Wanneer dit lyk of ongeregtigheid seëvier

2021-09-08
Psalm 103:6 NLV

Toe O.J. Simpson van die moord op sy voormalige vrou, Nicole Brown, aangekla is, het die jurie hom onskuldig bevind. Nicole se ma het gehuil en gesê: ‘God, waar is U?’ Dis ‘n vraag wat ons vra wanneer die lewe soms onregverdig lyk.

Die Bybel antwoord ons vraag as volg: ‘Want God gaan elke daad beoordeel, ook wat jy in die geheim gedoen het, of dit goed is of kwaad’ (Prediker 12:14 NLV). Ons wil egter nou geregtigheid hê. Dus sukkel ons, ons bevraagteken en ons twyfel. Die Psalmdigter het dit ook gedoen’: ‘Hoe lank nog sal julle onregverdige beslissings vel en die goddeloses bevoordeel? …Verdedig die saak van die hulpelose en die behoeftige’ (Psalm 82:2-3 NLV).

Ons stoei met sulke vrae, omdat hulle nie maklike antwoorde het nie. Een-en-twintig Psalms later skryf Dawid, wat vergewe en herstel is nadat hy owerspel en moord gepleeg het, die volgende: ‘Die Here laat regverdigheid geskied, en reg aan almal wat verdruk word… Die Here is barmhartig en genadig, geduldig en vol onfeilbare liefde. Hy sal ons nie voortdurend aankla, of vir altyd kwaad wees nie. Hy straf ons nie vir al ons sondes, en vergeld ons nie volgens ons oortredings nie. Want so ver soos die hemele van die aarde af is, so groot is sy onfeilbare liefde teenoor hulle wat Hom dien. So ver as die ooste is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredings. Soos ‘n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor hulle wat Hom dien. Hy weet waarvan ons gemaak is; Hy weet dat ons net stof is’ (Psalm 103:6-14 NLV).

Dieselfde genade en barmhartigheid wat God teenoor jou bewys, bied Hy ook aan die een wat jou seergemaak het.

Sielskos: Eseg 31-33; Luk 20:20-26; Ps 27; Spr 20:5-6

Belydenis is goed vir die siel

2021-08-02
1 Johannes 1:9 NLV

Die Sondagskoolonderwyser, Ranai Carlton, skryf: “Ek was besig om die kinders te probeer leer dat ons almal God se vergifnis nodig het. Dus het ek een van die dogters gevra: ‘Lisa, wanneer is ‘n tyd wanneer jy dalk God se vergifnis mag nodig kry?’ Die frons op haar gesig het my seun genoop om te antwoord: ‘Jy hoef nie vir haar te sê nie, Lisa. Ons hoef nie ons probleme te vertel nie. Hierdie is nie die Oprah Winfrey Show nie.'” Jy hoef nie vir ander mense van jou sondes te vertel nie, maar jy moet vir God daarvan vertel.

Belydenis bring vier dinge mee: 1) Dit laat jou God se vergifnis ervaar. Hy ken reeds jou sonde, maar Hy kan jou nie vergewe as jy die blaam probeer verskuif of verskonings daarvoor maak nie. Jy moet die eerste skuif maak.

2) Dit herstel jou emosionele en fisiese energie. Niks is meer dreinerend as ontkenning nie en niks is meer verkwikkend as ‘n skoon bladsy nie. Toe Dawid oor sy owerspel met Batseba nadink, het hy gesê: ‘Toe ek oor my sonde stilgebly het, het my liggaam gekwyn van ellende… maar ek het my oortredings bely… En my sonde en oortredings het U vergewe’ (Psalm 32:3-5 NLV).

3) Dit laat jou toe om aan te beweeg. Belydenis laat jou toe om oor te begin. Dis belangrik om ‘n lyn tussen die verlede en die toekoms te trek, vir ingeval jy in die versoeking kom om weer agteruit te beweeg.

4) Dit laat jou groei. Thomas Edison het gesê dat mislukking hom 10,000 maniere geleer het om nie ‘n gloeilamp te maak nie. Om mislukking toe te laat om vir jou, nie teen jou te werk nie, begin deur voor God te bely en sy vergifnis te aanvaar.

Sielskos: Deut 18-21; Luk 10:38-42; Ps 78:40-55; Spr 16:32

Jy moet met genade reageer

2021-04-13
2 Petrus 3:18 AFR83

Hoe hanteer ons die seer wat in die verlede in ons verhoudings plaasgevind het? Hoe kombineer twee mense aparte en unieke perspektiewe om ‘n bevredigende en liefdevolle verhouding te skep?

Daar is ‘n baie spesiale bestanddeel genaamd ‘genade’ wat by die mengsel bygevoeg moet word. Dit vereis dat jy aan die ander persoon dieselfde genade bewys as wat God aan jou bewys. Dit gee krag aan diegene wat sukkel om funksioneel in areas te wees waar hulle in die verlede disfunksioneel was. Genade herstel die hart en los die probleme van ‘n gefolterde gees op. Dit is liefdevolle barmhartigheid en vergifnis. Dis die Guns van God.

