy telling in jou gedagtes hou. Ander mense mag jou dalk ‘n A of ‘n B op jou rapport gee, maar jy druip jouself. Wanneer dit te gereeld gebeur, kom jy op die plek waar jy begin dink: ‘Wat is die punt om God om vergifnis te vra? Ek gaan net dieselfde sondes oor en oor pleeg en weer na Hom toe moet teruggaan.’ Daar is egter ‘n oplossing. Jesus het vir sy dissipels gesê: ‘…Hou aan bid dat julle nie in die versoeking beland nie’ (sien Matteus 26:41 NLV). Met ander woorde, bid voor die versoeking kom en jy sal krag kry en bewapen word om dit te hanteer. ‘Maar ek het al daaroor gebid!’ antwoord jy. Bid dan meer! Voor Jesus die storm op die see van Galilea gekalmeer het, het Hy die hele nag in gebed deurgebring. Skakel jou televisie, jou rekenaar, jou selfoon en enige ander afleidings af en spandeer tyd met God. Jy kan ‘n punt in gebed bereik waar jy ‘weet’ dat God jou die krag wat jy nodig het gegee het en dat oorwinning verseker is. Paulus het gesê: ‘Kom ons gaan dan met volle vrymoedigheid na die troon van ons genadige God. Hy sal aan ons sy deernis en onverdiende goedheid bewys sodat ons op die regte tyd gehelp sal word’ (Hebreërs 4:16 NLV). Wat het jy nodig sodat jy nie sal misluk nie? God se genade om jou te vergewe – en sy hulp om versoeking teen te staan. Bid dus voor die versoeking kom en God sal jou ‘n oorwinnaar maak.

Sielskos: Jes 30-33; Matt 11:20-30; Ps 107:23-32; Spr 3:25-26

Jou vergifnis is gewaarborg

2020-01-31
1 Johannes 1:9 NLV

Ten spyte van ons beste bedoelings en pogings, skiet ons te kort aan God se vereistes (sien Romeine 3:23). Wat is dus die antwoord? ‘As ons beweer dat ons nie sonde het nie, mislei ons onsself en leef ons nie volgens die waarheid nie. As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van elke verkeerde optrede. As ons beweer dat ons tot nou toe nie gesondig het nie, maak ons Hom tot ‘n leuenaar. Dit beteken ook dat sy woord nie in ons lewe plek gekry het nie’ (1 Johannes 1:8-10 NLV). Wanneer dit by God se vergifnis kom, is dit beter om te weet as om te voel. God se vergifnis werk as volg: Bewustheid van sonde lei tot oortuiging van sonde. Oortuiging van sonde lei tot belydenis van sonde. Belydenis van sonde lei tot reiniging van sonde en reiniging van sonde lei tot vrymoedigheid voor God (sien 1 Johannes 3:21-22). Jy sê: ‘Ek voel nie waardig om God se vergifnis te ontvang nie.’ Jy sal nooit waardig daarvoor wees nie! God se vergifnis is nie op jou waardigheid gebaseer nie, maar op Christus s’n! God is ook nie soos jou ouers nie; Hy dring nie daarop aan om jou vir ‘n tydperk te straf sodat jy jou les kan leer voor Hy jou vergewe nie. Dit sou beteken dat jy deel daaraan gehad het om sy vergifnis te verdien. Jy ontvang dit deur genade en slegs deur genade (sien Efesiërs 2:8-9). ‘Genade’ beteken ‘onverdiende guns.’ Wanneer God jou dus vergewe, eer Hom deur jouself te vergewe en aan te beweeg.

Sielskos: Jes 26-29; Matt 11:10-19; Ps 107:17-22; Spr 3:21-24

Hoe om God se vergifnis te ontvang

2020-01-13
Psalm 32:5 NLV

Toe God Dawid se owerspel en moord vergewe het, het hy geskryf: ‘Geseënd is die mens wie se opstand vergewe is, wie se oortredings afgeskryf is. Geseënd is die mens wie se sonde die Here nie toereken nie, in wie se lewe daar geen bedrog is nie! Toe ek oor my sonde stilgebly het, het my liggaam gekwyn van ellende, het ek die hele dag lank gekreun. Dag en nag was u hand swaar op my. My krag het verdwyn soos water in somerhitte. Maar ek het my oortredings bely, my sonde nie weggesteek nie. Ek het gesê: ‘Ek bely my opstand teen die Here.’ En my sonde en oortredings het U vergewe’ (verse 1-5 NLV). Onbelyde, onvergewe sonde sal jou aaklig laat voel. Wanneer jy dit egter bely het en God se vergifnis ontvang het, behoort jy baie beter te voel. Hoekom voel ons dus so sleg? Baie keer is dit as gevolg van die manier wat ons grootgemaak is. Ons het grootgeword met woorde soos: ‘Ek hoop jy voel sleg oor wat jy gedoen het!’ of ‘Skaam jou!’ As dit ‘n groot oortreding was, kon jy selfs vir ‘n hele ruk gehok gewees het. Ons is met ander woorde geprogrammeer vir langtermyn skuldgevoelens. Die goeie nuus is dat God se vergifnis nie so werk nie. Die oomblik wat jy jou sonde bely, word jy skoongewas daarvan en kan jy met volle vertroue voor God staan. Moenie toelaat dat Satan jou aanhou veroordeel nie. Weier om rond te loop met gevoelens van skuld en skaamte. Bely soos die Psalmdigter jou sondes voor God en ontvang sy vergifnis. Lewe dan vry, met selfvertroue en vreugde!

Sielskos: Eks 13-15; Matt 6:9-18; Ps 71:17-24; Spr 2:3-5