Vermy ‘wulke’

2020-10-11
Spreuke 22:24 NLV

Het jy al ooit ‘n oesterskulp sonder ‘n oester gesien en gewonder hoe die oester uitgekom het? Kyk uit vir ‘n klein gaatjie wat aan die bokant van die skulp deur ‘n wulk (‘n soort seeslak), gemaak is. Hierdie klein slakkie het ‘n aanhangsel wat soos ‘n handboor werk. Die wulk boor daarmee in die bokant van die skulp en suig die oester deur die gat uit, bietjie vir bietjie, totdat die oester heeltemal opgeëet is.

Moenie toelaat dat iemand se woede-uitbarstings of kritiese opmerkings ‘n gat in jou goeie gesindheid boor en jou sonnige lewensuitkyk by jou steel nie. As jy nie versigtig is nie, kan jy geïrriteerd word tot op die punt waar bitterheid in jou begin borrel. Dit kan gevaarlik vir jou gesondheid wees.

Daar is ‘n berg mediese bewyse dat sekere tipes depressie eenvoudig woede is wat inwaarts gedraai word. Die Bybel sê: ‘Moenie vriende maak met ‘n humeurige mens nie. Bly ver weg van een wat ongeduldig is. Jy moenie dalk sy maniere by hom aanleer nie. Dit sal die oorsaak word van jou eie ondergang’ (verse 24-25 NLV).

As jy wys is, sal jy probeer om mense wat negatief en kwaad vir die lewe is, te vermy, asook mense wat lyk of hulle plesier daarin vind om jou af te kraak. Met ander woorde – vermy wulke!

John Mason skryf: ‘Een manier om van ongewensde bagasie ontslae te raak, is om jou gedagtes van die dinge wat teen jou is, te onttrek. Wanneer jy aan negatiewe faktore dink, gee jy hulle krag wat hulle nie waarlik besit nie. Om oor jou wrokke te praat, bou hulle net verder op. Wy jouself aan God se vergifnis, plan en Woord toe. Jy sal dan sien hoe jy los van voormalige ‘taai’ situasies, raak.’

Sielskos: Luk 1:26-38; Luk 2:25-35; Luk 2:41-51; Acts 1:13-14