Soos Hy dit aan ons skenk, moet ons dit ook aan ander gee wat ons medelye en liefde nodig het. Ons is almal in sekere areas gebroke en ons moet leer om dit te aanvaar en ander te help om die gebrokenheid in hulle te herstel.

Petrus het nie geglo dat hy in staat was om sy Here te verraai nie. Hy het gesweer dat hy dit nooit sou doen nie. Jesus het dit egter nie net voorspel nie, maar ook beloof om vir Hom te bid totdat hy ten volle tot inkeer gekom het (sien Lukas 22:32).

Ons word ook geroep om dit te doen; om aan ander onvolmaakte mense dieselfde liefde en genade te bewys as wat aan ons bewys is. Paulus het aan die mense in Tessalonika geskryf: ‘Liewe broers en susters, dit is gepas dat ons altyd vir God dankie sê vir julle, want julle geloof hou net aan groei en julle almal se liefde vir mekaar word net groter!’ (2 Tessalonisense 1:3 NLV). Dan voeg Petrus by: ‘Sorg daarenteen dat julle steeds toeneem in die genade…’ Dis ‘n proses, dus moet jy daaraan werk!

Sielskos: Lev 23:26-25:55; Mark 1:35-39; Ps 50:16-23; Spr 10:4-7

Vergeet daarvan en beweeg aan

2021-02-21
Filippense 3:13-14 NLV

Ons almal het ‘n ‘verlede.’ Dis gevul met seer wat ander mense ons aangedoen het, foute wat ons in die moeilikheid laat beland het en dinge waaroor ons so skaam is dat ons dit nie waag om openlik daaroor te praat nie. Wat staan ons te doen?

Daar is net twee dinge wat jy met jou verlede kan doen: fokus daarop, of vergeet daarvan en beweeg aan. As jy vergifnis nodig het, vra God daarvoor, ontvang dit deur geloof, leer uit jou foute en probeer om volgende keer beter te doen. Paulus het geskryf: ‘…een ding is seker: ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê. Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God aan my wil gee omdat Christus Jesus dit vir my verdien het’ (verse 13-14 NLV).

Voor Paulus vir Christus ontmoet het, het hy Christene gevange geneem, tereggestel en kerke toegemaak. Wat erger is – hy is daarvoor betaal! Miskien laat dit jou bietjie beter oor jou verlede voel. Nou het Paulus egter net een doelwit gehad – om homself uit te strek na dit wat voorlê.

Wanneer jy deur sonde misluk, vererger jy jou mislukking deur daaroor te tob en in skuldgevoelens te verdrink. Hoekom? Omdat God vir jou van vergifnis voorsien het! Of jy dus twintig jaar terug of twintig minute terug gesondig het, daar is niks wat jy daaraan kan doen nie, behalwe om God om vergifnis te vra, dit te ontvang, dit agter jou te sit en aan te beweeg. Jy moet gister se foute laat gaan om vandag se seëninge te kan aangryp. Wanneer jy leer om dit te doen, sal jy die lewe geniet soos God dit bedoel het.

Sielskos: 1 Sam 3:1-11; Hand 9:1-9

Vergewe hulle

2020-11-09
Lukas 6:35 NLV

In sy boek, Beneath the Cross of Jesus, vertel A. Leonard Griffith die verhaal van ‘n jong Koreaanse uitruilstudent wat ‘n leier in die Christelike kringe by die Universiteit van Pennsylvania was. Hy het sy woonstel die aand van 25 April, 1958 verlaat om ‘n brief aan sy ouers te pos. Toe hy by die posbus omdraai, het elf tienerseuns met leerbaadjies hom ingewag. Sonder om ‘n woord te sê het hulle hom met ‘n domkrag, pyp en hulle stewels en vuiste begin aanrand en hom vir dood op die sypaadjie agtergelaat. Die gemeenskap in Philadelphia het wraak geëis en die distriksaanklaer het op televisie aangekondig dat hy die doodstraf in die saak sou vra.

Toe het die volgende brief, wat deur die seun se ouers en twintig ander familielede in Korea onderteken is, gearriveer: ‘Ons familie het bymekaar gekom en besluit om hierdie petisie op te stel sodat diegene wat hierdie misdaad gepleeg het, die vrygewigste behandeling moontlik binne die wette van julle regering kry. Om bewys van ons opregte hoop wat in hierdie petisie vervat is te lewer, het ons begin geld spaar om ‘n fonds te skep vir die geestelike, opvoedkundige, professionele en sosiale leiding vir hierdie seuns wanneer hulle vrygelaat word. Ons hoop dit met die gees wat ons van die evangelie van ons Redder, Jesus Christus, wat vir ons sondes gesterf het, ontvang het.’

Hierdie verhaal neem vergifnis na die volgende vlak toe! Dit leer ons ook dat wanneer jy vergewe, jy die sitplek van die slagoffer prysgee en die sitplek van die oorwinnaar inneem. Dis wat Jesus ook vir jou vandag in gedagte het!

Sielskos: 1 Kro 6:1-7:19; Joh 9:13-23; Ps 115; Spr 25:23-25